Logo
web uni tv guide

Dwaalster

144Drama13VL

Drama vol kinkels – Dwaalster

Nuus
25 Oktober 2018
Lees meer.
Dwaalster_June

Dinsdagaande is sinoniem met trefferdrama’s op kykNET en 2019 skop af met Dwaalster. Dié buitegewone verhaal begin op Dinsdag 8 Januarie om 20:00.

Die bekroonde dramaturg, Nicola Hanekom, het drie jaar terug aan Dwaalster begin skryf, maar sy het reeds tien jaar gelede met die storie vorendag gekom.

Waaroor gaan Dwaalster?

Kykers van Dwaalster gaan kennis maak met die fiktiewe Karoodorpie, Maanhaarsdrif, se interessante, maar misterieuse, inwoners en hul onderskeie intriges beloof om kykers van meet af te boei. Op Maanhaarsdrif is daar ook ’n fiksasie met sterre en sterrekyk terwyl sommige inwoners ook met die spreekwoordelike “maan gepla” is.

Agtergrond

Annabel (Tinarie van Wyk-Loots), ’n joernalis, keer terug na Maanhaarsdrif nadat sy met haar lewe gedreig is in Kaapstad omdat sy ’n storie oor korrupsie nagejaag het. Haar pa, Frans (Albert Maritz) en haar boetebessie-suster, Ragel-Lee (Erica Wessels) bly nog op Maanhaarsdrif, terwyl haar jeugliefde, Stian (Jacques Bessenger) ook nog op die dorp is.


Albert Maritz as Frans

Vir Annabel voel dit ook asof sy nooit weg was nie, maar tog is daar iets anders aan Maanhaarsdrif. Tyd het wel nie stil gestaan nie en só het ’n paartjie, Luan en Ruan, (Neels van Jaarsveld en Terrence Bridgett) die plaaslike hotel gekoop en opgekikker in die hoop om toeriste wat sterre wil kom kyk te lok.


Terrence Bridgett as Ruan

Dan is daar ook Maanhaarsdrif se oorywerige burgemeester, Ivy (June van Merch), en haar boesemvriendin, Lettie (Joanie Combrink), wat gereeld koppe met mekaar én ander stamp.


Joanie Combrink as Lettie

Maar, ou herinneringe kom spook spoedig by Annabel en daar is ’n hele paar geraamtes wat in elke karakter se kas skuil. Maanhaarsdrif mag dalk ook ligjare verwyderd wees van Annabel se lewe as joernalis, maar die gevolge van die publikasie van haar skok-artikels volg haar tot in die Karoo, met skrikwekkende gevolge vir haar en haar geliefdes.

Die ander karakters sluit in: Die koerantredakteur, Peter (David Isaacs), die skisofreniese boemelaar, Bliksem (Carel Nel), die plat-op-die-aarde, maar ryk, motorfietsryer, Charlie (Albert Pretorius), die hotel se kroegman, Randall (Jarrid Geduld) en die manies-depressiewe skrywer, Lukas (André Odendaal). Kykers gaan ook kennis maak met die kelnerin, Gina (Tarryn Wyngaard), Kasper (Gerben Kamper) en die Russiese laksman, Petrov (Grant Swanby), terwyl die Kwêla-aanbieder, Hannes van Wyk, ook ’n verskyning as homself in Dwaalster gaan maak.  

Die volledige rolverdeling is:

Tinarie Van Wyk-Loots, Jacques Bessenger, Albert Maritz, Tarryn Wyngaard, Jarrid Geduld, Joanie Combrink, André Odendaal, Erica Wessels, Terence Bridgett, Neels van Jaarsveld, June van Merch, David Isaacs, Gerben Kamper, Albert Pretorius, Grant Swanby, Carel Nel en Hannes van Wyk.

Die vervaardiger is Marche Media, wat ook verantwoordelik was vir die kykNET-reeks Waterfront, en Jaco Bouwer is regisseur.

Jorrie van der Walt (Fynskrif) is agter die kamera en Rocco Pool (Kanarie, Waterfront) en Mariechen Vosloo (Kanarie, Die Seemeeu) sorg vir die ontwerp van stel en kostuums onderskeidelik. 

Omdat Maanhaarsdrif in die Karoo afspeel, moes heelwat van die tonele buite Kaapstad verfilm word.

Dwaalster begin op Dinsdag, 8 Januarie, om 20:00 op kykNET.