Logo
web uni tv guide

Die Groot Ontbyt

144AktualiteitPG

GROOT Ontbyt binnekort nóg groter

Nuus
29 Junie 2015
GROOTfm 90.5 se gewilde ontbytprogram, Die GROOT Ontbyt, gaan vanaf 10 Augustus 2015 elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 regstreeks op kykNET uitgesaai word.
Aanbieders Groot Ontbyt

kykNET en GROOTfm 90.5 het gróót nuus.

GROOTfm 90.5 se gewilde ontbytprogram, Die GROOT Ontbyt, gaan vanaf 10 Augustus 2015 elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 regstreeks op kykNET uitgesaai word.

Dié samewerking is ’n eerste in sy soort. Terwyl luisteraars op pad werk toe na Die GROOT Ontbyt op hul radio’s luister, gaan diegene by die huis ook in die opwinding kan deel deur middel van hul televisiestelle. Die aanbieders gesels dus nie net met GROOTfm-luisteraars nie, maar ook met kykNET-kykers, wat beteken dit is nie gewoon beeldradio nie. Kykers kan uitsien na bewegende kameras en insetsels, en die aanbieders gaan ook soms agter die mikrofone uitskuif.

Die gewilde radio- en TV-persoonlikheid Johrné van Huyssteen gaan as ankeraanbieder by Die GROOT Ontbyt aansluit, met die beeldskone Nadia Beukes as sy regterhand. Beide Johrné en Nadia het geen bekendstelling nodig nie. As aanbieder van programme soos Gons en DeKat, en meer onlangs as radio-omroeper by OFM in die Vrystaat, het Johrné reeds sy staal in beide radio en televisie bewys, terwyl Nadia diep spore in Afrikaanse harte getrap het met haar rol in programme soos Boer soek ’n vrou en Getroud met Rugby. Die GROOT Ontbyt word verder bygestaan deur Hendri Myburgh, wat na verkeersake en sosiale media gaan omsien, Elsa Esterhuizen as nuusleser en Rouchelle Liedemann as korrespondent in Kaapstad.

Luisteraars en kykers kan uitsien na ’n program propvol aktualiteit, nuus, verkeer, weer en natuurlik goeie Afrikaanse musiek.

Volgens Hardus Zevenster, hoof uitvoerende bestuurder van GROOTfm 90.5, was dit die volgende logiese stap vir hierdie uiters suksesvolle gemeenskapsradiostasie. “Ons fokus was nog altyd gerig op die Afrikaanse mark van Pretoria. GROOTfm 90.5 se aanslag is só goed ontvang dat ’n nasionale aanvraag ontstaan het,” sê hy. “Die vennootskap met kykNET gaan hierdie aanvraag op ’n unieke, vars wyse aanspreek. Dit is net die begin van nog GROOT dinge wat gaan kom.”

GROOTfm 90.5 het die klankgolwe in die Pretoria-metropool op 1 Augustus 2013 getref en sedertdien gegroei tot ’n fenomenale luistertal van 97 000. Diegene wat nie in die Pretoria-metropool woon nie, kan na GROOTfm 90.5 luister deur die gratis app op hul selfoon of tablet af te laai, of die webblad www.grootfm.co.za te besoek.

Karen Meiring, direkteur van Afrikaanse kanale by M-Net, is net so opgewonde oor die projek: “Ons is baie entoesiasties oor hierdie vars en inspirerende aanbod vir ons kykers.

“kykNET hou van eerstes, en so ’n hibried-konsep tussen radio en televisie maak baie sin vir beide partye en gaan die aanbieders die geleentheid gun om hul talentvolle vlerke nog wyer te sprei,” sê sy.