Logo

Fiësta-toekennings: Drie legendes word vereer

Nuus
04 Maart 2021
’n Radioman, regisseur en akteur, ’n vermaakster sonder weerga en ’n wêreldbekende fotograaf.
Untitled design

Dít is die drie legendes wat vanjaar by die Fiësta-toekennings vir hulle lewensbydrae vereer word.

Die 11de kykNET Fiëstas word op Sondag 7 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai. As gevolg van die pandemie sal dit nie ’n regstreekse uitsending voor ’n groot gehoor soos in die verlede wees nie, maar wel net so opwindend soos vorige jare.

Nic de Jager, wat verlede jaar sy 80ste verjaardag gevier het, het op Stellenbosch grootgeword en ná skool argitektuur by die Universiteit van Pretoria gaan studeer. In sy sesde jaar het hy ’n radiotoets gedoen wat die begin van ’n luisteryke loopbaan agter die mikrofoon en voor én agter die kameras beteken het.

Nic was van 1966 tot 1974 ’n omroeper en regisseur by die destydse Afrikaanse Diens van die SAUK. As akteur was hy te sien in die eerste Afrikaanse reeks wat ooit vir TV gemaak is, Dokter Dokter, en was ook later in reekse soos Vallei van die Sluiers, Geraldina die Tweede en Egoli: Plek van Goud asook rolprente soos The Gods Must Be Crazy en Die Geheim van Nantes te sien. Sy veelsydigheid het egter ook beteken dat hy een van die eerste nuuslesers op Suid-Afrikaanse TV was.

As regisseur was hy verantwoordelik vir onder meer Die Vlakte Duskant Hebron en 1945, ’n dokumentêre program oor die kunstenaar Judith Mason en as radio-aanbieder en regisseur is hy die afgelope paar jaar verantwoordelik vir die immergewilde Nic se Goed op RSG.

Terry Fortune is ’n veteraan in die vermaakbedryf. Hy is 1948 in Kaapstad gebore as Tyrone Robertson gebore. Ná skool het hy maatskaplike werk studeer en later as maatskaplike werker vir Stad Kaapstad gewerk. In 1971 het hy aan ’n talentkompetisie by die Luxurama in Wynberg, Kaapstad deelgeneem en daar is Tyrone se alter ego, die fopdosser Terry Fortune, gebore.

Sy suksesvolle loopbaan het hom die wêreld oor geneem. Terry – hy sê net mene wat hom sy lewe lank ken noem hom nog Tyrone - het in Suidelike Afrika, Europa, Brasil en die Verenigde Koninkryk gewerk. Hy het by beide die onafhanklikheidsvieringe van Namibië en Mosambiek opgetree.

Terry het ook in verskeie verskeidenheidskonserte, kabarette en musiekblyspele opgetree het het in 2009 ’n Fleur du Cap-toekenning gewen vir sy werk in die musiekblyspel Songbook. Hy woon steeds in Kaapstad en is ’n mentor en leermeester vir jongelinge in die vermaakbedryf.

Bob Martin se lewe het ’n paar interessante draaie gemaak – van kinderjare in Villiersdorp tot die vloot, van balletdanser tot internasionaal bekroonde fotograaf.

Bob het sy loopbaan as fotograaf in Kenia begin waar hy as reservis saam met die polisie gewerk het. Terug in Suid-Afrika was hy aanvanklik ’n fotograaf by die Sunday Times en later as hooffotograaf by SATOUR waar hy verskeie internasionale toekennings ontvang het.

Dit was egter toe hy by die destydse TRUK as teaterfotograaf begin werk het, waar sy talent werklik na vore gekom het. “Dit is asof ek my roeping gevind het,” het hy gesê.

Verskeie bekendes soos Sandra Prinsloo, Jana Cilliers en Katinka Heyns en selfs internasionale sterre soos Eartha Kitt en Gordon Mulholland was voor sy kamera en sy foto’s van toneel, ballet, opera en filmproduksies word vandag nog hoog aangeskryf.

Skakel Sondag 7 Maart 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) in vir die 11de kykNET Fiëstas.