Logo

Gerrie Pretorius leef die reis

Nuus
31 Julie 2015
Leef jou reis se Gerrie Pretorius gesels met ons oor vasval in die woestyn, saamsing in Ierland en wat vir die nuwe seisoen van dié reeks beplan word.
GerriePretorius

Leef jou reis se Gerrie Pretorius gesels met ons oor vasval in die woestyn, saamsing in Ierland en wat vir die nuwe seisoen van dié reeks beplan word.

Leef jou reis het onlangs op die kassie geëindig, maar julle werk aan ’n nuwe seisoen. Wat was die hoogtepunte van seisoen 3?

Dit is altyd moeilik om ’n hoogtepunt uit te sonder. Elke episode het sy eie uitdagings, laagtepunte en natuurlik hoogtepunte. Ons sal seisoen 3 onthou vir die lekker saamsing met die Iere in Dublin, waar ons die legendes Foster and Allen ontmoet het. Ons het vanjaar ook van my ou gunstelinge bygewerk, en vir die kykers gaan wys hoe ’n groot deel van die Bybel in Turkye afspeel by plekke soos Efese.

Watter plek het jou die meeste verras, en hoekom?

Viëtnam verras my keer op keer, en dit is nou die perfekte tyd om die land te besoek. Dis ’n geweldige goedkoop land waar jy baie interessant kan eet en unieke dinge kan ervaar. Hier kan jy letterlik tussen die locals sit en ’n bier drink by ’n straatkafee vir minder as R5.

In die berge van Sapa, wat amper teenaan China lê, kry jy die geleentheid om aan huis te bly by van die plaaslike stamme wat destyds moes vlug om vervolging te ontkom. Hul bergwonings lê tussen antieke ryslande, met waterbuffels wat rustig rondwei.



Gebeur dit soms dat dinge anders op die skerm uitdraai as wat beplan is?

Ons beleid is om dinge so na as moontlik aan die waarheid te hou en te wys presies wat ons ervaar, tensy daar ’n AK47 teen jou bors gedruk word. Leef jou reis-kykers het nou al aanvaar ons verskuif soms die grense. So is dit byvoorbeeld algemeen dat mense in Viëtnam honde eet, en ons kon dit bloot nie wys nie. Maar toe ons in Kenia aan ’n bloeddrink-ritueel deelgeneem het, was die kykers gaande daaroor om so naby aan die Masai se kultuur te kon kom. Dis immers hul tradisie en die bees weet amper nie eers van die liter bloed wat hy geskenk het nie. Ons het wonderlike kykers wat saam met ons horisonne verbreed.

Watter uitdagings het die verfilming van die derde seisoen ingehou? Hoe het julle dit oorkom?

Seisoen 3 was sekerlik van almal die moeilikste en uitdagendste weens tyd en begroting. Ons moes letterlik ons rande 5 keer omdraai. Ons het slegs een voertuig, een kamera en is op die meeste drie persone wanneer dit regtig moeilike opnames is. Soortgelyke programme het meer as een voertuig, meer as een kameraman, assistente, regisseurs, navorsers, ensovoorts. Daar was baie uitdagings, van lelik vasval naby Phuros in Namibië (ons moes 17 km deur die woestyn stap tussen olifante en leeus) tot 57 padblokkades in Angola. Hoe het ek dit oorkom? Bloot genade en ’n houding van weier om op te gee.



Waarna kan kykers uitsien in die vierde seisoen?

Ons hoop om so gou moontlik met verfiming te begin. Daar wag een van die mees afgeleë bestemmings op aarde, ons vaar weer diep in Afrika in en gaan wys jou wat jy in Kuba moet sien. Dan hoor ek die vodka in Rusland is besonders… Ons wil nie te veel weggee nie, maar kykers kan uitsien na ’n ongelooflike rusbank-reis.

Vertel ons meer van die Namakwaland-toer wat die Leef jou reis-span binnekort gaan onderneem. Gaan dié toer deel uitmaak van die vierde seisoen?

Ons het met die afgelope seisoen, saam met kykNET en Jukebox, een of twee plaaslike plekke vir mense gewys as alternatiewe vir oorsese of Afrika-vakansies. En ja, Namakwaland, sy mense en sy blomme verdien ’n regmatige plek as unieke bestemming. Op hierdie toer kuier ons regtig saam met die streek se mense. Van top-storievertellers soos Arno van Zyl tot kubus-koning Adriaan Niewoudt. Voeg Garies se musikante en kontreikos soos skaapafval, braaivleis en roosterkoeke daarby en die blomme word ’n bysaak.

Kry Gerrie Pretorius op Facebook, op Twitter by @GerrieOfficial en op Instagram by @gerriepret.