Logo
Hotel S5 Slim

Ferdie en kie is terug vir Hotel 4

Nuus
31 Julie 2019
Het jy die goeie nuus gehoor?
Hotel 4

FOTO: Werner Botha


Ferdie Kruger en die personeel van Die Fransen hotel keer in Januarie 2020 terug vir ’n vierde seisoen van kykNET se mokumentêre reeks, Hotel. In die vorige seisoen was daar ’n stryd oor wie burgemeester sou word, Danny se eerste toneelstuk is deur Die Fransen personeel opgevoer, daar was pret met Batcoin en Jaap se troetelskaap het amok veroorsaak, maar hierdie seisoen gaan groter, beter en snaakser wees… op die Hotel-manier.

Daar is weer rus en vrede in Fransenburg nadat Ferdie besluit om sy politieke loopbaan kort te knip. So kort, dat hy oorweeg om af te tree. Maar hy kan dit nie bekostig nie, en sout in die wond is dat Burgermeester Stephano Stutterheim beplan om die hotel te sloop om plek te maak vir die Mautrein.

Ferdie oorweeg sy aftrede en kom agter dat hy te maklik gaan vergeet word. Hy is vasbeslote om ’n nalatenskap te laat wat selfs sy agterkleinkinders sal onthou.  Jony ontdek ’n nuwe liefde en hierdie gawe Gawie kom bly in die hotel en staan lynreg in Thomas se pad. Hierdie seisoen hou ons ’n troue, begrafnisse, skryf outobiografieë, koop roomyskarretjies en sloop die hotel… wel miskien.

Oudergewoonte is James Borthwick (Ferdie), Schalk Bezuidenhout (Danny), Simoné Pretorius (Jony), Beer Adriaanse (Thomas), Martelize Kolver (Brenda), Mila Guy (Malanie) en De Klerk Oelofse (Jaap) in die rolverdeling. Quentin Krog sluit by die span aan as Gawie, Jony se nuwe liefde.

Gallery

Die span is baie opgewonde oor die nuwe reeks. Bennie, skrywer en regisseur van Hotel, meen dat elke seisoen lekkerder raak. “Die skryf raak nie makliker nie, maar die pret word al hoe meer.”

Nouvanaand Films is weer die vervaardigers. “Kykers kan uitsien na nóg meer pret, mannewales en lawwigheid van die Fransenburgers. Dis steeds ’n voorreg om nog ’n seisoen te kan verfilm by Die Fransen se huis, Kleinkaap Boutique Hotel in Centurion.”

Hotel 4 word in Januarie 2020 op kykNET, DStv kanaal 144 uitgesaai. Is jy opgewonde oor dié nuus? Deel jou entoesiasme op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #kykNETHotel.