Logo

Episode 2: Bak vir ontbyt

Nuus
20 Maart 2015
Ep.-2-Opsomming-300x200

Vanaf dié week is daar drie uitdagings om te bemeester: tuis-, fyn- en pronkgebak. Om ál drie baas te raak sit nie in elke bakker se voorskoot nie, en só gaan die krummels van die koekies geskei word.

“Ek hoop ek is ’n koek en nie ’n krummel nie,” sê Valerie. Die tema is “bak vir ontbyt”, en die tuisgebak-uitdaging is om soetbrood te bak.

“Ons is eier-en-boerewors-mense,” sê Mareli oor haar familie. “Ons eet nie koek vir ontbyt nie.”

Sy maak ’n piesangbrood en rooster haar piesangs in die oond om dit “ryp” te kry (kry die resep hier). Gerda se neutbrood, of “troosbroodjie”, is haar ouma se resep. Valerie se skoonma, Poppie (“Dis nou nie Poppie van Kokkedoor nie, maar Poppie van Boksburg.”), hou baie van dadels en dít het haar laat besluit om ’n dadelbrood te bak. Sy maak ook ’n karamelsous. Kry die resep hier.

Martjie maak ’n appel- en amandelbroodjie. Kry die resep hier.



Sy ma het daarvan gehou om soggens pampoenbrood te bak, vertel Gerrit. Hy maak ’n botterskorsie-teebroodjie, sommerso uit die geheue. Kry die resep hier.

Caroli gee haar piesangbrood ’n effense kinkel met ’n pekanneut-bolaag.

Sy is nie self lief vir gemmer nie, maar sy weet “dit bak ’n mooi broodjie”, sê Tish oor haar gemmerbrood. Louise se skoonma is ’n meesterbakker en sy het die resep vir die papawer-en-klapper-broodjie by haar gekry. Murray bak ’n murgpampoentjie-brood. Murgpampoentjies laat hom dink aan sy tannie, wat op dieselfde dag as hy verjaar en aan borskanker oorlede is.

Cecilia bak ’n piesang-en-pekanneut-brood. Kry die resep hier.

Volgende is die fyngebak-uitdaging, en die beoordelaar Tiaan beproef die Koekedore se tegniek met kamma-mosbolletjies met nartjie en anys (kry die resep hier). Dié gisgebak word in ’n brioche-pan gaar. “Hoewel jy dit ’n brioche noem, is dit nie so fyn soos die Franse brioche nie, “sê Mari-Louis. Baie dinge kan egter verkeerd loop, meen Tiaan.

Op watter stadium die anys bygevoeg moet word is vir baie ’n raaisel.

“Ek gaan rus,” sê Gerrit toe die beoordelaars aankondig die Koekedore is klaar vir die dag. “Daar is geen hoop nie,” sê Louise. “Nie vir my of die brood nie.”

Die volgende oggend maak die deelnemers kennis met die koning van die ontbyttafel: Deense gebak.

34 rozanne


In die pronkgebak-uitdaging word daar van die deelnemers verwag om ’n haas uit ’n hoed te ruk. Hulle moet verrykte deeg en gis gebruik en boonop hul gebak ’n Suid-Afrikaanse kinkel gee.

Gerda maak ’n Sweedse broodjie met lemoen, rum-likeur en sjokolade. Caroli fokus op die kombinasie van appelkoos, amandel en witsjokolade, maar maak ook ’n gebak met toffie, peer en kaneel. Louise gebruik skilferkors- en verrykte suurdeeg vir haar gebak (kry die resep vir Louise se lemoen-en-sjokolade-soetbolletjies hier), en Murray se Deense vierkante word met appelkose, gekook in brandewyn, gevul.

Daar is verder ’n Deense vlegsel met appel en Amarula, stollen met groenvyekonfyt (kry die resep hier), geposjeerde pere, bakkersvla met rooibos en ’n Sweedse koffiering op die tafel. Die beoordelaars lyk bekommerd oor Gerrit se kombinasie van soet en sout.

Dan breek die groot oomblik aan. Die deelnemers hoor dat Caroli, Cecilia en Mareli die beoordelaars die meeste beïndruk het. Mareli is die episode-wenner.

Louise, Gerrit en Valerie is ongelukkig aan die verloorkant, en Louise word eerste huis toe gestuur. “Ek gaan verdomp nooit weer brood eet nie,” sê sy. “Ek is klaar met brood – for life. Suurdeeg sien my nooit weer nie.”



Koekedoor is op Facebook, Twitter en Pinterest.