Logo
OSSS
web uni tv guide

Op Seer Se Spoor

145Dokumentêr13 V

Ernusta delf dieper in die derde reeks van Op Seer se Spoor

Nuus
16 September 2021
Die derde seisoen van die SAFTA-bekroonde reeks Op Seer Se Spoor, begin op 26 Oktober om 20:00 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145
OSSS1

kykNET&kie, in samewerking met Kuier-tydskrif, se bekroonde misdaadreeks, Op Seer se Spoor, keer binnekort terug met nóg opspraakwekkende sake wat families regoor die land geruk het – en vra ook moeilike, dog nodige vrae oor die land se regstelsel.

Ernusta Maralack, Kuier se artikel-redakteur, ’n vrou wat in haar loopbaan as joernalis al die ergste gesien het, herbesoek die tonele van die wreedste moorde in die Wes-Kaap en gesels met die families wat agtergebly het.

Ernusta sê die verfilming was soveel anders hierdie jaar omdat hulle tydens die derde vlaag infeksies die seisoen verfilm het.

“Dit was veral vir my bitter moeilik omdat ek myself konstant daaraan moes herinner om fisies my afstand te hou, want voor my was mense wat stukkend was; waarvan baie vir die eerste keer oopgemaak het oor hul groot seer en as mens moes ek baie keer net toekyk. Ander kere kon ek eenvoudig nie. Dit het my baie hulpeloos laat voel,” vertel sy.

In die eerste twee episodes herbesoek Ernusta een van die grootste slagtings wat Kaapstad al beleef het toe talle jongmans in 2003 in ’n masseersalon in Seepunt, Kaapstad vermoor is. Die slagoffers is vir ure lank gemartel voordat hulle kele afgesny en hulle teregstellingstyl geskiet is. Die twee moordenaars is nege keer tot lewenslange tronkstraf gevonnis. Die een het intussen gesterf, maar nou is daar ’n kans dat Adam Woest na slegs 17 jaar in die tronk op parool vrygelaat kan word. 

Ernusta gaan stel ook ondersoek in oor die sogenaamde plek waar vermiste liggame gevind word op die Kaapse Vlakte. ’n Geharde joernalis onthou die vrees wat die hele gemeenskap beetgepak het, selfs nadat die sogenaamde Stasiemoordenaar tronk toe gestuur is in die negentigjare. Bestaan “Die Gat” – waar liggame na bewering gereeld gelaat word – rêrig in Mitchells Plain? Volgens gerugte is dit die eerste plek waar gekyk word wanneer iemand vermis raak.

Dan, ’n man wat deur die media as die “Wellington-reeksmoordenaar” of die “Boland-moordenaar” bekend geword het, sal binnekort in die Wes-Kaapse hooggeregshof verhoor word. Hy het na bewering ten minste drie vroue vermoor nadat hy hulle met die vooruitsigte van ’n lening of werk gelok het. Hulle liggame is op ’n plaas aan die buitewyke van Wellington in die Wes-Kaap gevind. Die man word ook daarvan beskuldig dat hy ’n vierde vrou ontvoer en herhaaldelik verkrag het. Hy sal op ten minste drie moordaanklagte en verskeie van verkragting en ontvoering teregstaan. Ernusta gaan gesels met die slagoffers se families.

Vir Ernusta is daar gewoonlik in elke seisoen een of twee sake wat vir haar uitstaan, maar hierdie keer het elke liewe saak haar diep en hard geslaan.

“Hierdie keer was daar, sonder dat ons dit beplan het, ’n deurlopende tema van ma's wat in ondenkbare pyn sit nadat hul kinders van hulle af weggeruk was. Ek was so geraak deur die diepe pyn in hul oë, maar was terselfdertyd geïnspireer deur hierdie vroue se bomenslike krag om met hul pyn saam te lewe,” vertel sy.

Die reeks word deur Gambit Films vervaardig en fokus op agt sake in totaal.

Die derde seisoen van die SAFTA-bekroonde reeks Op Seer Se Spoor, begin op 26 Oktober om 20:00 op kykNET&kie, DStv-kanaal 145