Logo
KLOP!
web uni tv guide

KLOP!

145GeselsprogramPG13

Hoe Hein dit sien – KLOP!

Nuus
26 Februarie 2020
Ons het met Heindrich Wyngaard gesels oor sy tyd as die aanbieder van KLOP!
1

KLOP! gee vir kykers die geleentheid om suksesstories van hulle eie mense in hulle eie taal weekliks op kykNET&kie te sien. Heindrich se passie vir wat hy doen sowel as sy bereidwilligheid om alledaagse mense die geleentheid te gee om hulle verhale te deel op die kassie is ook duidelik in elke episode. Ons het vir Hein ’n paar vrae gevra oor sy ervaring as aannbieder van dié program tot dusvêr. 

Hoekom dink jy is KLOP! ’n belangrike program om op TV te hê?

KLOP! het sedert sy ontstaan ontpop as die program waarin kykers uit ons teikengehoor ’n geleentheid vir hulle sien om op TV te verskyn, hul prestasies te wys en hul stories te vertel, van die hede en die verlede.

Wie was jou gunsteling gas sovêr?

Dit is moeilik om ’n gunsteling gas te kies omdat elkeen iets unieks bring, maar ’n persoonlike hoogtepunt was my onderhoud met die jazzmusikant Jonathan Butler met wie se musiek ek groot geword het en van wie ek steeds ’n groot aanhanger bly.

Hoekom is dit vir jou lekker om dié program aan te bied?

My passie vir die mense van ons gemeenskappe, veral die wat steeds voel hulle word in die media afgeskeep, maak dit vir my ’n absolute plesier - en groot voorreg - om die rol as aanbieder te vertolk.

Wat maak KLOP! anders as ander aktueel-programme en ‘talk shows’?

KLOP! is ’n plat-op-die-aarde program, sonder om oppervlakkig voor te kom. Geen pretensie, dus, waarmee ek nie ’n waarde-oordeel oor ander programme uitspreek nie.

As jy nie op die kassie was nie, watter ander werk sou jy doen?

Ek sou graag voltyds wou skryf - spesifiek lewensverhale; met ander woorde, wat KLOP! in beeldmateriaal bied, in boekvorm.

Heindrich en sy gaste is elke Woensdag om 20:00 te sien op kykNET&kie. Bly op hoogte met al die gesprekke en volg ons op Facebook, Twitter en Instagram vir meer!