Logo
Arendsvlei S5 Slim BB
web uni tv guide

Arendsvlei

145Telenovela13

Dis amptelik! Arendsvlei word verleng

Nuus
13 Augustus 2019
Jy het reg gehoor!
1

Beatrice Abrahams en die leerders van Hoërskool Arendsvlei is gereed om nog drama na die kassie te bring, ná kykNET & kie se eerste Afrikaanse telenovela, Arendsvlei, verleng is vir nog ’n seisoen.

Sal Arendsvlei se superfeeks, Wendy Newman, met moord wegkom, of sal sy eindelik gevang word vir haar gruweldade?

In die eerste seisoen stap Wendy steeds op vrye voet, terwyl die hele Arendsvlei in rep en roer is oor David Abrahams se vermeende moordenaar. Van Beatrice se arrestasie tot Wesley se selfmoord-poging – Arendsvlei-kykers het alles gesien... of het hulle? Wat kan Wendy nou nog in die mou voer? Die tweede seisoen van Arendsvlei sal alle vrae oplos en net meer intriges bring.

Hier is ’n voorsmaak van wat voorlê:

Hierdie seisoen word Janice se broer, Steve Mortlock, vrygelaat – en die hele Arendsvlei word omgekeer. David se langverlore seun, Nathan, maak ook ’n verskyning terwyl Chantel se pa onverwags aan hul deur kom klop. Kykers kan ook uitsien na nóg ’n moord, ’n verlowing en verneukery, terwyl Wendy hulle net nog meer sal verbaas oor die planne wat sy maak om die Cupido-familie te vernietig.

Soos oudergewoonte is Jolene Martin (Beatrice), Melanie Du Bois (Rolene), Rehane Abrahams (Wendy), Crystal Donna Roberts (Janice), Sherman Pharo (Thys), Ann Juries (Claudia), Jody Abrahams (Lionel), Celeste Matthews (Gertie), Craig Adriaanse (Wesley), Gerwen Simon (Valdonia) en Roberto Kyle (LeeRoy) weer te sien in die reeks! ’n Paar bekende gesigte keer ook terug na die kassie. Danny Ross (Nathan), Maurice Carpede (Riedwaan) en selfs Shaleen Surtie-Richards (Muriel) maak ’n draai om die rol van Lionel se ma te speel.

Penguin Films is weer die vervaardigers en is baie opgewonde oor die tweede seisoen. Roberta Durrant, kreatiewe vervaardiger, sê dis altyd opwindend om aan Arendsvlei te werk. “Met elke nuwe skooljaar, het jy die geleentheid om nuwe karakters aan die kykers voor te stel. Maar dis ook ’n uitdaging om die storielyn opwindend en aanlokkend te hou.” Theltom Masimila, hoofskrywer en mede-vervaardiger, sê dis ’n absolute plesier om kykers vir nog 'n jaar te vermaak met drama en intrige uit die skool op die Kaapse Vlakte. “In die eerste seisoen van Arendsvlei het ons ’n hoofstuk in elke karakter se lewe besoek en nuwe stories het ontstaan. Met seisoen 2 sien ons hoe ons eerste groep skoliere matrikuleer, en universiteit toe gaan. Die klas van 2020 word ook bekendgestel en van ons geliefde karakters sit met meer geraamtes in die kas as wat ons gedink het.”

Arendsvlei word elke Maandag tot Woensdag op kykNET & kie, DStv kanaal 145 om 20:00 uitgesaai.

Hou kykNET.tv dop vir meer inligting.