Logo

Episode 10: Bak vir die brei- en hekelklub

Nuus
15 Mei 2015
Die gedagte aan gevlegde soetgoed het sommige meer angstig gehad as ander.
Beoordelaars-en-Gerda-300x200 (1)

Die druk op die oorblywende vier Koekedore raak ál groter, en in vandeesweek se episode word daar op die top-drie besluit.

“Ek voel trots,” sê Gerrit. Vandág word daar vir die brei- en hekelklub gebak, en die Koekedore moet vleg- en draaiwerk baasraak.

Eerste is die tuisgebak-uitdaging, en die Koekedore moet koeksisters vir die beoordelaars voorsit. Die gedagte aan dié gevlegde soetding het sommige meer angstig as ander. “Gerda bak die beste koeksisters in die land,” sê Mareli.

“Die mense op die dorp noem my Ouma Rooi, of Tannie Koeksister,” sê Gerda. Sy gebruik haar ma se resep.

Koeksister-deeg móét geknie word, meen Mareli. “Daar is ’n koeksister-fabriek agter ons,” sê Mari-Louis oor Gerda.

In die fyngebak-uitdaging moet die Koekedore Tiaan se indrukwekkende laslappie-kaaskoek naboots. Die instruksies lees dat die vrugte by die kaaskoek-mengsel gemeng moet word “totdat dit bloei”, maar volgens Mareli is sy onseker oor “die hoeveelheid bloed wat hulle wil hê.”

Gerda is bekommerd oor hoe slap die deeg is, en Gerrit raak paniekerig oor die fynwerk. “Wat weet ’n man van borduurwerk af?”

Gebakte tert met ’n ornamentele bokors is vandeesweek se pronkgebak-uitdaging. Mareli maak ’n pers deeg, met ’n bloubessie-vulsel. Gerda gebruik gemengde bessies, en Martjie pere.

Hy voel vandag rêrig soos die haan onder die henne, sê Gerrit. Hy maak ’n druiwe-tert.

Vandag se episode het goeie gebak opgelewer, sê tannie Elizabeth later. Dis moeilik om iemand huis toe te stuur, sê sy. “Ons het vir julle lief geraak.”

Gerda word as episode-wenner aangewys, en Gerrit word die sewende Koekedoor om die stoor te verlaat. “Ek was nie teleurgesteld nie, en ek was nie hartseer nie,” sê Gerrit. “Dít verdien mos ’n baie groot smile en heuning om die bek.”

Koekedoor is op Facebook, Twitter en Pinterest.