Logo
web uni tv guide

Dwaalster

144Drama13VL

Wie is wie – Dwaalster

Nuus
07 Januarie 2019
Op 8 Januarie ontmoet ons die mense van Maanhaarsdrif in Dwaalster, kykNET se nuwe Dinsdagaand-dramareeks.
Wie is wie – Dwaalster

Dwaalster is ‘n drama wat op die Karoo-dorpie Maanhaarsdrif afspeel. Annabel, ’n joernalis, keer terug na haar tuisdorp ná ’n reeks artikels wat sy oor hidro-breking en staatskorrupsie geskryf het verskyn. In Maanhaarsdrif ontdek sy egter ’n donker geheim wat haar al jare laat wonder. Sy besef ook die dorpie met sy eksentrieke inwoners het ’n misterieuse verlede. Hoewel haar artikels niks te doen het met die dorpie nie, bring dit tog haar geliefdes in gedrang.

Annabel Loots (Tinarie van Wyk Loots): 
’n Intelligente ondersoekende joernalis wat dalk soos ’n tawwe tienie voorkom, maar ’n sagte, sensitiewe kant het. Sy was min in Maanhaarsdrif sedert haar ma se dood en het ’n goeie, dog terughoudende verhouding met haar pa, Frans, en suster, Ragel-Lee. Stian is haar eerste liefde.

Stian Volsckenk (Jacques Bessenger):
’n Saggeaarde dokter wat onlangs uit Kanada teruggekeer het. Hy het ’n passie vir kuns en skilder portrette van die dorpenaars. Hy is verlief op Annabel en sal enigiets doen om haar terug te kry.

Peter Isaacs (David Isaacs):
Redakteur van die koerant Die Diens. Peter het ’n eksvrou, Charmaine, en ‘n tienerseun, Billy. Hy is aangetrokke tot Annabel en gee baie om vir haar veiligheid.

KYK OOK: HOE HET DIÉ MENSE OP MAANHAARSDRIF BELAND.

Lettie van Rooyen (Joanie Combrink):
Die troosskrywer van die plaaslike koerant. Sy maak graag stories op en steek haar neus in ander mense se sake. Sy is ’n liewe vrou wat nog rou oor die dood van haar sielsmaat, Dok Hennie, Stian se pa, asook die dood van haar seun Willem, ’n kindertydvriend van Annabel en Stian.

Frans Loots (Albert Maritz):
’n Joviale man met ‘n voorliefde vir putt-putt. Hy is ’n wewenaar wat baie trots is op sy twee dogters, Annabel en Ragel-Lee. Frans is ’n Blou Bul-ondersteuner wat wrywing tussen hom en sy vriendin, Ivy, veroorsaak.

Lukas Bruwer (André Odendaal):
’n Depressiewe skrywer en introvert wat in die plaaslike hotel, Die Vlieënde Piering, woon. Hy sukkel om ’n roman te skryf, maar deur die proses is hy besig om onderdrukte herinneringe uit sy jeug te onthou.

Randall McCleod (Jarrid Geduld):
Die atletiese kroegman by Die Vlieënde Piering wat Tai Chi beoefen. Hoewel dit voorkom of hy nie ’n kwaal in die lewe het nie, is hy bekommerd oor sy seuntjie wat by sy eksvrou woon.

KYK OOK: TRAUMATIESE LIEFDE.

Gina Devine (Tarryn Wyngaard):
Gina is doof en het ’n sterk intuisie wat grens aan die heldersiende. Sy is ’n kelnerin en die spirituele en morele kompas van die dorp.

Ruan Philander (Terence Bridgett):
Die mede-eienaar van Die Vlieënde Piering. Lojaal teenoor sy man, hul hond, sy werknemers en vriende. Hy is ’n aangenome kind wat smag om sy biologiese ma te ontmoet.

Luan Labuschagne (Neels van Jaarsveld):
Die flambojante mede-eienaar van Die Vlieënde Piering en Ruan se man.

Ivy van Graan (June van Merch):
Sout van die aarde, energiek en die burgemeester van Maanhaarsdrif. Ondersteun die Stormers, lief vir pret en sal haar dorp en sy mense met alles in haar verdedig.

Ragel-Lee Loots (Erica Wessels):
’n Verkeerskonstabel wat vir haar werk lewe. Sy is sosiaal ongemaklik, maar is baie lief vir haar suster, Annabel, en haar pa, Frans.

KYK OOK: DIE MISTERIEUSE DORPIE.

Bliksem (Carel Nel):
Die plaaslike hawelose man wat aan skisofrenie ly. Hy het ’n voorliefde vir raaisels wat gereeld vir Annabel laat kopkrap. 

Charlie (Albert Pretorius):
’n Ryk, plat-op-die-aarde motorfietsliefhebber wat gereeld in Maanhaarsdrif kom om te kyk of hy weer Gina se hart kan wen.

Petrov (Grant Swanby):
’n Rus wat enigiets vir geld sal doen. Hy is die personifikasie van boosheid.

Minister Bhele (Sizwe Msutu): 
’n Man wat net sy eie belange op die hart het. Hy het geen morele kompas nie en weet hoe om sy hande skoon te hou terwyl hy almal om hom rot en kaal besteel.

Die reeks is deur die bekroonde dramaturg en teaterregisseur Nicola Hanekom geskryf en die regisseur is Jaco Bouwer wat vir die trefferreeks Waterfront verantwoordelik was.

Dwaalster saai elke Dinsdag om 20:00 uit vanaf die 8ste Januarie. Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram met die hutsmerk #Dwaalster.