Logo
DVK S1 Slim BB Web Uni
web uni tv guide

Dinge Van 'n Kind

144Drama13

Dinge van ’n kind: Leer die karakters ken

Nuus
26 April 2022
Op 10 Mei begin Dinge van ’n kind, die dramareeks wat op Marita van der Vyver se ikoniese en opspraakwekkende boek gegrond is. Hier is die hoofkarakters wat beloof om vir tien weke in kykers se harte te klim.
DVK Artikel Image

Dinge van ’n kind speel in drie tydvakke af – 1975/76, 1992 en nou – en vertel die verhaal van Mart Vermaak en die mense in haar lewe, haar politieke- en seksuele ontwaking en deurslaggewende tye in Suid-Afrika se geskiedenis.

Mart word deur drie aktrises vertolk – Melissa Myburgh, Cintaine Schutte en Susanne Beyers.

Mart Vermaak (1975 – 1976)

Vertolk deur Melissa Myburgh

Die 16-jarige Mart is ’n stil waarnemer en boekwurm. Sy is nuuskierig oor die wêreld en haar eie seksuele ontwaking, maar ontbreek die waagmoed om uit die konserwatiewe milieu waarin sy groot geword het te ontsnap. Mart is logies en pragmaties, maar ook ’n idealistiese dromer wat intens in die politiek belangstel. Sy moet vroeg in haar lewe verlies hanteer en deel nie haar hartseer met ander nie.

Mart Vermaak (1992)

Vertolk deur Cintaine Schutte

Mart het in haar vroeë dertigs ’n boek geskryf oor haar grootwordjare in Suid-Afrika tydens die apartheidsregime en saam met haar jong seun, Pierre, in Londen gewoon voor sy na Suid-Afrika teruggekeer het. Haar eerste groot liefde was Pierre Malan, ’n vriend van haar broer, wat sy as skoolmeisie ontmoet het.

Mart Vermaak (vandag)

Vertolk deur Susanne Beyers

Mart is ’n verligte vrou in haar 60’s wat in Kaapstad woon. Sy is ’n suksesvolle skrywer van polities gesentreerde romans en in haar vrye tye bied sy skryfklasse vir minderbevoorregte kinders aan. Sy is jare gelede geskei van haar man, Thomas.

 

Pierre O’Brien (vandag)

Vertolk deur Ludwig Binge

Pierre is Mart se seun en is flink aan die klim op die korporatiewe leer in die finansiële bedryf. Hy en Janine, wat mekaar op universiteit ontmoet het, is gelukkig getroud en hoop om met ’n gesin te begin. Hy is bewus van die vooroordeel teenoor hulle verhouding en vrees dat dit eendag hulle kinders mag beïnvloed en aanvaar dus werk in Londen. Op die oog af lyk dit of Pierre en Mart ’n goeie verhouding het, maar hy neem haar kwalik dat sy hom as kind afgeskeep het en hom sedertdien met haar politieke praatjies versmoor.

 

Janine O’Brien (vandag)

Vertolk deur Kim Syster

Janine is intelligent en skroom nie om haar man te staan wanneer dit kom by sake wat vir haar belangrik is nie. Sy en Mart kom goed oor die weg en sy sal graag wil sien dat Pierre en sy ma se verhouding verbeter aangesien sy weet dit vir altyd ’n invloed op hulle lewe sal hê.

 

Thomas O’Brien (vandag)

Vertolk deur André Roothman

Thomas is ’n bekwame en welbelese prokureur. Hy en Mart het getrou toe hulle jonk was, meer uit besluitloosheid as ware liefde omdat Thomas ’n werksaanbod in Londen gekry het. Hulle seun Pierre is in Londen gebore en hy en Mart is geskei toe hy besluit het hy wil terugkom na Suid-Afrika ná die vrylating van Nelson Mandela. Thomas werk hard aan sy verhouding met Pierre van wie hy effe vervreem geraak het in sy jeug.

 

Dalena van Vuuren (1975 – 1976)

Vertolk deur Mienke Ehlers

Dalena is Mart se beste vriendin. Sy is rebels, avontuurlustig en impulsief. Sy is gedurig besig om planne te maak en die konserwatiewe gemeenskap sien haar as wild en onkuis. Dalena sê wat sy wil, sy rook en drink en geniet die aandag van seuns. Sy lewe egter in ’n tyd waar vroue as onderdanig gesien is en dit gaan teen alle wat sy is en teen rebelleer. Onder al haar bravade skuil egter ’n baie donker fasset van haar persoonlikheid wat sy nie vir almal openbaar nie.

 

Simon Vermaak (1975 – 1976)

Vertolk deur Andahr Cotton

Simon is Mart se ouer broer. Aanvanklik is Simon sjarmant en alles wat die samelewing dink ’n Afrikaner man moet wees. Hy gaan doen sy diensplig sonder om te veel vrae te vra, maar traumatiese gebeure laat hom besef dat alles waarin hy geglo het, nie was wat hy gedink het dit was nie. Hy vind ontvlugting in dagga en kom in opstand teen die regering.

 

Pierre Malan (1975 – 1976)

Vertolk deur Ben Albertyn

Pierre is ’n vriend van Simon en is volwasse vir sy jare en bevraagteken die samelewing en die regering. Hy weier om binne die reëls te lewe, maar probeer niemand ompraat om soos hy te dink nie. Hy sukkel met depressie en is sinies oor die toekoms.

 

Suna van der Merwe (1975 – 1976)

Vertolk deur Augusta Zietsman

Suna is deel van die Mart-Dalena-driemanskap, maar dit is asof sy die derde wiel aan die wa is aangesien hulle nooit hulle geheime met haar deel nie. Sy kom oppervlakkig en onintelligent voor, maar sy sien en verstaan baie meer as wat sy voorgee. Sy is kinderagtig in haar onskuld en haar pa se selfdood het ’n groot leemte in haar lewe gelaat.

 

Marlene Vermaak (1975 – 1976)

Vertolk deur Jana Kruger

Marlene is Mart se ma en polities meer verlig as die ander volwassenes, maar sy is nie ’n aktivis nie. Sy onderdruk haar emosies en wys nie haar kwesbaarheid voor haar kinders nie. Marlene is die tipiese Afrikaanse huisvrou wat in ’n afgestompte huwelik is, maar sy is tog nostalgies en romanties.

 

Karel Vermaak (1975 – 1976)

Vertolk deur André Weideman

Karel is Mart se prokureurs-pa wat eintlik wil boer. Hy is altyd besig met een of ander plan om vinnig geld te maak, maar hy verloor gewoonlik meer as wat hy maak. Hy hou daarvan om vriende te onthaal en kyk gereeld te diep in die bottel. Karel glo vas in die Nasionale Party en dink hulle doen alles te goede van die land. Hy verstaan nie wat die impak van die grensoorlog op jong mans het nie en het ’n geromatiseerde idee van soldaatwees.

 

Liefie (Loulene) Vermaak (1975 – 1976)

Vertolk deur Méla Swanepoel

Liefie is Mart se melodramatiese jonger suster wat haar verbeel haar lewe is ’n fliek. In teenstelling met Mart, is sy totaal en al selfversekerd en gemaklik in haar eie lyf.

 

Niel Vermaak (1975 – 1976)

Vertolk deur Wesley Smit

Niel is Mart se jonger broer wat gedurig aandag soek. Hy verafgod vir Simon en kan nie wag om weermag toe te gaan nie. Hy verloor egter sy geloof in Simon wanneer dié as ’n gebroke soldaat van die grens kom.

Skakel vanaf 10 Mei 2022 om 20:00 in vir Dinge van 'n kind