Logo
Fraksie Slim BB
web uni tv guide

Fraksie

144Drama13 VL

Fraksie: Leer ken die hoofkarakters

Nuus
02 September 2022
Lees hier meer oor die hoofkarakters in Fraksie.
Fraksie Artikel Karakters

Op Dinsdag 13 September leer ons die karakters van Fraksie, die nuwe dramareeks uit die verbeelding van Louis Pretorius en Albert Snyman, vir die volgende sewentien weke ken. Louis en Albert was vir onder meer reekse soos Fynskrif, Troukoors en Die boekklub verantwoordelik en met Fraksie het hulle beslis weer ’n groep merkwaardige karakters geskep.

Maar wie is wie in die reeks? Hier is ’n kort opsomming van die hoofkarakters.

Schalk Smit vertolk deur Edwin van der Walt

Edwin van der Walt, bekend vir sy werk in teater, in reekse soos Fynskrif, Troukoors en Waterfront en flieks soos Wonderlus en Die pro, vertolk die rol van Schalk Smit. Schalk is ’n beleggingsportefeuljebestuurder by T&M Holdings wat aan die miljardêr Tiaan du Toit behoort. Schalk se groot droom is om ’n dollar-miljoenêr te word en niks sal in sy pad staan om dit te bereik nie. Op die oog af is hy warm en vriendelik, maar onder alles skuil ’n sakeman wat nie bang is om kanse te vat nie. Hy is trots op sy rugbyspelende seun, verdra sy rebelse dogter en het ’n komplekse verhouding met sy vrou. Schalk is oorspronklik van Kimberley en smag daarna om tot die binnekring van Stellenbosch se elite toegelaat te word.

Tim Koopman vertolk deur Marlo Minnaar

Marlo Minnaar se reputasie vir sy werk op die verhoog, op TV en in film is om die minste te sê indrukwekkend. Hy is veral bekend vir onder meer sy rolle in treffer TV-reekse soos Sara se geheim, Troukoors, Suidooster en Die Boland moorde. In Fraksie speel Marlo die rol van Tim Koopman, ’n dosent in rekenaarwetenskap aan die Universtiteit van Pretoria. Tim het deur die jare gesien hoe studente sukkel om hulle finansies te bestuur en het in sy vrye tyd die rekenaartoepassing QPI (Quick Payment Interface) ontwikkel waarvoor hy nou beleggers soek. Tim en Chantel (Crystal Donna Roberts) is ses maande gelede getroud ná hulle mekaar by ongevalle ontmoet het – Tim omdat hy geval het en Chantel omdat sy ’n verpleegsuster is. Chantel help die skaam Tim om uit sy dop te kruip en hulle is dolgelukkig. Een ding van Tim sal egter nooit verander nie: sy sin vir wat reg en verkeerd is.

Jana Broeksma vertolk deur Trix Vivier

Trix Vivier, bekend vir haar rolle in Trackers, Waterfront en Legacy, is te sien as Jana Broeksma. Jana was saam met Tim en Schalk op skool, maar ná matriek het sy uit hulle lewens verdwyn en regte aan Rhodes Universiteit gaan studeer. Sy is ’n suksesvolle kommersiële prokureur en op die oog af gelukkig getroud met Alwyn. Hulle is ouers van die negejarige Emmy. Jana se lewe verander dramaties wanneer sy werk in Stellenbosch aangebied word. Die skuif plaas haar weer in die wentelbaan van Tim en Schalk en sy word by hulle nuwe maatskappy betrek. Jana is ’n komplekse mens met ’n komplekse geskiedenis, ’n geskiedenis waartoe Schalk en Tim onwetend bygedra het. Sy probeer om ’n goeie mens te wees, maar die spoke van haar verlede laat haar dit nie altyd toe nie.

Jack Williams vertolk deur Duane Williams

Duane Williams is nie net ’n talentvolle akteur nie wat bekend is vir reekse soos Blood & Water en 7de Laan nie, maar het ook al as danser in verskeie produksies opgetree. In Fraksie is hy te sien as die bemarkingskenner (of so dink hy) Jack Williams. Hy is die seun van ’n diplomaat en wil sy aansienlike trustfonds gebruik om in tegnologie te belê. Hy woon by sy ouma, Ester, ’n emeritus-professor in drama aan die Universiteit van Stellenbosch. Jack probeer sy bes om mense te beïndruk, maar hy maak dom foute en het ’n gewoonte om werk en plesier te meng. Hy ontmoet toevallig vir Jana op die gholfbaan en word só deel van QPI.

