Logo
web uni tv guide

Die Groot Ontbyt

144AktualiteitPG

Dubbele vreugde vir Die GROOT Ontbyt-span

Nuus
28 Junie 2019
Kom deel in die pajamadril hier onder.
DGO_Dubbele Vreugde

Die ooievaar is vanjaar besonder bedrywig onder Die Groot Ontbyt-aanbieders. Die span het nie een nie, maar twee bondeltjies vreugde onlangs verwelkom – net betyds vir Vadersdag. Ons het by die trotse ouers gaan inloer.

Hendri Myburgh

Hendri Myburgh is geen vreemdeling as dit kom by pajamadril nie. Hy en sy vrou Zonica het reeds ’n driejarige seuntjie, Marloux. Klein Lua-Mae het op 23 Mei haar opwagting gemaak, en op 3,64 kg was sy net ’n rapsie langer as ’n liniaal.

Wat is die eerste gedagte wat deur jou kop gegaan het toe jy hoor jou vrou is weer swanger?
Kan ek nou wéér sê dat ek pa word, wanneer ek alreeds ’n pa is?

Hoe het die swangerskap jou geaffekteer – het jy ook vir twee geëet?
Klaarblyklik sê hulle (wie okal die ‘hulle’ is) dat ’n man geneig is om meer gewig op te tel, wanneer vroulief ’n dogtertjie verwag … Hoe waar dit is weet ek nie, maar hul sê die skaal jok nooit nie.

Hoe het julle op die naam besluit?
Shakespeare het sekerlik nie verniet gevra: “What is in a name?” nie. As ouers is ons vanaf ons eersteling daarop gesteld gewees dat ons kinders hul eie naam moet hê. Baie aanhangers mag my dalk nou kruisig, maar ons het weggedoen met familiename. Elke naam dra egter ’n dieper betekenis en wil ons lewe spreek met ’n positiewe ingesteldheid waarokal ons gaan. Volgens my vrou, Zonica, moes ’n dogtertjie-naam sag wees. Almal het gewag vir die ‘Brangelina’ oomblik met ‘n naam soos Zondri, maar dit sou nie deug nie. Vroulief het gehou van die naam ‘Lua’, maar die naam was na my mening te kort om behoorlik op die ore te val. Ek het Luamé voorgestel, maar nadat ons spelling oorweeg het en ook die betekenis van die naam nagevors het, het ons op ‘n kreatiewer manier van spelling besluit: Lua-Mae, wat beteken “Graceful Warrior, gift of God.” – en dis presies wat ons prinses is!

Watter eienskappe hoop jy kry jou kind nie van jou nie. En hoekom?
My ongeduld. Hoewel baie mense ongeduldigheid koppel aan selfgedrewenheid of gedetermineerdheid moet ’n mens soms besef en daarby berus dat Rome nie in een dag gebou is nie.

Hoe betrokke is jy met die pajamadril?
Met ’n driejarige laaitie in die huis kan ’n mens nie anders as om betrokke te wees nie. Wanneer mamma na sussie se belange moet omsien, probeer ek gereed staan vir die onverwagse “pappa” roepe vanuit ’n ander kamer, twee-uur in die oggende.

Watter tipe ouerskapstyl volg jy?
Wat? Is daar ’n ouerskapstyl? Ek moet bieg, ek dink ek is ’n streng ouer, maar kombineer dit met soveel as moontlik liefde, ondersteuning en aanmoediging. ’n Kind moet weet dat sy ouers vir hom/haar lief is, luister en ondersteun. Ek probeer soveel as moontlik vir my kinders sê hoe lief ek hulle het en dat hulle tot alles in staat is, ongeag hoe belaglik ’n droom mag klink. ’n Kind wil dit hoor (ek weet ek wou) en al kan my dogtertjie nie ’n woord verstaan nie, is ek seker daai woorde steek iewers vas.

Hoe groot is die sprong van een kind na twee kinders?
Wel as ek reg tel, is dit net een (tong-in-die-kies). Dit is beslis ’n aanpassing, maar ’n aanpassing wat ek vir enigiemand sal aanbeveel. Twee is immers beter as een!

Wat het niemand vir jou gesê voor jy kinders gekry het nie?
Dat jou hart seerder kry as dié van jou kind wanneer hy/ sy seerkry. Dat jy in die geheim maar jou gesig soms wegdraai om sélf die trane te probeer keer.

