Logo
Sara se geheim
web uni tv guide

Sara se Geheim

144Drama7

Hoogtepunte in 2018 op kykNET

Nuus
04 Januarie 2018
Hier is enkele hoogtepunte op vanjaar se kykNET-programskedule.
Sara-Geheim-2018

FOTO: Hoe lank kan ’n mens ’n geheim bewaar? Sara se Geheim keer in 2018 terug vir nog ’n naelbyt-seisoen.

Nuwe jaar, nuwe kykgenot! Januarie 2018 is propvol hoogtepunte, soos die splinternuwe reekse Knapsekêrels, Die Kasteel, Skelmpie en Elders: Die Camino, sowel as nuwe seisoene van bestaande reekse (Op die Spel, Parlement Parlement en Tyd met Aleit).

Dis egter net die begin, want 2018 bied vermaak wat kykers heel jaar lank op die punte van hul stoele sal hou.

Sara se Geheim 2

Maggie probeer steeds om haar gesin bymekaar te hou terwyl sy haar politieke loopbaan voortsit, maar die spanning in haar familie, sowel as haar donker geheim, maak hierdie ’n bykans onmoontlike uitdaging.

Sara doen haar bes om Johan by te staan, terwyl haar verhouding met Lizzie aan die kortste ent trek. Gadija probeer vir Lizzie wys dat Danny nie die man vir haar is nie, en die twee pak ’n avontuur van selfontdekking aan.

Dít alles terwyl die seuns van Astonia-huis moet man staan in die hof en die verhouding tussen Inge en Aiden sterk groei. Gaan die families van hierdie verhouding uitvind? Gaan Sanel en Ebert die stryd teen Alzheimers wen? Het Ricky die voorval oorleef? Hoe lank kan ’n mens jou geheime wegsteek?

Hou kykNET se webblad, Facebook- en Twitter-blad dop vir meer nuus oor die nuwe seisoen van dié gewilde reeks.

Edik van Nantes Winter

Tydens elke Europese winter is Nataniël op sy gelukkigste in Nantes. Maar die afgelope paar jaar is Edik van Nantes nog net tydens die lente en somer verfilm. Vir die eerste keer bring ons die winter, sy geheime, sy kos, tradisies en rituele na die skerm.

Die Franse koue heers vir die grootste deel van die jaar – dís wanneer daar werklik geleef word, wanneer die heerlikste geregte bedien word en die mooiste klere gedra word. Berei jou voor vir ’n dramatiese en visueel aangrypende reeks.

 

Edik van Nantes Winter word vanaf Julie 2018 op kykNET uitgesaai. Hou kykNET se webblad, Facebook- en Twitter-blad dop vir meer nuus.

Die Republiek van Zoid Afrika

Die president van die Republiek van Zoid Afrika, Karen Zoid, keer terug vir ’n nuwe seisoen van hierdie satiriese geselsprogram, waarin sy met haar land se gunsteling denkers, dromers, besluitnemers en ander moedige en merkwaardige mense gesels.

Dis waar die Afrikaners inderdaad plesierig gaan raak met komiese sketse, lekker musiek en geselsies met invloedryke en uitsonderlike mense. Met elke reeks verras Karen kykers met ’n ongewone mengsel van gaste, maar dié keer oortref sy haarself.

 

Hou kykNET se webblad, Facebook- en Twitter-blad dop vir meer nuus oor die nuwe seisoen van dié gewilde geselsprogram.

Fynskrif

Nadat ’n loopbaangedrewe prokureur alles verloor, trek hy en sy familie terug na die dorpie waar hy groot geword het. Hy begin werk by sy pa se familiepraktyk en met die ondersteuning van sy familie bou hy sy lewe en loopbaan weer op. Hy ontdek ook dat die drama in ’n dorpie vir vele opwinding in sy daaglikse werk sorg.

Fynskrif speel af en word verfilm in Bellville, Kaapstad. Hou kykNET se webblad, Facebook- en Twitter-blad dop vir meer.

Spoorloos

Dié 13-episode-drama speel af in ’n dorpie in die Oos-Kaap wat jare lank geteister is deur ’n reeksmoordenaar. Nou, 12 jaar later, nadat die reeksmoordenaar gevang is en net voor die verkiesing van ’n nuwe leier, verdwyn ’n seun sonder ’n spoor en die nagmerrie begin van voor af.

Dis Speurder de Wet, IT-boffin S’bu Zulu en die joernalis Sonja Landman se werk om die reeksmoordenaar op te spoor. In die proses krap hulle ’n sameswering oop wat ’n groot geheim wegsteek.

Die dorpie is verdeel deur twee leiers – een wat finansiële mag het en die ander een wat die moed het om op te staan teen outoriteit. Intussen gaan drie kinders van die dorpie uit op hul eie om die monster wat hulle in die bos gewaar het vas te trek.

Spoorloos word vanaf Februarie in Cradock in die Oos-Kaap verfilm. Hou kykNET se webblad, Facebook- en Twitter-blad dop vir meer.