Logo

Episode 11: Raaiselkoeke

Nuus
22 Mei 2015
Vandeesweek se tema fokus op gebak met verskuilde boodskappe en verrassings: raaiselkoeke.
Opsomming-Banner

Oud word weer nuut. Vandeesweek se tema fokus op gebak met verskuilde boodskappe en verrassings: raaiselkoeke.

Hulle is ál drie in die kosbedryf, ál drie het hul eie ondernemings, en nie een is opgelei nie. Só gesels Mareli oor haar, Martjie en Gerda, en hoekom dié drie so goed oor die weg kom. Sy meen hulle het sukkel, swaarkry en hárd werk in gemeen. “Dis dalk hoekom ons drie hier is.”

Die tuisgebak-raaisel is ’n marmer- of albasterkoek, maar die beoordelaars het ook ’n verrassing of drie vir die Koekedore.

Die episode-wenner wen ’n suikerkursus by die Capsicum Culinary Studio ter waarde van R50 000, sowel as ’n R5000-geskenkbewys van Lekkeslaap.co.za. Boonop verlaat niemand vandag die stoor nie.

Mareli spring weg met ’n pienk-en-wit koek, wat sy versier met witsjokolade-ganache en versuikerde rose. Martjie kies die kombinasie van wit- en bruinsjokolade.

Sy het op die albasterkoek besluit weens die verskillende kleurkombinasies, sê Gerda.

Nóú raak die kompetisie warm.

Geen goeie poker-speler deel sy geheime aan die begin nie, sê Mareli. Só hou Gerda haar aan die raai. “Sy maak asof sy niks weet nie,” sê Mareli. “Maar sy weet dubbel soveel as ons twee.”

Nou is die game on, sê Gerda.

“Hierdie is regte mense met regte lewens, wat ’n groot kans gewaag het,” sê Mari-Louis oor die drie deelnemers. Sy het groot respek daarvoor, sê sy.

Terwyl die beoordelaars Martjie se marmerkoek sny, sê Mari-Louis: “Ek gaan hierdie ronde hard wees op julle.” Stilering gaan ál belangriker raak, sê sy.

Die fyngebak-kopkrapper is Mari-Louis se Battenberg-koek – ’n Victoriaanse treffer.

Sy gaan dié resep ’n paar keer moet deurlees, sê Gerda, want sy het nog nooit van die Battenberg gehoor nie. Sy ken dié koek, sê Martjie, maar die marsepein en fondant-versiersel is vir haar ’n uitdaging.



Dis die eerste keer wat sy amandels moet afskil, sê Mareli. “Ek is nie mal oor koeke wat baie bling is nie,” sê Martjie.

In die pronkgebak-uitdaging verwag die beoordelaars ’n kreatiewe raaiselkoek.

Gerda bak ’n reënboogkoek “met ’n stoute dwergie” wat sy pad na die reënboog “oop eet”.

’n Philip de Vos-rympie is Martjie se inspirasie. “Elke kind moet ’n boom hê…”

Wat is een keer in ’n oomblik, een keer in ’n maand en twee keer in ’n millennium? Die antwoord op dié raaisel word in Mareli se koek versteek.

Die beoordelaars was veral beïndruk met Mareli se M-koek, en sy word as die episode-wenner gekroon. Sy kan nie wag vir die kursus nie, sê Mareli.