Logo

Elders: Die Camino – Van Triacastela na Barbadelo

Nuus
20 Februarie 2018
Erns Grundling deel ’n uittreksel uit sy boek Elders, wat vertel hoe hy naby Sarria stap.
Elders

Foto: Getty Images

Deur Erns Grundling

Snorring!” Ek skrik runnikend wakker. Katrin, die Duitse vrou wat saam aan die etenstafel gesit het, staan teenaan my bed. Sy dra wit slaapklere. Ook maar goed ek het haar gisteraand ontmoet, anders het ek dalk gedink dis ’n spook met ’n swaar Duitse aksent.

Sy kap met haar hand op die matras. “You are SNORRRING!

Dit is nog iewers diep in die nag. Ek hoor nog mense rondskuifel in beddens. Katrin keer terug na haar bed, so drie meter van myne af. Uit ’n ander hoek hoor ek iemand sug. Ek draai op my sy, voel half skuldig om weer aan die slaap te raak. Miskien moet ek maar opstaan en my Provent-pleisters opplak, maar so maak ek dalk wéér iemand wakker.

Ek staan ’n paar uur later moeg op. Dit voel ’n bietjie soos wanneer Valiant Swart sing: “Woke up this morning, en die Here weet die duiwel was daar.” Of eerder, die Duitser was daar.

Katrin is nog nie klaar met my nie. Sy storm op die ontbyttafel af waar ek, Timna en Anna sit en jogurt eet. “I didn’t sleep at all last night because of your snoring,” sê sy, steeds woedend.

Ek probeer tussen groot happe jogurt en volledig op die agtervoet om verskoning vra. “I’m sorry, I didn’t keep you awake on purpose.

You should go see a doctor, you really have a problem,” kap sy terug.

Yes, I have a medical condition.”

Timna staar na haar bakkie jogurt. Sy het nog nie vandag ’n woord gesê nie. Haar bed was reg langs myne. “Did you also not sleep?” vra ek versigtig. Sy skud net haar kop, maak geen oogkontak nie. Lyk my jy kan op die Camino selfs in jou slaap vriende verloor.

Shame, poor you,” sê Anna en glimlag.

Ek wil so gou moontlik uit die albergue kom en begin stap. Terwyl ek klaar inpak, staan Timna langs my bed en lig haar arms op. ’n Oomblik dink ek sy wil my high-five.

Maar dan sien ek sy het iets op elke handpalm geskryf. “In silencia” links en “Gracias” regs. Nou verstaan ek waarom sy vanoggend nog niks gesê het nie. Sy is nie kwaad vir my oor my snorkery nie, sy wil net in totale stilte stap.

Ek groet die eienaar, Marijn, en vertel vir hom van die Duitse vrou wat met my geraas het. “They’re good at that,” sê hy met ’n laggie.

Ek het vandag net sowat agttien kilometer in my visier, tot by Sarria. Van daar af gaan dinge aansienlik besiger raak, so ek moet hierdie stil pad in die woud buite El Beso waardeer.

1519127284 33 elders

Kobus Zietsman, Erns Grundling en Charlenè Brouwer

Die meeste mense wat die Camino stap, begin naamlik by Sarria, want dit is die grootste dorp naby die honderdkilometer-merk – die minimum afstand wat jy moet aflê om ’n Compostela-sertifikaat te kry.

Die doring waarin ek gister by die hangmat getrap het, is lastig. Darem nie soos Paulus van ouds en sy doring in die vlees nie.

Timna stap ’n ent voor my en stop kort-kort om ’n foto te neem, maar ek respekteer haar versoek tot stilte en maak nie geselsies nie. Ek het al eenkeer ’n “stil” staptog oor twee dae saam met vriende gedoen naby Alexandria in die Oos-Kaap, en ek het dit baie betekenisvol gevind.

Speak only if it improves upon the silence,” het Gandhi gesê. Wanneer jy mooi hieroor dink, bly daar dikwels maar min oor om te sê.

Timna wink my wel nader toe sy ’n bordjie by ’n afdraaipad sien wat lees: Alquimia. Minerals. Ons volg die paadjie en stap in stilte tot by ’n huis in die woud wat ook ’n kunsgalery is.

Dit herinner my aan die Uilhuis buite Nieu-Bethesda, maar sonder die depressie. Die kunstenaar, Antonio Bello, groet ons vriendelik in Spaans. Hy lyk soos ’n shaman of druïde (sonder die gebruiklike lang baard). Iemand wat tuis sou wees in ’n Asterix-boek.

Sy Engels is helaas karig. Ek sou baie graag met hom oor sy kuns wou praat. Antonio se skilderye is vol esoteriese en mistieke elemente – sirkelvormige patrone, geometriese vorme en mandalas.

Op die boonste verdieping is ’n onderbeligte vertrek met kussings en ’n kers, waar pelgrims kan mediteer. Ek sit vir ’n paar minute kruisbeen op een van die kussings.

Antonio het ook ’n groot versameling kristalle. “You choose,” sê hy met ’n glimlag toe ek ’n mandjie met kristalhangertjies bekyk. Ek tel ’n liggroen kristal op. “Amethyst.”

Hy druk op sy hart. “Healing energy.”

Dit kos twintig euro, maar ek betaal dit graag. Nou het ek nóg ’n hangertjie saam met my geel Camino-pyl en die kruis van San Juan de Ortega.

Elders: Die Camino is elke Dinsdag om 17:30 op die kassie. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram  met die hutsmerk #Elders.