Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Henriëtta: ’n Vrou van vele talente – Binnelanders

Nuus
04 Augustus 2021
Henriëtta Gryffenberg is te sien as Wendy Toerien, al die afgelope 20 jaar die vrou in Koos Jonker (Ryno Hattingh) se lewe. Maar daar is veel meer aan dié talentvolle aktrise.
EP41 3

Ons het jou in die vroeë 1990’s gesien as Karen Hattingh in die dramareeks Sonkring. Is daar mense wat jou steeds uitvra oor die reeks en die (gehate) karakter?
Al hoe minder mense. Met die première van die fliek Dominee Tienie was daar ‘n bejaarde man wat my berispe het omdat ek so lelik is met Maryna (Anna-Mart van der Merwe se karakter.) Gelukkig het hy darem ook bygevoeg dat hy van my hou, maar net nie van die karakter nie. Ek het nou die dag op ‘n brief afgekom wat Jan Scholtz vir my ná die skiet van die reeks geskryf het. Daarin het hy my bedank vir my spel en bygevoeg dat ek nooit weer so ‘n rol moet aanvaar nie, want hy was bang dit gaan my tipeer as ‘n aartsfeeks. Die ironie natuurlik is dat dit inderdaad die geval was. Ek het lank gesukkel om die skaduwee van Karen af te skud.

Jy werk voor én agter die kameras en was onder meer verantwoordelik vir die draaiboeke van die TV-reekse Erfsondes en High Rollers. Het jy ‘n voorkeur of is dit soos om tussen jou kinders te kies?
Dit is soos om tussen jou kinders te moet kies. My gunsteling-kind is altyd die een voor my. Ek voel meer geborge as ek skryf. As ek toneel speel, voel ek altyd dat ek nog een take wil doen of nog een optrede wil doen. Asof ek dit nooit regtig 100 persent regkry nie.

Wat is die grootste ding wat jy die afgelope jaar geleer het?
Om te brei. Dit kalmeer my en dan sien ek weer kans vir my dag.

Jy speel teenoor Ryno Hattingh, self ‘n veteraan met dekades se ondervinding. Wat dink jy bring julle na ‘n produksie soos Binnelanders?
Ouderdom? Ons leerskole was anders. Dis altyd goed om skouers te skuur met ander aanslagte en dissiplines.

Waar is die plek waar jy die veiligste voel?
By my huis, my man en my twee seuns.

Wat is die rol wat jy nog graag in jou lewe sal wil speel?
Mag ek twee kies? Martha in Who’s afraid of Virginia Woolf? en Magdalena Otto in Briewe aan ‘n rooi dak. Ek was 37 toe ek die 73-jarige Magdalena in 2001 gespeel het. Ek dink ek sal die rol nou meer gestand doen. Dit sal ook ‘n huldeblyk aan die skrywer Harry Kalmer wees met wie ek gereeld gewerk het.

As jy kyk na die Oscar-wenners van die afgelope 20 jaar, watter rol sou jy graag wou speel?  
Hanna Schmidt in The Reader (die rol wat Kate Winslet gespeel het), maar ek is nou te oud om dit te speel en Selby Wall in Monster (die rol wat Charlize Theron gespeel het), maar ek is ook nou te oud om dit te speel. Lyk my ek is te jonk vir ‘n rol en dan weer te oud.

Wat is jou raad aan jong mense wat graag ‘n loopbaan in die kunste wil volg?
My eerste antwoord is moenie dit doen nie. Dis ‘n moeilike beroep en dit word moeiliker soos wat jy ouer word. As hulle dit dan nog steeds wou doen, sou my raad die volgende wees: Bestudeer jou ambag met passie en tot in die fynste besonderheid. Jy moet alles weet en nog meer en dan moet jy alles vergeet en toelaat dat die kunstenaar in jou die kreatiewe besluite maak. En moet nooit ophou om jouself te vernuwe nie. Moenie staat maak op die truuks wat jy leer nie. Jy kan baie mense kul, maar as jy jou innerlike stem ignoreer, gaan jou werk stagneer.

Wat is die eerte ding wat jy sou doen as jy die Minister van Sport, Kuns en Kultuur word?
Ek sou die streeksrade weer instel.

As die pandemie eers verby is, waarna sien jy die meeste uit?
Om teater toe te gaan.

Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.