Logo
Alles Malan – Slim
web uni tv guide

Alles Malan

144DramaPG13 L

Eerste episode skop met spoed af – Alles Malan

Nuus
30 November 2021
Loer hier na hoogtepunte vanuit die eerste episode van die tweede seisoen van Alles Malan.
Alles Malan – Episode 1

Dit is drie jaar later nadat ons die Malans van die eerste seisoen gegroet het. Elani (Greteli Fincham) se klein Junior is ’n blondekop seuntjie, Freek (Mateo Olivier) is in graad 11 en Lee-Ann (Nicole Fortuin) en Nico (Sean-Marco Vorster) wag op hulle eersteling.

Intussen is Derik (Albert Maritz) se gesondheid glad nie wat dit moet wees nie, maar hy steek dit veral vir Brenda (Elsabé Daneel) weg. Selfs toe sy dokter vir hom sê hy moet ’n operasie ondergaan en dat dit is ’n kwessie van lewe en dood is, skop hy vas.

By Malan Vervoer gaan dinge nie beter nie. Frik (Ivan Zimmermann) probeer sy bes om al die balle in die lug te hou, maar dit gaan broekskeur. Tessa (Nadia Valvekens) het weer begin werk, maar in haar geval is sy baie suksesvol is en daar is selfs sprake van ’n verhoging. Gaan Frik sy trots in sy sak steek en haar hulp aanvaar wanneer sy dit aanbied?

Freek se biologiese ma, Cathy (Kay Smith), en haar gesin het Paarl toe getrek om nader aan hom te wees. Is bloed dikker as water of sal sy lojaliteit altyd by die Malans le? Freek is ook tot sy ore toe verlief op Jessica (Chelsea Thomas) en dit lyk of die gevoel wedersyds is.  

Johan (Brent Vermeulen) en Elani is nog ’n paartjie, maar hy los ’n bom toe hy vir Elani sê hy gaan sy studies staak en in Suid-Amerika werk. Is dit die einde van hulle verhouding?

Die episode eindig op ’n hoogtepunt met Lee-Ann en Nico se klein Nina wat met ’n tuisgeboorte in haar ouma en oupa se huis gebore word. Aan die begin van die episode sê Brenda sy is bang die Malans lewe bymekaar verby, maar aan die einde – wanneer Derik weer ’n foto van hulle saam neem – is dit duidelik dat die Malans bymekaar deur dik en dun sal staan.

Skakel elke Dinsdagaand om 20:00 in vir Alles Malan op kykNET (DStv-kanaal 144).