Logo
Nataniël. Erik. Wolf.
web uni tv guide

Nataniël. Erik. Wolf.

144LeefstylPG

Groeigroepe vir seniors – Met ’n huppel in die stap

Nuus
20 Maart 2019
Kom sluit aan!

deur Don Roos en Albert Cruywagen

G6 is ’n groep wat gereeld informeel bymekaar kom omdat hulle glo in die waarde wat sosialisering en sinvolle geselsies met vriende vir seniors se fisieke en geestelike welstand inhou. Boonop bied hulle lesings of vertellings by elke byeenkoms as toegevoegde waarde. Don Roos en Albert Cruywagen vertel meer oor dié konsep wat hulle reeds 20 jaar gelede bedink het. 

Kuier en kameraadskap kan lekker wees, veral as daar koffie en klets betrokke is! Mense doen dit graag en dikwels. Senior mense het meer tyd vir sulke sosialisering, maar beteken dit noodwendig groei? Ons by G6 het “groei” as aktiwiteit bygevoeg by ons kuier, kameraadskap, koffie en klets. 

Een keer per maand kom ons infomeel bymekaar sonder kennisgewing, sonder notule, sonder lidfooie. Deelnemers praat elke tweede of derde keer kortliks oor enige iets onder die son. Dit kan iets wees wat jy ervaar het, of ’n interessante plek wat jy besoek het, of 'n onderwerp wat jy êrens raakgelees het, letterlik enigiets. G6 bestaan al 20 jaar en in die tyd is daar al ongeveer 700 onderwerpe aangeroer. Die groep besluit self wat taboe is – as dit eens ter sprake is.

Bronnie Ware, bekende palliatiewe verpleegsuster van Australië, het 'n boek geskryf nadat sy by talle sterfbeddens gewaak het en met die sterwendes gepraat het. Die boek se naam is The top five regrets of the dying. Een van die “regrets” is: Ek is jammer dat ek nie meer tyd spandeer het om met my familie en vriende te gesels nie. 

Navorsers het gaan kyk na die gemeenskappe wat die oudste word. Dit word die Blue Zones genoem. Wat is die rede dat mense in sekere gemeenskappe gemiddeld baie ouer word as die res van die mensdom? Behalwe fisiese oefening, dagtakies, dieet en slaap, is kwaliteit sosialisering saans met hulle bure die opvallendste rede! Hierdie oudstes se geestesgesondheid is merkwaardig. 

Mense se geselsies is dikwels kortstondig, saaklik, effens gedwonge, redelik bolangs en gaan oor algemeenhede. Dis goed en reg. Dit kan nie anders nie. Maar dan is daar die dieper dinge van die lewe waaroor mens kan gesels. Dit gaan gewoonlik gepaard met gemaklikheid, drinkgoed, eetgoed en geselskap van jou keuse. Jy kan agteroor sit. Dit word ’n leerproses. 

Ons moderne samelewing met sy gejaagdheid en TV veroorsaak dat kwaliteit geselskap skaarser word. Ons by G6 maak juis plek en tyd daarvoor. Ons het al na onderwerpe geluister soos veteraanmotors, die Kruger-Dunning effek, die getal 0, die heelal, perderenne, optiese illusie en Antarktika. By G6 leer mens praat en luister. Ons het ’n vrugbare groepsdinamika ontwikkel. Ons maak altyd tyd vir iets te ete en drinke, dan gaan die sosialisering voort – te heerlik. Grappies en humor sluip altyd in! Ons almal sien uit na die volgende G6. Die laaste byeenkoms van elke jaar in Desember word afgesluit met BBB (bier, brood en biltong). Een van ons lede het selfs tydens hierdie byeenkoms vertel van die oorsprong van bier, brood en biltong. So 'n groep verbeter jou emosionele intelligensie. Dit verlig persoonlike spanning. Hier voel jy veilig. Ons maak die planeet 'n beter plek. 

Hier is Rian Cruywagen se raad vir veroudering.

Ons wil help om soortgelyke gesels- en groeigroepe elders te vestig, wat kan bestaan uit mans en dames. Ons nooi mense uit om een van G6 se byeenkomste in Pretoria by te woon op Maandag 11 Maart 2019 (09:00 – 10:00) of Dinsdag 12 Maart 2019 (09:00 – 10:00). Kontak Don Roos by 012 807 7420/ 083 699 3547/ [email protected] of Albert Cruywagen by 012 803 5895/ 082 823 0785/ [email protected]

Sit die huppel terug in jou stap deur in te skakel vir Met ’n huppel in die stap, Woensdae om 18:00 op DStv-kanaal 144. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #HuppelStap​.