Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Hartaanval: Alles wat jy moet weet

Nuus
25 Oktober 2019
Daar was dramatiese oomblikke in Binnelanders toe Conrad Bester (Hykie Berg) ’n hartaanval gekry het.
Conrad Hartaanval Artikel

Volgens die Hartstigting van Suid-Afrika, sterf 225 Suid-Afrikaners elke dag as gevolg van hartverwante siektes. Hulle meld ook dat 80 persent van hartsiektes en beroertes vermy kan word.

Wat is ’n hartaanval?

’n Hartaanval gebeur wanneer ’n bloedvat in die hart skielik geblokkeer word en dit dan die vloei van bloed na die hart belemmer. As gevolg hiervan gaan selle in die hart aan ’n tekort van suurstof dood. Bloedklonte is die mees algemene oorsake van hartaanvalle.

Hartaanvalle word meestal deur koronêre hartsiekte veroorsaak wat weer veroorsaak word deur die opbou van plaak aan die binnekant van die are in die hart. Plaak bestaan uit onder meer cholesterol en dit veroorsaak dat die binnekant van bloedvate met tyd vernou. Die bloedvloei word ingeperk en bloedklonte word veroorsaak deur bloedplaatjies wat opbou. Wanneer die bloedklont losbreek en in die vernoude bloedvate vassteek, gebeur ’n hartaanval.

’n Hartaanval is ’n mediese noodgeval en die eerste minute ná ’n hartaanval is baie belangrik vir die behoud van die persoon se lewe. Van die skade wat aangerig is, kan in die eerste uur herstel word.

Wat is die tekens van ’n hartaanval?

Nie almal het dieselfde simptome nie. Skielike borspyne is die mees algemene simptome, maar in sekere gevalle – soos met vroue en persone met diabetes – kan daar soms geen borspyne wees nie. Daar kan ook ander redes vir borspyn wees en ’n dokter of noodpersoneel soos ambulanswerkers sal die nodige toetse kan doen om vas te stel of dit wel ’n hartaanval is.

Hierdie is volgens die Hartstigting die mees algemene tekens van ’n hartaanval:

  • ’n oorweldigende gevoel van angs;
  • asemtekort;
  • lighoofdigheid;
  • buikpyn en naarheid;
  • die pyn kan na jou skouers, arms, nek en kakebeen versprei;
  • sweet;
  • drukkende borspyn.

Wat moet jy doen as jy dink iemand kry ’n hartaanval?

Die eerste ding wat jy moet doen, is om ’n ambulans te bel. Indien daar nie so ’n diens beskikbaar is nie, kry die persoon so gou moontlik by ’n dokter of hospitaal al moet jy hulle self neem.

Indien jy vir ’n ambulans wag, kyk of die persoon asemhaal en ’n pols het. Indien die persoon nie asemhaal of ’n pols het nie, begin met kardiopulmonêre resussitasie (KPR of CPR op Engels).

Indien die persoon nog by hulle positiewe is, gee vir hulle ’n aspirien om te kou. Vind egter eers uit of hulle nie allergies is nie.

Hoe doen jy KPR?

Die hart sit skuins agter die borsbeen en wanneer jy die borsbeen druk, word bloed gehelp om na die res van die liggaam te versprei. Wanneer jy weer laat los, veroorsaak die ontspanning negatiewe druk en dit suig dan weer bloed in die hart in.

Plaas jou linkerhand op die middel van die persoon se bors met die palm op die borsbeen. Plaas dan jou regterhand op jou linkerhand en gebruik jou skouers om druk toe te pas. Ongeveer 100 tot 120 drukke per minuut moet toegepas word. Menige persone wat opleiding in KPR gehad het, gebruik die Bee Gees-liedjie “Stayin’ Alive” as ’n aanduiding van die ritme.

Faktore wat kan bydra tot hartaanvalle

  • Persone met ’n familiegeskiedenis van hoë cholesterol, hoë bloedsuiker, hoë uriensuur of hoë bloeddruk. Hierdie persone moet gereeld vir ’n elektrokardiogram (EKG) gaan om te sorg dat die siektetoestand onder beheer bly;
  • slegte gewoontes soos rook of die eet van vetterige en ongesonde kos;
  • chroniese stres;
  • oorgewig;
  • min of geen oefening.

Voorkoming is beter as genesing

Tot 80 persent van hartverwante siektes en beroertes kan verhoed word deur ’n gesonde leefstyl aan te neem. Dit sluit in ’n gesonde dieët, gereelde oefening, om nie te rook nie, jou stresvlakke laat te hou, min alkohol in te neem en jou gewig dop te hou. Volgens die Hartstigting is die realiteit egter dat Suid-Afrikaners al hoe ongesonder word.

  • 68% van vroue en 31% van mans is oorgewig of ernstig oorgewig
  • sowat 45% van volwassenes het hoë bloeddruk
  • 37% van mans en 7% van vroue is gereelde rokers
  • amper 1 uit 2 vroue en meer as ’n kwart van mans is onaktief
  • meeste Suid-Afrikaners het ’n dieët wat hoog is in geprosesseerde vleis, sout, suiker, kos in vet gebraai, verfynde stylsel en nie naastenby genoeg vrugte en groente nie
  • meer as 50% van Suid-Afrikaanse kinders neem nie ’n kosblik skool toe nie

Volg hierdie skakel na die Hartstiging se brosjure met wenke om gesonder te lewe:

Bronne:

https://af.wikipedia.org/wiki/Hartaanval

https://www.mayoclinic.org/diseases-conditions/heart-attack/symptoms-causes/syc-20373106

https://www.pressreader.com/south-africa/weg-ry-sleep/20160601/281621009549656

http://www.heartfoundation.co.za