Logo
Fynskrif
web uni tv guide

Fynskrif

144Drama13L

Fynskrif keer in April terug vir die finale seisoen!

Nuus
31 Desember 2019
Katrien se lewe hang aan 'n draadjie. Rene is gediagnoseer met kanker. Wian het 'n baba huis toe gebring slegs 'n paar dae na hy en Adele getrou het. Jaco het vertrek na Spanje en Lara alleen agtergelaat.
Fynskrif Press Release

 Is daar hoegenaamd 'n silwer randjie aan die einde van hierdie donker wolk? Al die vrae word beantwoord in die derde en finale seisoen van Fynskrif. 

Oor die laaste 13 episodes van die gewilde regsdrama word daar gefokus op die karakters se persoonlike- en familielewens en moet almal uiteindelik besluit wat hulle werklik uit die lewe wil hê. Ben (Neels van Jaarsveld) en Lara (Tinarie van Wyk Loots) moet hul ma se siekte trotseer saam met Hans (Chris van Niekerk). Dit gaan nie maklik wees nie, maar dit gee hul ook duidelikheid oor hul eie toekoms: wat beteken dit om werklik lief te hê? Wat is belangrik? En hoe vind jy 'n balans tussen werk en familie?

Dit is hierdie vrae wat ook die ander karakters van Fynskrif se lewens vul. Veral Wian en Adele wat so vroeg in hul huwelik moet besluit oor wat dit beteken om 'n familie te wees. Maar dis darem nie net alles donderwolke nie! Dolf (Charlton George) en Gertrude (Elana Afrika-Bredenkamp) is stralend gelukkig en swanger. Gaan dit 'n dogtertjie of 'n seuntjie wees? Corne (Beer Adriaanse) en Christelle (Rolanda Marais) neem hul eerste tree na 'n volwaardige verhouding, maar gaan Corne die keer regtig groot word?  

Daar is ook 'n nuwe prokureur wat by die praktyk aansluit. Inge (gespeel deur Nicole Holm) is 'n ma van twee wat na baie jare weer terugkeer na die reg. Sy val sommer onmiddellik in by die daaglikse lief en leed van al die lede by die praktyk. Sy help vir Ben, Lilani, Wian en sommer almal anders met 'n skouer om te huil en 'n pakkie fudge uit haar handsak. Dan keer Thandi (Crystal-Donna Roberts) ook met groot fanfare terug, maar haar verhouding met Corne is nie meer dieselfde nie en sy dra ook 'n donker geheim.

Maar van Wyk en Vennote bly 'n regspraktyk en mense maak droog en daar's altyd sake wat aandag kort. Van 'n boer en sy vrou wat wil skei omdat hy nie die plaas wil verlaat nie, tot 'n onderwyseres wat 'n kabaretdanser is en afgedank word tot 'n oud-professor van Ben wat aangekla word van dronkbestuur, is daar 'n groot verskeidenheid van sake. Gasspelers sluit in Laudo Liebenberg van Aking, Pierre van Pletzen, Annelize van der Ryst en Melt Sieberhagen.

Uiteindelik beloof die derde seisoen om vol opwinding te wees met die kinders se matriekafskeid, 'n troue of twee, 'n kamp naweek en selfs 'n sloertoer! Die lewe in al sy wonderlike kompleksiteit speel af in die derde seisoen van Fynskrif en sal die kyker tot die einde vasgenael hou.

Die draaiboek is soos oudergewoonte deur Louis Pretorius en Albert Snyman en die regie is behartig deur Nina Swart. Fynskrif 3 begin op 7 April 2020 slegs op kykNET.