Logo
Elders Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Elders

144ReisprogramPG

Erns weer Elders, dié keer in Namibië

Nuus
30 Maart 2021
Elders: Namibië skop af op Woensdag 28 Julie om 20:30 op kykNET.
bb

Die gewilde en SAFTA-bekroonde reisreeks Elders is vanjaar terug op kykNET met ’n vierde seisoen. Nadat Erns Grundling verlede jaar in die derde reeks die plaaslike Pelgrimstog van Hoop tussen Kaapstad en Kaap Agulhas gestap het, fokus hy nou op Namibië.

Erns en ’n filmspan van Bonanza Films is tans op ’n epiese avontuur van meer as veertig dae in ons geliefde buurland. “Ek is bevoorreg om Namibië al meer as twintig keer te kon besoek,” sê Erns, wat vroeër vir byna ’n dekade lank ’n joernalis by die tydskrif Weg was. “Elke keer voel dit soos ’n tuiskoms. Die ongelooflike natuurskoon, die gevoel van ruimte en die gasvrye mense is werklik spesiaal. En dan is hier natuurlik verskeie kleurryke karakters met wie ek graag in hierdie Elders-reeks wil gesels.”

Stap is sinoniem met Elders. “Ek is versigtig om te veel weg te gee, veral omdat ons nog alles eers moet verfilm,” sê Erns. “Maar ons beplan om gereeld te stap in hierdie reeks, in gebiede soos Namibrand, die Etendeka-berge en verder noord in Kaokoland. ’n Hoogtepunt waarna ek baie uitsien is om Live The Journey se nuwe Namib100-staptog van 100 km in die Namibwoestyn te stap en te verfilm. Dit is ’n ware ‘bucket list’ stapervaring suid van Walvisbaai. En, as alles goed uitwerk, gaan ons die Visriviercanyon-staptog ook aandurf.”

Die regisseur Frankie Opperman van Bonanza Films sê dit is nie altyd maklik om Elders te verfilm nie. “Om saam met Erns hierdie avonture te verfilm stel soms hoë eise aan liggaam en gees, maar ons keer almal terug huis toe met onvergeetlike herinneringe en stories.”

Met plaaslike reis wat weer na die voorgrond tree tydens die Covid-19 pandemie hoop Erns hierdie Elders gaan kykers inspireer om self na Namibië te reis. “Namibië se toerisme het die afgelope jaar, net soos Suid-Afrika s’n, geweldig swaargekry. Dit is altyd vir my wonderlik om van kykers te hoor wat die reeks geniet het en self dan na die plekke gaan reis het. Internasionale reis gaan waarskynlik vir ’n geruime tyd nie haalbaar wees nie, en Namibië is ’n puik, veilige en bekostigbare bestemming.”

Elders: Namibië word ondersteun deur Toyota SA, Virseker, ClemenGold Gin en Rethink CBD. “Sonder borge is ’n reeks soos Elders eenvoudig nie moontlik nie,” sê Erns. “Ons is baie dankbaar vir ons lojale borge wat al ’n pad saam met Elders stap, asook twee nuwes wat hierdie Namibië-reeks gaan ondersteun.”

Elders: Namibië is ’n reeks met dertien episodes en begin op Woensdag 28 Julie om 20:30 op kykNET. Daarna word die reeks op kykNET&Kie herhaal op Dinsdae om 20:30. Dit sal ook later op Showmax beskikbaar wees. Al drie vorige Elders-reekse is tans op Showmax.