Logo
web uni tv guide

eNuus

144NuusPG13

eNuus vir 'n dekade op kykNET

Nuus
18 Julie 2020
Op Saterdag 18 Julie vier kykNET (DStv-kanaal 144) se daaglikse nuusbulletin, eNuus, ‘n dekade op die kanaal. Vir 10 jaar al bring eNuus jou onafhanklike en geloofwaardige nuusdekking in Afrikaans van gebeure plaaslike en internasionaal. Ons lig jou in, laat jou dink, inspireer en vermaak jou.
ENuus Article Image

“ ‘n Baanbrekerspan het op 18 Julie 2010 geskiedenis gemaak toe kykNET die eerste onafhanklike Afrikaanse TV-nuusbulletin op lug gesit het,” sê eNuus-redakteur, Paul Dunn. “Ons vier hierdie besonderse verjaarsdag in buitengewone omstandighede en saam met almal wat oor die jare tot die sukses van ons bulletin bygedra het. Dit sluit ook ons kykers in, want sonder hulle volgehoue ondersteuning sou eNuus nooit sy tiende verjaarsdag gehaal het nie.”

‘n Paar van die eNuus-spanlede vertel van hul gunsteling oomblikke op stel:

“Daar is nie ‘n spesifieke oomblik wat uitstaan vir my nie, maar meer oor hoe ek oor die afgelope paar jaar met eNuus gegroei het. Van ‘n verslaggewer vir bykans vyf jaar in die Wes-Kaap waar ek nuus en sport gedek het, tot in 2018 wat ek ‘n sportanker geword het,” meen Percivale Young. “En my een hoogtepunt was in 2015 toe ek die uitkloprondtes van die Rugby Wêreldbeker-toernooi in Engeland vir eNuus gaan dek het...Ek is baie dankbaar om vir ‘n groot deel van die dekade met ‘n dinamiese span te kon werk.”

Daniëlla van Heerden is reeds tien jaar deel van die span en beskou dit as ‘n ongelooflike voorreg. “Ek het ‘n paar maande na die eerste bulletin by die span aangesluit – eers as veldverslaggewer en later as nuusleser. As veldverslaggewer staan veral die wonderlike plekke wat mens sien en die mense wat jy leer ken uit. ‘n Gebeurtenis wat veral vir my uitstaan is toe Madiba in 2013 oorlede is en sy roudiens in Soccer City gehou is. Bekende wêreldleiers was daar en die stadion is volgepak deur Suid-Afrikaners – ek was daar om daaroor verslag te lewer. Dis ‘n voorreg om na ‘n dekade steeds deel van die span te wees.”

Barron Hufkie het in Februarie vanjaar by die eNuus-span aangesluit. “As die jongste lid is dit vir my ‘n groot voorreg om deel van so ’n gedugte span te kan wees. Die eNuus-span het in hierdie interessante en uitdagende tyd waarin ons leef, bewys dat dit ‘n betroubare en akkurate nuusbron is. Ek is besonders trots op die span en ál die harde werk wat agter die skerms ingesit word. Mag die volgende 10 jaar net so suksesvol wees!”

Volgens Gerhard Pretorius, wat sedert 2013 deel van die eNuus-span is, was daar ontelbare hoogtepunte. “Vir my wat uitstaan is die spanwerk en hoe almal altyd bereid is om te help net waar hulle kan. Daar is regtig ongelooflike mans en vroue wat hier werk. En persoonlik, om die Oscar Pistorius moordverhoor van begin tot einde te kon dek, slegs 'n maand en 'n half nadat ek by eNuus begin het, het vir my gewys die vertroue wat die bestuur gehad het in my vermoeë as verslaggewer.”

Onthou om elke dag om 19:00 in te skakel vir nuus wat jou inlig, laat nadink en wat jou ook inspireer!