Logo
Pelgrims 1600x160 Slim Homepage
web uni tv guide

Pelgrims

144LeefstylPG13

Dis hoe ons glo – Pelgrims

Nuus
19 Junie 2020
‘n Pelgrimstog is ‘n reis na ‘n heilige plek – dalk die ewigheid. Die tog word met toewyding afgelê en spreek van hoop, maar stap dikwels ‘n pad deur wanhoop. Elkeen se weg is uniek en op ‘n manier is almal Pelgrims ...
Pelgrims 1500x500

Op 16 Julie, om 20:00, begin kykNET met 'n reeks dokumentêre programme oor godsdiens en spiritualiteit. Pelgrims bestaan uit 13 halfuur-episodes wat die kyker aan die hand van gevallestudies aan verskillende godsdienste in Suid-Afrika voorstel.

Afrikaanssprekendes is lankal nie meer slegs aan die drie susterskerke verbonde nie. Hulle leef hul geloof en spiritualiteit op verskillende maniere uit. Daar is ook toenemend Afrikaanssprekendes wat agnosties en ateïsties is.

Die aanbieder, Susan Booyens, is ‘n deurwinterde TV-aanbieder en -joernalis en werk tans as subredakteur by Media24. Kykers sal haar onthou as veldaanbieder van Pasella en Kwêla. Sy was ook omroeper by RSG voordat sy ‘n paar jaar in die buiteland deurgebring het.

Pelgrims is storiegedrewe en elke episode stel die kyker voor aan ‘n persoon of gesin wat lid is van die godsdiens/geloof. Ons kyk ook na die geskiedenis en ontstaan van spesifieke godsdienste in Suid-Afrika.

Die reeks is nie krities oor enige geloof of godsdiens nie en wil bloot die kyker ’n kykie daarin gee. Die deelnemers aan die program het dikwels ’n soort geestelike pelgrimsreis onderneem om hul eindbestemming te bereik.

In die eerste episode besoek Susan ‘n Afrikaanse Christen-Ortodokse kerkie tussen die wynlande in Robertson en stel ons voor aan die patriarg vader Zacharias van Wyk. Later in die reeks ontmoet ons Afrikaanse Jode en in ander episodes Afrikaanse Hare Krishnas, Rastafariërs en Boeddhiste.

Pelgrims word vervaardig deur Khaki Produksies, wat ook MegaBoere vervaardig.