Logo
slim BB kwela
web uni tv guide

Kwêla

144TydskrifprogramPG13 VL

Hier is die finaliste! – #JouKwêlaDorp 2019

Nuus
07 April 2019
Vind meer uit.
Kwela jou dorp Billboard 1600 x 640_2

Die SMS-lyne vir die finale stemme vir #JouKwêlaDorp van die Jaar gaan Sondag, 26 Mei oop en sluit Vrydag 31 Mei 12:00. Stem vir jou gunsteling dorp uit deur die dorpsnaam na 33157 te SMS (SMS’e kos R1,50). Hier is hoe dit werk.

Baie geluk aan Swakopmund wat as Kwêla Dorp van die Jaar 2019 gekroon is.  

Die finaliste is:

Stilbaai (Wes-Kaap):

Op die tuinroete in die Wes-Kaap sal jy hierdie mooi kusdorpie kry, wat ook Die baai van Slapende Skoonheid genoem word. Die Stilbaai-hawe is een van slegs nege in die land wat nog aktief bedryf word. Op enige mooiweersdag sal jy ’n paar kommersiële vissermanne hier aantref. Dit bly ’n gewilde vakansiebestemming met mooi strande, natuurskoon en ’n verskeidenheid watersport-aktiwtiteite. Kom saam Stilbaai toe. Kom saam Stilbaai toe.
 

Uvongo (KwaZulu-Natal):

Uvongo aan die KwaZulu-Natal se kus se natuurskoon is idillies. Die dorp is veral bekend vir sy strandmeer met ’n prentjiemooi waterval in die agtergrond. Die tropiese plantegroei en lekker strande sorg vir ’n verskeidenheid avontuur-aktiwiteite. Die plaaslike reservaat is een van Uvongo se goedbewaarde geheime met 380 inheemse boomspesies sowel as 400 eksotiese boomspesies wat daarin voorkom. Kliek hier en kom kuier saam in Uvongo.  

Patensie (Oos-Kaap): 

In die Suid-Westelike gedeelte van die Oos-Kaap sal jy hierdie landboudorp aantref wat ook as die vrugtemandjie van die provinsie bekend staan. Patensie is een van drie dorpe wat die Gamtoosvallei uitmaak met die Kouga-dam as lewensaar. Die kremetartbome, wat so paar dekades gelede geplant is, is die mees suidelike bome van hulle spesie in die wêreld, terwyl ’n natuurlike profiel van Koningin Victoria in die berge op pad Geelkrans toe ’n unieke besienswaardigheid in dié omgewing is. Patensie het jou stem nodig: Kliek hier. 

Vrede (Vrystaat):

Sowat 216 km suidoos van Johannesburg, tussendeur die groen heuwels, in die Noord-Oos Vrystaat wag hierdie dorpie jou in. Die Vrede-distrik is een van die grootste vleis- en wolproduserende distrikte in die land. Een van haar bekendste landmerke is die eeu-oue sandsteen NG-Kerk. Dis ’n dorp met ’n aktiewe gemeenskap met ’n  tennis-  en rolbalklub wat al selfs nasionale rolbalspelers opgelewer het. Vind vrede in Vrede – kliek hier.
 

Potchefstroom (Noordwes/Gauteng):

Potchefstroom, geleë op die banke van die Moorivier, so 120 km vanaf Johannesburg, is die plek met die pragtige eiekelanings, waar die digter, Totius, se spore nog diep in die dorp lê. Dit is bekend vir akademiese uitnemendheid, studentepret en ’n ryk skatkis van kuns en kultuur, waarvan die jaarlikse Aardklop-kunstefees ’n hoogtepunt is. Potch is nie bloot ’n akademiese dorp nie, maar ook ’n sportdorp. Die Hoë Prestasie Instituut vir Sport lewer menige superatlete op en huisves telkens internasionale sportsterre. Die langafstand Olimpiese atleet, Elroy Gelant, is een van vele groot name wat hier oefen. Verloor jou hart op Potch – kliek hier. 

Sutherland (Noord-Kaap):

In die oop Karoo se Roggeveld bergstreek, 350 km vanaf Kaapstad en 1550 meter bo seevlak lê Sutherland. Dié dorp, wat in 1855 ontstaan het, het groot name soos onder andere die legendariese digter, NP van Wyk Louw, opgelewer. Die Louw-museum bring hulde aan NP en sy broer, W.E.G Louw. Skaapboerdery vorm die rugsteun van die gemeenskap, terwyl die Suid-Afrikaanse Groot Teleskoop, oftewel SALT, Sutherland op die wêreldkaart geplaas het. In Sutherland se sterre en in die atmosfeer hang beloftes van koue aande, mooi stories en lang kuiers. Kliek hier en raak saam met ons verlore saam in Sutherland.

Phalaborwa (Limpopo):

Phalaborwa is ’n bosveldplek met welige plantegroei. Dit is ook die tuiste van die beroemde Afrika maroelaboom. Die dorp word omring deur ’n diverse diereryk, aangesien dit bloot ’n klipgooi van een van die Krugerwildtuin-ingange is. Boonop kan jy ook per vliegtuig by dié laeveld kuierplek uitkom. Die Foskor museum, asook een van die wêreld se grootste oopgroefmyne, onderstreep die rol van mynbou in Phalaborwa se ekonomie en ontstaan. Daar word ook na Phalaborwa as die dorp van twee somers verwys, omdat dit deurlopend warm in die area is. Kliek hier en verken Phalaborwa saam met ons.

Swakopmund (Namibië):

Die Namibiese dorp, Swakopmund, so 280 km wes van Windhoek het aanvanklik as hawedorp in 1892 ontstaan. Die dorp se gematige klimaat kan toegeskryf word aan die feit dat dit tussen die Atlantiese oseaan en die woestyn geleë is. Die Germaanse geboue verklap iets van Swakopmund se Duitse geskiedenis, terwyl die dorp verder spog met een van slegs vyf groen woestyngholfbane ter wêreld. Kom kuier saam met ons in Swakopmund.

Dullstroom (Mpumalanga)

Dullstroom is ’n hooglandjuweel in Mpumalanga sowat 2 100 meter bo seevlak, wat jaarliks professionele langafstandatlete na hierdie area lok. Dullstroom is 263km vanaf Johannesburg geleë wat dit ’n gunsteling toeriste-bestemming vir stadsjapies maak. Dit word gesien as bes moontlik Suid-Afrika se gewildste forelhengelplek.  Die dorp spog met ’n wye reeks buitelug-aktiwiteite, wêreldklas gholfbaan, terwyl dit boonop  die tuiste van die grootste whiskey en horlosie-versameling in die suidelike halfrond, is. Mik hoog en kom saam Dullstroom toe. 

Die pad is lank en ver, maar danksy die KIA Grand Sedona se uitstekende brandstof-verbruik oor langafstande, en die gemak van dié luukse agt-sitplek wa, pak die Kwêla-span tesame met hul toerusting die langpad met breë glimlagte aan. Vind meer hier uit.

Skakel elke Sondag om 18:00 in vir KwêlaHou hierdie spasie weekliks fyn dop vir die volgende finaliste. Maak geraas op sosiale media en spog met jou gunsteling dorp deur die hutsmerk #JouKwêlaDorp te gebruik.