Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Esther en Natasha: Aktrises met vele talente – Suidooster

Nuus
02 Julie 2021
As Suidooster se nuwe paartjie - Elana en Suzie Naudé - het die aktrises Esther von Waltsleben en Natasha van der Merwe vinnig in kykers se harte gekruip.
SUSAN & ELANA (7)

Ja, dit was ‘n nuwigheid om twee vroue wat mekaar getroud is te verwelkom, maar op die ou end het talent, en die liefde, gewen.

Waar lê jou wortels en hoe het jy in die vermaakwêreld beland?
Esther: Ek is in Villiersdorp gebore, maar die grootste gedeelte van my grootwordjare was in die Paarl. Ek het drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en was gedurende my eerste paar jaar as professionele akteur betrokke by opvoedkundige- en gemeenskapsteater met toergroepe soos Breughel, Spektrum en Cape Heart. Op die verhoog het ek al die geleentheid gehad om in ‘n wye verskeidenheid produksies te kon speel, maar voor die kamera was my eerste hoofstroom rol in Proesstraat.
Natasha: Ek is ’n gebore en getoë Kapenaar wat in Houtbaai grootgeword het en op Hoërskool Kampsbaai gematrikuleer het. Regdeur my kinderjare kon jy my altyd op die verhoog of op die sportveld vind. My droom was om ‘n vlieënier of trauma-chirurg te word, maar my liefde vir die kusnte het uiteindelik gewen en nou is ek hier. Soos die leuse gaan: “It chooses you, you don’t choose it”. Ek het by die Waterfront Teaterskool studeer en ná ‘n paar sankontrakte oorsee, het ek die skuif Johannesburg toe gemaak. Ek is bevoorreg om die afgelope 13 jaar in die industrie te werk. My eerste groot rol was as Dolla van Aarde in Pieter-Dirk Uys se produksie van Die Van Aardes van Grootoor. Ek was ook Stephanie Mangano in die Staatsteater in Pretoria se 2016 produksie van Saturday Night Fever. My grootste rol op televisie is dié van Suzie Naudé in Suidooster.

Wat is die deel van jou karakter in Suidooster wat jy die meeste geniet?
Esther: Ek hou daarvan dat sy sosiaal gemaklik is met almal en dat sy ‘n goeie sin vir humor het.
Natasha: Een van die dinge wat ek geniet, is dat daar elemente van Suzie is wat so ver verwyderd van wie ek as mens is. Sy het regtig nie ‘n sin van verantwoordelikheid nie. Sy is mal oor partytjie hou en dink gewoonlik sy het aan al die risiko’s en gevolge gedink. Maar sy het ook die meeste om weg te steek, maar is tog ‘n “wat jy sien is wat jy kry”-persoon. Sy het beslis ‘n misterieuse kant aan haar wat wonderlik is om te verken en uit te pluis.

Wat was die reaksie tot dusver op julle karakters en storielyn, goed of sleg?
Esther: Daar was al ‘n paar knorre op sosiale media, maar die ondersteuning vir die karakters klink vir my groter as die teenkanting. Ek het nou al geleer om nie die kommentare te lees nie, maar af en toe hoor mens wat gesê is. Dit is vir my heeltemal verstaanbaar dat dit vir ‘n gehoor ‘n tydjie sal vat om nuwe karakters te omarm, veral in ‘n sepiewêreld soos dié van Suidooster met sy geliefde karakters.
Natasha: Ek dink soos met enigiets in die lewe is dit ‘n geval van: As jy jouself daar buite sit, gaan jy reaksie kry – maak nie saak wat nie. Ons het vir seker goeie en slegte reaksie gekry en ek veronderstel dit kom met die gegewe, veral as jy na die storielyn kyk. Dit is waar ek myself herinner om my nie aan die klein goedjies te steur nie. Ek het ‘n pragtige geleentheid om elke dag te kan werk en ‘n storie te vertel wat miskien iemand daar buite kan bemoedig. As ek ‘n verskil in net een persoon se lewe kan maak, sal ek gelukkig wees.

Wat is liefde vir jou?
Esther: Liefde is die suiwerste en magtigste aspek van menswees.
Natasha: Liefde vir my word die beste beskryf in 1 Korintiërs 13 vers 4. “Die liefde is geduldig, die liefde is vriendelik; dit is nie afgunstig nie, is nie grootpraterig nie, is nie verwaand nie.” Ons is nie hier om mekaar te oordeel nie, maar om goedhartig te wees. Ons moet ons naaste liefhê en mekaar respekteer. #ubuntu

Wat is jou lewensleuse?
Esther: Wees net gaaf!
Natasha: Moet nooit sê nooit nie. En onthou, jy kan altyd meer geld maak, maar jy kan nie meer tyd maak nie.

Wie is die drie mense wat jy graag aan jou tafel wil hê?
Esther: Frida Kahlo, Konstantin Stanislavski, Faye Dunaway.
Natasha: Oprah Winfrey, die ontslape Prinses Diana en Matthew McConaughey.

Watter Suidooster-karakter het die meeste in jou hart gekruip?
Esther: Mymoena. Ek kry tot in my tone lekker hoe Jill (Levenberg) daardie rol vertolk.
Natasha: Daar is so baie ongelooflike karakters wat al voorheen op Suidooster was en wat nog daar is. Ek sou sê Mymoena is een van my gunstelinge, maar daar is so baie wat in mens se hart kruip.

Wat is vir jou die mooiste Afrikaanse woord?
Esther: Pierewaaier.
Natasha: Kolwyntjie.