Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160 LeefJouReis
web uni tv guide

Leef Jou Reis

144ReisprogramPG

Het jy geweet? – Leef jou reis 10

Nuus
16 April 2021
Gerrie Pretorius deel ‘n paar interessante feite oor die nuwe reeks.
BB

Wêreldwye reis is dalk nog nie op die agenda nie, maar Gerrie Pretorius en sy span het seker gemaak dat die tiende reeks van dié gewilde reisprogram net so opwindend is soos die vorige. Gerrie deel ‘n paar interessante feite oor die nuwe reeks:

  • Min mense besef dat die Addo-olifant-nasionale park Suid-Afrika se derde grootste nasionale park is. Die olifante daar is ook uniek - die koeie het nie tande nie wat ‘n vreemde natuurverskynsel is.
  • Voëleiland (Bird Island) was in die nuus oor die omstrede boek The boys of Bird Island, maar is in werklikheid bekend as die marine-been van die Addo-olifant-nasionale park en is die tuiste van die wêreld se grootste wit malgas-kolonie. Ons het filmmateriaal van National Geographic gekry met skote van duisende malgasse, dolfyne en selfs walvisse by Voëleiland.
  • Die Baviaanskloof is bekend as ‘n wildernis- en Wêrelderfenis-gebied wat oor 500 000 hektaar strek. Min mense weet egter van die klein groepie mense binne die kloof wat ‘n alternatiewe bestaan maak en van die veld af leef. Hulle boer ook met dagga en ander alternatiewe medisyne.
  • Die Otter-wandelpad is sedert die 1960’s die ikoon van alle staproetes in Suid-Afrika. Stappers kruis, wanneer die gety hoog is, ‘n paar riviere met hulle bagasie op hulle kop. Die natuur is ongerep en een van die min plekke in Suid-Afrika waar jy jou koffiewater uit ‘n silwerskoon rivier kan skep. Min mense weet egter wat hulle te wagte kan wees – van waar jy gaan slaap tot hoe die roetes en uitdagings lyk en natuurlik waar jy vir die loeries moet soek.
  • Mosselbaai-toerisme is vanjaar ‘n borg van Leef jou reis. Hierdie venootskap het ontstaan uit die nood om plaaslike toerisme te bevorder. Ons het diep gaan soek na nog stories in Mosselbaai omdat ons reeds tevore daar besoek afgelê het. Min het ons egter geweet dat ons een van die grootste witdoodhaaie gaan aantref toe ons met ‘n hok in die see afgesak het. Ons gaan ook verduidelik waarom daar deesdae soveel moordwalvisse in Mosselbaai gewaar word.
  • ‘n Eilandvakansie is ‘n droom vir vele en ons het ‘n draai in die Maldives gaan maak. Die Maldives bestaan uit meer as 1200 eilandjies en ons het gaan soek na die plekke ver van die duur vakansieverblyf. Waar bly en eet die gewone mense as hulle die eilande op ‘n knap begroting wil gaan besoek en waar lê die eilande se kultuur?
  • Botswana het die afgelope tyd besonder baie reën ontvang. Thomas Bain sou destyds vir David Livingstone as kunstenaar vergesel en alles teken wat hy sien; dinge wat ons vandag met ‘n kamera doen. Die bekende kremetartbome wat hy geteken het, lê in ‘n enorme meer wat vandag as Nxai-pan bekend staan. Om daar te kom, moet die bakkie as’t ware swem want dis diep en ongekende waters. Ons het op die rand van die Okovango-delta gery om ongelooflike natuurlike te verfilm – van wilde honde tot die skaars lelkraanvoëls, ‘n neushoringvoël wat sy wyfie en kleintjies in ‘n boomstam toegemessel het en olifante wat swem.
  • Ons het vir kykers gaan uitvind wat die nuwe normaal en die magdom voorsorgmaatreëls is wanneer jy na Nederland wil reis. Ons het op ‘n huisboot gevaar en gaan kyk hoe dit lyk wanneer die tulpe in Keuekenhof blom. In die noorde van die land het ons na ou tradisies gekyk en hoe mense nog op klein stukkies grond boer. Ons gaan kykers ook wys hoe lyk Friesland.

Sakel Saterdae om 19:30 in vir Leef jou reis op kykNET (DStv-kanaal 144) en gesels saam op sosiale media met die hutsmerk #LeefJouReis.