Logo
Welvaartskeppers
web uni tv guide

Welvaartskeppers

144FinansiesPG13

Is eiendom ’n goeie belegging of nie? – Welvaartskeppers

Nuus
05 Mei 2022
Geo Botha, mede-aanbieder van Welvaartskeppers, verduidelik waarom eiendom ’n goeie belegging is aldan nie.
Welvaartskeppers

 

“Dis ’n vraag wat ons dikwels kry wanneer kliënte hulle beleggingsportefeuljes wil uitbrei,” sê Geo Botha. “Oor die jare het huispryse in Suid-Afrika gereeld verhoog en as jy ’n goeie huurder gehad het, kon jy goeie geld maak. Meer onlangs is dit egter ’n meer ingewikkelde gesprek: huispryse in sekere gebiede het ’n paar jaar terug ’n hoogtepunt bereik, die aanbod het toegeneem, die gesprek oor grondonteiening sonder vergoeding is nog op die tafel en hedendaagse mense beweeg baie rond en wil nie geografies aan ’n eiendom gebind word nie.”

In die vierde episode van Welvaartskeppers is daar met twee kenners in die eiendomsmark gepraat. Armond Boshoff is onlangs aangestel as die uitvoerende hoof van Atterbury Property. Nadat hy aktuarieël by Tukkies en toe sy MBA by Oxford Universiteit voltooi het, het hy vir ’n ruk onder die stigter van die groep, Louis van der Watt, gewerk voordat hy die leisels by hom oorgeneem het. Atterbury Property is ’n eiendomsontwikkelingsmaatskappy wat spesialiseer in kommersiële en industriële eiendomme in Suid-Afrika en Europa.



Die ander gas was Kobus Basson, die eienaar van die Kleine Zalze-wynplaas en ook medestigter van De Zalze-eiendomsontwikkeling in Stellenbosch. Hy het wyd gereis en die kennis wat hy opgedoen het, het hy hier in Suid-Afrika kom toepas. Dit het ’n leefstyl-landgoed met residensiële eiendom, ’n gholfbaan asook ’n wynplaas ingesluit.

“In kort het ons geleer dat eiendom wel steeds ’n goeie belegging kan wees,” sê Geo. “Individue moet egter hulle eie situasies ontleed en alle faktore oorweeg voordat hulle die groot besluit neem.

Volgens Geo moet die volgende faktore oorweeg word voordat jy eiendom as deel van jou beleggingsportefeulje insluit:

  • Kostes: 
    Die koste van die huis is bekend en die paaiement is maklik om te bereken. Daar is egter heelwat ander kostes wat beleggers nie in ag neem in hulle begroting voordat hulle eiendom koop nie. Van hierdie kostes kan munisipale-tariewe en -belasting, heffings (levies), onderhoudkostes, bestuurkostes, sekuriteitkostes, versekering, eiendomsagentkostes met die verkoop en so aan insluit.
     
  • Likiditeit: 
    Om ’n eiendom te koop en te verkoop is nie ’n maklike en goedkoop proses nie. Dit kan dikwels maande neem om die regte aanbod te kry en dan nog verdere maande vir die oordrag om voltooi te word. Neem dit in ag voordat jy die besluit maak.
     
  • Bestuur van die eiendom:
    Om ’n huurder en ’n goeie een daarby te kry, is nie maklik nie en vat aandag, beplanning en tyd. Ook wanneer daar wel ’n goeie huurder gevind word, moet die eiendom reg bestuur word in tye van krisis soos ’n geyser wat bars, ’n elektroniese hek wat nie werk nie, pype wat lek, mure wat geverf moet word, geute wat verstop en bure wat kla oor die huurders.
     
  • Jou leefstyl:
    Om aan te sluit by die punt van bestuur hierbo, moet jy bepaal of jy werklik kans sien om die eiendom en sy huurders te bestuur. Dit verg aandag en tyd, iets wat belegging in die markte byvoorbeeld nie verg nie.
     
  • Die geografiese area:
    Deesdae bly mense nie hulle hele lewe in een stad of dorp nie. Hulle beweeg dikwels rond binne en selfs buite die grense van ons land. Die gesegde “ver van jou goed, na aan jou skade” is hier relevant en dit is moeilik om te weet presies wat met jou eiendom gebeur as jy duisende kilometers ver is.
     
  • Geleentheidskoste: 
    Daar moet ook met ander beleggings gekyk en vergelyk word en kyk wat jy met die kapitaal kon doen. Een voordeel wat eiendom bo ander beleggings het, is die hefboom effek waar jy byvoorbeeld met R200 000 ’n eiendom van R2miljoen kan koop en dan jou inkomste te gebruik om ’n lening by die bank aan te gaan vir die uitstaande bedrag .

“Om eiendom te koop is n groot besluit en kan ’n baie bevredigende een wees,” sê Geo. “Maak seker jy doen jou huiswerk, oorweeg alle faktore en nadere kundiges voordat jy hierdie stap neem.”

So moet jy in eiendom belê? Vind uit in die video hier onder:

Die Welvaartskeppers saai Donderdae om 17:30 uit op kykNET, DStv-kanaal 144. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #Welvaartskeppers.