Logo
Suidooster TX change Slim BB
web uni tv guide

Suidooster

144Drama13

Dis heerlike lente in jou gunsteling kykNET-sepie

Nuus
02 September 2020
Lees hier vir lekker lusmakers van wat September vir jou gunsteling-sepie inhou ...
Untitled design

Getroud met Rugby
Lente is in die lug en dit beteken ’n nuwe begin! Kykers kan uitsien om in die maand van September met heerlike, nuwe Getroud met Rugby-storielyne bederf te word. Nesie neem Johannesburg behoorlik op horings en besluit om, ná haar mislukte poging as sangeres, by die pompoms aan te sluit. Gaan sy slaag, of wag daar iets anders op haar? Intussen slaan sy ’n Stryder se voete behoorlik onder hom uit.

Liam en Candice se wittebrood is verby wanneer Candice se ma, Priscilla, by die Willemse se huis opdaag en haarself by Candice se besigheid inwurm …
Ryno stel sy klerereeks bekend, maar sy skuldgevoelens teenoor Thinus begin hom oorweldig. Kristien vind uit oor Bibi se gevoelens vir Jordan, en Bart is opgewonde wanneer Kristien weer enkellopend is - soveel so dat hy ’n paar slinkse planne beraam om haar hart te probeer wen …
Amanda stig ’n ‘cougar club’, die manne ruk handuit by Reitz se rampartytjie, en die verliefde paartjie se groot dag breek uiteindelik aan.

Daar is spanning tussen Wynand en Renate, én tussen Simon en Wynand. Die Stryders-afrigters wys wat in hulle steek, en Maryke begin wonder oor Magda se verlede. Johan ontdek ’n onsmaaklike artikel oor Blitz en Simon en Renate groet hulle geliefde huis.

Suidooster
Dit is allesbehalwe windstil in Ruiterbosch soos 'n stormsterk-Suidooster in dié Kaapse woonbuurt woed en dinge behoorlik deurmekaar waai. Veral die Samsodiens staar ’n krisis soos min die gesig en AB en Mymoena se huweliksbootjie beland in omstuimige water as gevolg van AB wat finaal voor
Farah se sjarme swymel. Joy se lewe is ook in skerwe en moet raap en skraap om aan die lewe te bly, maar sy gaan nie net lê nie en sal enige iets doen om wéér bo uit te kom - al beteken dit selfs om haar siel aan die duiwel te verkoop. Wade, Tyron en Justin kry ’n onverwagte meevaller, maar dit
veroorsaak kort voor lank tweespalt terwyl hulle boonop onverwags op die gereg se radar beland. Bridgette betrek ook uiteindelik haar opgeknapte huis en is tot almal se verbasing nogal in haar skik met die eindresultaat.

Binnelanders
Die lente bring altyd nuwe lewe, maar nie almal is altyd voorbereid daarop nie. Chanel se ontdekking aan die einde van Augustus plaas nie net druk op haar nie, maar ook op haar verhouding met Danny. Asof hierdie reeds genoeg probleme is vir verpleegster nie, is Brandon, haar oorbeskermende pa, ook Pretoria vir 'n kongres - en hy het redelik baie te sê oor die nuwe verwikkelinge in haar lewe - en nie alles daarvan is gawe woorde nie. Maar dit is nie net dié paartjie wat hul toekoms daadwerklik begin bespreek nie, want dit Danny en Chanel se situasie maak ook slapende honde wakker in Louis en Naomi se huwelik.

Niemand is altyd voorbereid om die gevolge van 'n traumatiese ervaring nie - ook nie Okkie Ferreira nie. Na al die aksiebelaaide drama waardeur Okkie is die laaste tyd is sy gemoed maar swaar en donker, en Ilse dink dit is nou die tyd om proffessionel hulp in te roep, en sy kontak vir Liezl, die berader wat hulle reeds voorheen gehelp het om die troebel waters van hul huwelik te trotseer, om vir Okkie te help om weer lig aan die einde van die donker tonnel te sien. Maar word daardie lig aan die einde van die donker tonnel 'n opsitkers vir Okkie, of is dit net Ilse se verbeelding wat met haar weg hardloop?

Iemand wat graag sou wou weg hardloop indien sy kon is Tracy Smit, want haar verlede kom haar besoek in die hede - en dit mag 'n beduidende invloed op haar toekoms hê. Tracy is nou net besig om naam te maak vir haarself onder die elite, wanneer 'n skim uit haar verlede haar baie ontydig kom besoek - en heel moontlik haar nuutgevonde geluk bedreig.

Maya Gosslin se pa, Faf, is ook in Pretoria om sy geluk - of eerder sy sakebedrywighede - uit te brei. Faf is 'n vername man wat weet wat hy wil hê in die lewe, en, soos wat dit maar gaan met gefokusde sakemanne, weet hy ook beslis wat hy nie wil hê nie. Wanneer hy dus die geleentheid het om sy koninkryk uit te brei, is dit geen wonder dat hy Binneland Kliniek nader nie - en nie net omdat sy dogter by hierdie mediese reus haar voete vind nie. Maar Faf is ook nie kortsigtig nie, en sou Southern Hope ook die geleentheid gee om te bie vir sy aandag. Soos wat ons al vantevore agtergekom het, is Rian nie iemand wat sommer wegstap van 'n uitdaging nie, en met die formidabele Delia Richter aan sy sy, sien hy vir soveel meer kans - al moet hy homself weer wend tot
ou taktieke om te kry wat hy wil hê. Maar wanneer is genoeg eintlik genoeg vir Delia Richter?

Kuberkrakers is 'n gevaarlike spesie - en soveel te meer wanner hulle hul fokus plaas op 'n mediese inrigting soos Binneland Kliniek. Besef hulle nie watter tipe druk hulle plaas op die hospitaal en sy personeel wanneer hulle hul fyn uitgewerkte plannetjies met die druk van 'n paar knoppies op 'n afstand uitvoer nie? Die ongenaakbare span agter die nuwe probleme in Binneland Kliniek werk dalk ook nou nie eintlik op hul eie nie, want 'n meesterplan het tog 'n meesterbrein - en almal is in September onder verdenking.

Onthou om weeksaande in te skakel vir jou gunsteling kykNET-sepie en ons saam te gesels op Facebook, Twitter en Instagram deur die hutsmerke #kykNETGMR, #Suidooster en #Binnelanders te gebruik.