Logo

En, die nuwe aanbieder van Boer soek ’n vrou is…

Nuus
06 Februarie 2020
Boer Soek ’n Vrou het ’n nuwe aanbieder!
BSV_Web-Billboard_1600x640

Foto deur: Sulet Fourie

Die model en lewensafrigter, Marciel Hopkins, word die nuwe gesig van kykNET se gewilde werklikheidsreeks, waarvan die dertiende reeks vanjaar uitgesaai word.

Marciel, wat in 2016 as een van die top-12 finaliste in die Mej. Suid-Afrika-kompetisie aangewys is, is die sesde aanbieder van Boer Soek ’n Vrou, sedert dit in 2007 vir die eerste keer kykers geboei het.

Sy volg vir Leah as aanbieder, wat die afgelope twee jaar vir talle boere help liefde vind het, op.

Marciel het drama aan die Universiteit van Stellenbosch studeer en sy spog ook met ’n Honneursgraad in sielkunde, ook van Maties. Sy het sedert haar studies as ’n lewensafrigter gekwalifiseer en gee gereeld motiveringspraatjies, terwyl sy as professionele model die wêreld rondrits.

Maar Marciel, wat in die Boland grootgeword het, sê sy is reg vir die plaas aangesien sy basies haar kinderjare tussen die wingerde spandeer het, as gevolg van haar pa, Charles, wat deesdae die keldermeester by die bekende Kaapse wynlandgoed, De Grendel is.

Dit is vir Marciel ’n droom wat bewaarheid word om aanbiedingswerk in Afrikaans te doen.

“Ek is passievol oor mense en om 'n impak op hul lewens te kan maak, dus kon ek nie vir 'n beter geleentheid as Boer Soek ’n Vrou gevra het nie.”

“Ek is baie dankbaar vir hierdie uitdaging en om só deel te word van tien boere se soeke na liefde.” Marciel sien ook uit om met Boer Soek ’n Vrou meer van Suid-Afrika te verken.

“Dit is vir my opwindend om te dink dat ek dele van die land gaan sien wat ek dalk nooit andersins sou besoek het nie nie. Ek gaan dus ’n toeris in my eie land kan wees, want daar is soveel mooi, plattelandse plekke wat ek nog nie gesien het nie!”

Inskrywings vir boere wat met Boer Soek ’n Vrou in 2020 wil liefde vind, open in Maart, terwyl die reeks van Oktober op kykNET uitgesaai sal word.