Logo

Koekedoor: Goed, beter, botterbroodjies

Nuus
01 Julie 2016
Vir die halfeindrondte van Koekedoor 2 is daar weer besluit om hulde te bring aan ’n ikoniese bakkersbestanddeel, en hierdie keer was dit botter.
Koek Botter 01

Vir die halfeindrondte van Koekedoor 2 is daar weer besluit om hulde te bring aan ’n ikoniese bakkersbestanddeel, en hierdie keer was dit botter. Ons gesels met Errieda du Toit, inhoudsvervaardiger: kos vir die reeks, en skrywer van die Koekedoor 2-bakboek.

“Ons wou met hierdie tema botter se terugkeer na die bakkerskombuis vier. Met die herwaardering vir natuurlike bestanddele word botter se lof weer besing, want niks laat gebak lekkerder smaak as botter nie. Daarom het ons op drie soorte botterbroodjies vir die tuisgebak besluit; ’n wonderlike kunstige koek met botterversiering vir die fyngebak, en ’n koekstaander vol Franse kleingebak vir die pronkgebak, want botter is onmisbaar in die Franse se gebak.”

Hoort botterbroodjies in ’n bakkompetisie?

Dalk wonder jy hoekom ’n botterbroodjie ingespan word by ’n halfeindstryd van ’n bak-kompetisie.

Botterbroodjies is een van die mees veelsydige gebak, net soos die spreekwoordelike ‘little black dress’. Dit doen diens vir ’n vinnige ontbyt, maar kan ook opgetof word om by die deftigste teepartytjie voorgesit te word.

“Die beoordelaars, veral Tannie Elizabeth wat die VLV-Kaapland se handleiding help skryf het vir die beoordeling van tuisgebak soos botterbroodjies, sal jou vertel dat die oënskynlik maklike gebak vol slaggate is as jy nie die basiese tegnieke onder die knie het nie,” reken Errieda. “Om drie verskillende tipe botterbroodjies te maak volgens Tannie Elizabeth se skoustandaard, en nog jou eie botter ook te maak in ’n kort tydjie onder die amper-ondraaglike spanning van ’n semi-finaal, toets werklik die vernuf van die mees gesoute bakker.”



Só beproef ’n kenner ’n botterbroodjie

Tannie Elizabeth se legendariese resepte vir teeskons en pan-botterbroodjies (wat selfs oor kole gaargemaak kan word) en haar teebroodjies verskyn in die nuwe Koekedoor 2-bakboek. Errieda het ook haar kaasbotterbroodjie-resep afgebedel om met Koekedoor-ondersteuners te kan deel.

Klik hier vir nog eksklusiewe resepte.

“Ek beskou Tannie Elizabeth as ons land se voorste botterbroodjie-boffin. Sy het al soveel botterbroodjies beoordeel by die VLV (Vrouelandbouverenging van Kaapland) dat sy net daarna hoef te kyk om te weet of dit ’n sukses is. Netjies, almal ewe groot, ’n mooi ligte goudbruin bo-kors en die kante effe ligter, en sonder ’n teken van droë meelblom aan die kors.

“Dan breek sy dit oop en voel aan die krummel. As dit bros, droog of krummelrig is kan jy weet sy gaan frons. Maar as sy die veertjietekstuur sien, en fyn, egalige sagte krummels, glimlag sy. As sy hap en selfs breër glimlag, kan jy weet jou botterbroodjies is skougehalte.

Botterbroodjie kortles

• Die nommereen onreg teen botterbroodjiedeeg is om dit te oorwerk.
• Suurmelk versag die tekstuur van botterbroodjies – maak jou eie deur 12,5 asyn of suurlemoensap by 250 ml melk te voeg.
• Werk met koue bestanddele. Die botter kan selfs gevries en ingerasper word. ’n Ander skool glo weer die botter moet sag en teen kamertemperatuur wees.
• Jou vingerpunte is die koelste deel van jou hand, vryf die botter daarmee in, nie jou handpalms nie.
• Gebruik ’n mes met ’n ronde punt, soos ’n bottermessie, om die nat bestanddele in te sny.
• Knie baie liggies om deeg bymekaar te bring en druk liggies met die handpalm plat.
• Druk uit met ’n skerp drukker, eers in meel gedruk. Probeer om dit nie te draai nie, anders rys die skons skeef.
• Pak die botterbroodjies dat hulle net aanmekaar raak, dan rys dit hoër, eerder as sywaarts. Dit gee ook ’n sagte kors.
• Plaas die bakplaat met botterbroodjies 10-15 minute in die yskas (veral op ’n warm dag), dan rys dit beter.
• Plaas die plaat na aan die bokant van die oond. Maak ook seker jou oond is behoorlik warm.

Kyk die Koekedoor-finaal op Donderdag 7 Julie om 20:30.