Wat is jou droom vir jou dogter?
My dogtertjie, pappa se prinses, poplap (hoe cliché dit mag klink) … Mag jy grootword met die liefde van Jesus in jou hart en mag jy daai liefde op ’n daaglikse basis na ander uitstraal. Mag jy ’n voorloper en uitblinker wees in dit wat jy aanpak. Mag jy altyd die stemmetjie agter in jou kop hoor wat sê dat jy tot alles instaat is. Mag jy in die moeiliker dae van die lewe weet dat dié pappa spesiaal twee ore en twee breë skouers gekry het vir jou om enige tyd te gebruik. Mag jy die liefde van jou lewe ontmoet wat jou liewer as homself het en mag jy nooit vergeet hoe trots jy dié pappa-hart laat klop nie. Mag jy nooit vergeet dat jy ALTYD ’n plekkie in my hart het en dat ek ongelooflik lief is vir jou!

Su-an Müller-Marais

Su-an en manlief Gunther het vir die eerste keer ouers geword op 17 Mei. Klein Jacobus Müller, met sy welige haredos, is 52 cm lank en het die skaal op 3,5 kg laat stilstaan. 

Wie is die eerste mens wat jy gebel het toe jy hoor jy’s swanger en hoe het die gesprek verloop?
Ek het ’n dag voor my man se verjaarsdag uitgevind ek is swanger en wou hom met die uitslag verras op sy verjaarsdag. Dit was die langste 24 uur van my lewe, veral toe hy boonop laat moes werk, en ek sit gereed met die kersies en ballonne en Captain America-pakkie (hy’s gek oor Captain America) by die huis en wag om die nuus te breek. Ek het die bloedtoets se uitslag in sy kaartjie gesit wat sê: “You did it” ... en hoewel nie een van ons eintlik die hormoonlesings op die uitslag kon ontsyfer nie, het hy geweet dit beteken hy het raakgeskiet.

Watter vreemde cravings het jy gedurende jou swangerskap gekry?
My enigste snaakse craving was spanspek – ek en my kollega kon elkeen ’n hele spanspek vir middagete verorber – veral in die begin –  later agtergekom dis die foliensuur in spanspek wat my lyf agter aan was.

Wat is die vreemdste swangerskap-raad of -wenke wat jy ontvang het?
Vreemdste swangerskapwenke? Oeg, daar’s baie: Moenie jou hare kleur of jou naels gel nie, eet vir twee (nie nodig nie), kry ’n keiser, moenie ’n keiser kry nie, smeer kasterolie aan jou maag, hou op melk drink, moenie te veel beweeg nie (ek het nog tot op 34 weke ge-gym). En die beste raad: Luister na jou liggaam, bly gesond en gun jouself genoeg voete-in-die-lug-tyd!

Hoe het julle op die naam besluit? 
Ons wou graag albei oupas vernoem, met wie ons elkeen ’n besondere band het en wat ongelooflike mense is. So hy het twee name: Jacobus (my man se pa is Jacobus Theodorus Marais) en Müller (my pa is Arend Müller).

As jou kind net een eienskap van jou kan erf – wat sou dit wees en hoekom?
Om die ligte kant van die lewe te kan raaksien en te kies om eerder te lag as om ernstig te wees.

Hoe beplan jy om werk en ouerskap te balanseer?
Géén idee. Enige voorstelle?! Ek begin maar met vier maande kraamverlof (dink dis belangrik, al is dit onbetaald) en dan gaan ons hom halfdag na ’n goeie babaskool toe stuur en van volgende jaar af voldag. Ek glo en hoop dat ek sodoende al die balle in die lug sal kan hou.

Wat het niemand vir jou gesê voor jy ’n ma geword het nie?
Niks. Of baie min. As ek nog een keer moet hoor: “Jou lewe gaan vir altyd verander,” gaan dit dalk nié meer verander nie. Ek is wel ontsettend dankbaar vir al die raad vanaf vriendinne, mentors en voorgeboorteklasse, wat my oorhoofs gesus het met die wete: dis nie so erg nie, jy doen goed en jy sal deur dit kom!

Wat sal jy vir jou seun sê as hy ’n loopbaan in die openbare oog wil volg?
Vind eers jouself en bou ’n beeld op ’n goeie fondasie, sodat jy nie afhanklik is van ander se opinie oor jou nie. Die beeld waarvan luisteraars/kykers/gehore die heel meeste hou, is “jouself”.

Wat is jou droom vir jou seun?
Dat hy die lewe nie té ernstig sal opneem nie en mense sal laat lag en lig voel. Dat hy sy oë op die Here gerig sal hou. Soos Karen Zoid sing: “Bly bewus van jouself, net nie te veel nie, ook nie te min nie, maar net nie te veel nie.”

Skakel elke weeksoggend tussen 06:00 en 08:00 in vir die regstreekste uitsending van Die GROOT Ontbyt. Wens vir Hendri en Su-an op sosiale media geluk deur die hutsmerk #GROOTOntbyt op FacebookTwitter en Instagram te gebruik.