Foto’s: Allister Christie
Die lang wag is uiteindelik verby! Francois van Coke se tweede album, Hierdie is die Lewe, word op 2 Februarie 2017 uitgereik.
Twee musiekvideo’s vir dié album is alreeds vrygestel: “Mensdom”, om die groep Die Gevaar voor te stel, en “Klein Prys” – Francois se ode aan Fokofpolisiekar. Beide dié titels is ook beskikbaar op 7” vanaf Permanent Record.
“Klein Prys” handel oor die nalatenskap wat Fokofpolisiekar deel, en die moelike tye wat hulle gebring het tot waar hulle vandag is. Volgens Francois is dit sy huldeblyk aan dié groep. Kyk die musiekvideo weer hier.
“Mensdom”, die eerste musiekvideo vanaf Hierdie is die Lewe, is op 10 November 2016 vrygestel. Dit dien nie net as lusmaker vir dié nuwe album nie, maar stel ook Die Gevaar, die groep saam met wie Francois sal optree, voor. Kyk weer hier na die musiekvideo.
“Ons almal het een ding in gemeen,” sê Francois. “Ons lewe – al verskil alles anders,” verduidelik Francois. “Die song gaan oor die lewe met foute en oorwinnings. Dit is ’n grungy blues sing-along oor menswees.”
Ontmoet Die Gevaar:
• Jedd Kossew (kitaar) en Richard Onraet (kitaar)
• Rudolph Willemse (baskitaar & produksie) & Walter Von Waltsleben (dromme)
• Sheldon Yoko (dromme)
Francois van Coke kuier Maandag, 6 Februarie 2017, regstreeks in die chatNOU!-ateljee. Om saam te gesels, gebruik die hutsmerk #chatNOU. Hier is sy boodskap aan kykers:
Meer oor Hierdie is die Lewe:
Hierdie is die Lewe is ’n natuurlike progressie op Francois se suksesvolle en bekroonde self-getitelde debuutalbum, en kan gesien word as ’n liriese blik op waar Francois tans in sy lewe is. Die klank is soortgelyk aan die eerste album en Francois bly introspektief.
“Hierdie een gaan oor die lewe, die goed die kwaad, die liefde en die haat, die verlede, die toekoms en die hede.” – Francois van Coke
Francois en sy groep, Die Gevaar, het oor ’n stelselmatig aan die liedjies geskryf en geskaaf. Hierdie is die Lewe is vervaardig deur Johnny de Ridder (Fokofpolisiekar se kitaarspeler) en Rudolph Willemse (Francois se baskitaarspeler) by Soft Light City in Bellville. Die dromme is deur Jürgen Von Wechmar by Red Bull Studios in Kaapstad opgeneem.
“Ek het die laaste twee jaar baie na ouer popmusiek geluister, soos Beach Boys en The Beatles, wat ’n definitiewe invloed op die album se melodieë en klank het. Daar is steeds ’n paar harde rock ’n roll nommers en ook natuurlik ’n paar ballades,” vertel Francois.
Hierdie is die Lewe kan nou op iTunes bestel word en sal ook beskikbaar wees op Google Play, sowel as 12” vinyl.
Vir meer inligting, besoek Francois van Coke se webblad, volg hom op Twitter en Instagram of kry hom op Facebook
Meer inligting oor die Hierdie is die Lewe-toer, klik hier.