Logo

Inskrywings vir die 10de kykNET Silwerskermfees nóú oop!

Nuus
07 Februarie 2020
Die kykNET Silwerskermfees vier vanjaar ’n dekade van uitsonderlike films en talent in die plaaslike vermaaklikheidsbedryf.
SSF-Artwork_Web-Billboard_1600x640

Sedert die begin van die kykNET Silwerskermfees is daar al die afgelope 9 jaar sowat 126 kortfilms vervaardig met meer as 80 vollengte films wat by die fees debuteer het. Vooraanstaande filmmakers soos Christiaan Olwagen(Kanarie, Poppie Nongena), Nosipho Duma(Nommer 37), René en Corné van Rooyen(Vaselinetjie, Alles Malan, Toorbos), Bennie Fourie(Vuil Wasgoed, Hotel) en Amy Jeptha(Soldaat, Ellen: My naam is Ellen Pakkies) het die eerste keer die plaaslike filmbedryf betree as wenners van die gewilde Silwerskermfees kortfilm-projek. Vandag staan elkeen van hierdie filmmakers hul plek vol in die breë Suid-Afrikaanse filmbedryf.

Inskrywings vir die kortfilm-kompetisie, bestaande werke en draaiboeksoek is nóú amptelik oop!

Waarvoor kan jy inskryf:

Vanjaar is die Silwerskermfees kortfilm-projek ietwat anders: Vanjaar is ons opsoek na oorspronklike konsepte van talentvolle filmmakers, met geen voorkeur aan genre nie, en nuwe films tussen  3 – 30 minute lank. Filmmakers met beste konsepte word dan gekies om deel te neem aan ’n skryfskool. Hierdie gekose filmmakers sal dan met hulp van mentors uit die plaaslike filmbedryf aan ’n finale draaiboek werk voordat die beste draaiboeke as kortfilms vervaardig sal word. Dié NUUTGESKEPTE KORTFILMS sal dan tydens die kykNET Silwerskermfees later vanjaar debuteer en in aanraking kom vir verskeie pryse.

Voornemende filmmakers het tot en met 11 Maart 2020 ’n kans om by www.silwerskerm.tv te registreer en voorstelle tussen 250 en 300 woorde elektronies in te handig. Inskrywingsfooi is R500.

Om ’n dekade van die kykNET Silwerskermfees te vier vanjaar sal daar weer ’n geleentheid gebied word vir vervaardigers en filmmakers om enige bestaande werke by die fees in te skryf. Dit sluit enige vollengte, kortfilms en dokumentêre films in. Hierdie BESTAANDE WERKE mag al vantevore internasionaal gewys het maar moet plaaslik debuteer tydens die Silwerskermfees. Vanjaar mag filmmakers ook kies om hul film in te skryf  vir kompetisie as dit aan alle bepalings en voorwaardes voldoen en ‘n allemintige prysgeld van R100 000 wen. Sou jou BESTAANDE WERK wen, sal jy ook die geleentheid kry om jou werk te lisensieer.

Alle vorige deelnemers van die Silwerskermfees mag ook bestaande werke in dien wat nog nie by die fees gewys het nie.

Inskrywings vir alle BESTAANDE WERKE sluit 30 April 2020. Inskrywingsfooi is R500.

Daarby bied kykNET in samewerking met M-Net ’n geleentheid vir voornemende skrywers om ’n oorspronklike draaiboek vir ’n vollengte film vir die DRAAIBOEKSOEK-kompetisie in te skryf. Draaiboeke mag in enige genre val en moet in die regte draaiboek-formaat ingehandig word. Die wenner sal ’n kontantbedrag van R50 000 wen.

Inskrywings vir die DRAAIBOEKSOEK is vanaf nou tot 26 Junie 2020 oop en inskrywing is gratis.

Die 10de kykNET Silwerskermfees vind vanjaar vanaf 24 – 30 Augustus 2020 plaas.

Hoe om in te skryf:

  • Films kan elektronies gelaai word op die aansoekvorm vir BESTAANDE WERKE. Die film moet tot 1 GB saamgepers word en filmmakers of vervaardigers moet kies of hulle in kompetisie wil wees.
  • Voltooi die inskrywingsvorm volledig elektronies. Moenie enige name by jou konsep aandui nie.
  • Betaal die inskrywingsfooi voordat jy jou inskrywing in handig. Geen veranderings word toegelaat na die betaling.

Vind die bepalings en voorwaardes vir NUUTGESKEPTE KONSEPTE, BESTAANDE WERKE EN DRAAIBOEKSOEK deur die skakels te volg. 

Volg die Silwerskermfees 2020 op Facebook, Twitter en Instagram.