Logo
Welvaartskeppers
web uni tv guide

Welvaartskeppers

144FinansiesPG13

Is kwalifikasies werklik nodig? – Welvaartskeppers

Nuus
21 April 2022
Is kwalifikasies werklik nodig om welvaart te skep? Hier is wat Welvaartskeppers se PJ Botha te sê het.
Welvaartskeppers 1

PJ Botha van Welvaartskeppers het goeie wenke vir dié wat wonder of formele kwalifikasies nodig is om sukses te behaal.

In die derde epside van Welvaartskeppers word die groot vraag gevra: is kwalifikasies werklik nodig om welvaart te skep? “Die kort antwoord is nee,” sê PJ Botha. “Maar dit verhoog tog jou kanse tot sukses.”



Hy noem dat groot name soos Apple se Steve Jobs en Microsoft se Bill Gates nie hulle kwalifikasies voltooi het nie, maar tog groot sukses behaal het.

“Maar hulle is dalk die uitsondering op die reël. Ek stel voor dat wanneer ’n persoon die geleentheid kry om ’n kwalifikasie te verwerf, hulle dit moet aangryp want kennis is mag,” sê PJ. “Daar moet egter onthou word dat om ’n kwalifikasie te verwerf persoonlike deursettingsvermoë asook finansiële opofferings verg. ’n Kwalifikasie waarborg ook nie noodwendig ’n werk of bevordering in die werkplek nie.”



’n Paar punte wat vir die Welvaartskeppers-span uitstaan ná die gesprekke in die derde episode, is die volgende:

  • Doen deeglike navorsing oor jou kwalifikasie
    Doen noukeurig huiswerk oor waar jy as ’n loopbaan sien. Meeste beroepe is nie soos wat hulle in flieks uitbeeld nie, so probeer vakansiewerk doen in die veld waarin jy belangstel. Dit is dalk nie ’n slegte idee om ’n oorbruggingsjaar te neem voordat jy finaal besluit nie.
     
  • Jy het in die verkeerde rigting studeer, wat nou?
    In jou studies leer jy meer as net wat in die handboeke geskryf is. ’n Kwalifikasie vorm ’n manier van dink. Hoewel jy nie altyd gebruik wat jy geleer het nie, vorm dit tog die manier hoe jy dink. Jy kan altyd verder studeer of van rigting verander. Tydens my gesprek met Marlie Coetzee verduidelik sy dat sy met kommunikasiekunde begin het, maar sy toe besef het sy hou eerder van die sake-kant en dit het gelei tot verdere studies om uiteindelik ’n MBA-graad te verwerf. Erik Kruger het as fisioterapeut studeer, maar het toe heeltemal van loopbaan verander en sy eie besigheid in selfontwikkeling-afrigting begin.
     
  • In sekere beroepsrigtings word kwalifikasies vereis
    Marlie Coetzee stel selfs mense met ’n M-graad aan en vir enige ander gespesialiseerde werk gaan jy ook ’n kwalifikasie benodig.
     
  • Vaardighede is meer belangrik as ’n stuk papier
    Tabz Dube het nooit die geleentheid gehad om te studeer nie, maar hy het die vaardigheid van leerwerk, wat hy by sy ouma geleer het, gebruik om ’n suksesvolle besigheid te bou.
     
  • Bly ewig ’n student
    Die leerproses stop nie by universiteit of ’n kursus nie. Jy moet aanhou leer in jou beroep om in aanvraag te bly. Erik Kruger het ook daarna verwys – dat jy iemand moet kry wat jou help om te sien waaraan jy kan werk en waar jy voortdurend kan verbeter.

Geo en PJ Botha gesels oor hoe belangrik, indien enigsins, ’n kwalifikasie is om in die toekoms welvaart te kan skep – kyk hier onder:

“Dit herinner my aan hierdie storie,” sê PJ. “As jy sukses vergelyk met ’n gat wat jy in die sand wil grawe, kan jy die gat met jou hande grawe, wat moeilik en tydsaam gaan wees. Maar jy sal dit met harde werk gedoen kry. Indien jy ’n kwalifikasie verwerf, is dit soos om ’n graaf by te kry. Dit maak die taak van ’n gat grawe net so bietjie makliker. Indien jy egter net gaan rondstaan met jou graaf, gaan jy ook nie sukses behaal nie. ’n Sterk wil om hard te werk tesame met uithouvermoë, is die resep vir persoonlike sukses.”

Die Welvaartskeppers saai Donderdae om 17:30 uit op kykNET, DStv-kanaal 144. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Welvaartskeppers.