Henk Greyling vertolk deur Melt Sieberhagen

Melt Sieberhagen, bekend vir reekse soos Troukoors, Die Byl en Proesstraat is ’n meester op verskeie gebiede. Nie net is hy ewe gemaklik op die verhoog en voor die kamera nie, hy kan ernstige drama en komedie met ewe veel gemak speel. In Fraksie is hy Henk Greyling, die hoof van IT by T&M Holdings. Hy het in die 2000’s aan ’n platform soortgelyk aan Mxit gewerk, maar het gekies om ’n salaris te neem in plaas van aandele. Almal betrokke het baie ryk geword behalwe Henk. Sy huwelik het verbrokkel weens sy bitterheid en sedertdien haat hy sy werk. Hy woon saam met Donovan, ’n gay geleentheidsbeplanner en hulle het ’n komplekse verhouding. Henk het ’n 19-jarige seun, JP.  Wat gaan Henk doen wanneer hy ’n geleentheid kry om in QPI te belê?

Nina Smit word vertolk deur Roeline Daneel

Roeline Daneel (Fynskrif, Die boekklub , Binnelanders, Kompleks) speel die rol van Nina Smit, Schalk se vrou en ma van hulle twee kinders. Nina kom uit ou geld. Haar ma is Stellenbosch-adel, haar pa is ’n onkoloog en haar suster is ’n narkotiseur. Sy is die swartskaap van die familie en sy en Schalk moes trou toe sy jonk swanger geraak het. Nina is ’n deeltydse eiendomsagent, maar wonder soms hoe haar lewe sou wees as sy nie met Schalk getrou het nie. Wanneer hy met nog ’n plan om geld te maak kom, is sy opgewonde, maar ook skepties omdat sy planne selde uitwerk. Is dit tyd om haar eie potjie te krap?

Chantel Koopman word vertolk deur Crystal-Donna Roberts

Crystal-Donna Roberts (Arendsvlei, Fynskrif, Krotoa) is Chantel, ’n verpleegsuster wat vir Tim in ongevalle ontmoet het. Hy het gesê sy is die mooiste vrou wat hy nog ooit gesien het en dat hy met haar wil trou. Sy het net gelag, maar kort daarna is hulle wel getroud. Sy is opgewonde oor QPI en wens Tim wil partykeer meer vir homself opstaan. Chantel is onopgesmuk en hardwerkend en het ’n baie goeie verhouding met haar ma en suster.

Alwyn Broeksma word vertolk deur Sean-Marco Vorster

Sean-Marco (Alles Malan, Legacy) is die voormalige hoofsanger van die rockgroep Ysterhout. Hy gee deesdae kitaarles en is ’n tuisbly-pa terwyl Jana werk. Hy is versot op klein Emmy. Sy lewe word omver gegooi wanneer Jana Stellenbosch toe trek en hy besluit hy en Emmy moet agter haar aan trek. Dit werk egter nie uit soos hy gehoop het nie en hy moet nou sy eie lewe in oënskou neem en besluit wie hy werklik is.

JP Greyling word vertolk deur Hendrik Nieuwoudt

Hendrik Nieuwoudt (Fynskrif, Tydelik terminaal, Troukoors) is Henk se seun en is oortuig dat hy ’n YouTube-ster gaan word. Hy kom Stellenbosch toe om drama te studeer ná sy ma hom uit die huis geskop het as gevolg van die videos wat hy van haar gemaak het. Hy en Henk het nie ’n goeie verhouding nie en hy hoop dat hulle mekaar beter sal leer ken.

Tiaan du Toit word vertolk deur Pierre van Pletzen

Die veteraan-akteur Pierre van Pletzen (7de Laan, Meerkat Maantuig, Elke skewe pot) is Tiaan du Toit, ’n miljarder wat genoeg geld gemaak het om verskeie leeftye te hou, wat nog altyd vir Schalk gesien het as die seun wat hy moes gehad het. Deesdae is hy egter nie so seker nie. Schalk is vir hom roekeloos, maar hy sien tog potensiaal in QPI. Is hy te oud om weer van vooraf te help aan ’n besigheid bou?

Fraksie begin op Dinsdag 13 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144). Dit sal ook op Catch Up beskikbaar wees.