Logo

HemelBesem pen titellied vir Noem my Skollie

Nuus
27 Julie 2016
Die titellied vir Noem my Skollie, ’n baanbrekersfilm wat die oorwinning van die menslike gees vier, is deur die bekende rapper HemelBesem neergepen.
HemelBesem Ghost Skollie

FOTO: Lindsey Appolis 


Die titellied vir Noem my Skollie, ’n baanbrekersfilm wat die oorwinning van die menslike gees vier, is deur die bekende rapper HemelBesem neergepen. STUWI W, ’n musiekvervaardiger en beat maker, is vir die musiek verantwoordelik.

HemelBesem het reeds as onafhanklike vervaardiger nie minder nie as vyf Afrikaanse hip-hop-albums vrygestel: Dink ’n Bietjie, Auto-Bio-Grafie, Die Worcester Standard, Evil Is Maklik en die mees onlangse Uwilisimakliki.

Hy het oor die jare saam met talle Afrikaanse hip-hop- en rock-kunstenaars gewerk en is trots op as ’n “edutainer” bekend te staan. HemelBesem is baie by gemeenskapsprojekte betrokke en tree ook gereeld by skole op. Hy is ook betrokke by fetale alkoholsindroom (FAS)-projekte en is ’n ambassadeur vir Kullid – ’n organisasie wat bruin gemeenskappe in Suid-Afrika bemagtig.

“Die proses om die liedjie te skryf was langer as gewoonlik omdat dit moeilik was om die era met hip-hop te kombineer, maar na die eerste probeerslag het dit perfekte sin begin maak,” sê HemelBesem. Dié film speel af in die 1960’s.

“Die liedjie is die storie van die karakter AB, mnr. John W. Fredericks, en myself, asook die uitdagings van die demografie wat ons verteenwoordig. Ek hoop mense sal deur die metafore en vergelykings kan luister en die unieke ‘struggle’ van kreatiwiteit kan sien waarvandaan ek kom. Ek glo die fliek gaan mense se harte en gedagtes aanraak en dat my liedjie dieselfde sal doen.”

Die vervaardigers van Noem my Skollie het HemelBesem gevra om ’n liedjie vir die einde van die film te skryf, om ’n soort kenmerk vir die film te wees en aan te sluit by Kyle Shepherd se musiek in die film.

HemelBesem vertolk die rol van Ghost, die leier van die 26-bende, in Noem my Skollie.

Kyk die lokprent hier.

Die film, wat afspeel op die Kaapse Vlakte en in Pollsmoor-gevangenis, is gebaseer op die lewe van die draaiboekskrywer John W. Fredericks.

Noem My Skollie is vervaardig deur David Max Brown en Moshidi Motshegwa (Maxi-D Productions), in samewerking met M-Net, kykNET, die NFVF en die DTI. Dit word deur Ster-Kinekor Entertainment versprei.

Dit sal vir die eerste keer by kykNET se Silwerskermfees, op 24 Augustus 2016 om 20:00, vertoon word.