Logo
DVK S1 Slim BB Web Uni
web uni tv guide

Dinge Van 'n Kind

144Drama13

Dinge van ’n kind: Hier is die rolverdeling

Nuus
19 April 2022
Lees meer.
Dinge van n kind 3

Daar is groot afwagting vir die nuwe dramareeks Dinge van ’n kind wat op 10 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) begin. Nie net is die reeks op een van Afrikaans se mees ikoniese boeke gegrond nie, dit beloof om ’n aangrypende reeks te wees.

In dié reeks van tien episodes ontmoet kykers Mart Vermaak. Die ontnugtering van haar grootwordjare vind plaas teen die politiese agtergrond van die onstuimige laat 1970’s, terwyl ’n ouer Mart haarself in ’n ontnugtering van ’n ander aard bevind.

In die roman Die dinge van ’n kind leer lesers Mart sowel as tiener en as ’n vrou in haar dertigs ken wat as ’n expat in Londen woon. In die TV-reeks ontmoet kykers egter ook ’n heelwat ouer Mart wat haar weer in Suid-Afrika gevestig het.

Die boek speel in twee tydvakke af – die onstuimige 1970’s en die vroeë 1990’s – maar vir die TV-reeks, Dinge van ’n kind, is daar ook ’n deel bygewerk wat in die hede afspeel. Daar is dus drie aktrises wat die rol van Mart deur die jare speel.

In die rol van jong Mart is Melissa Myburgh, Cintaine Schutte is Mart in die 1990’s en Susanne Beyers is hededaagse Mart. Melissa was al te sien in Kompleks en die TV-film Laastes. Cintaine (Fynskrif, Ekstra Medium) het mees onlangs die rol van Mart in die verhoogsproduksie van Die Dinge van ’n kind gespeel en Susanne, ’n veteraan van die verhoog, TV, radio en film. 

In die tonele wat in die 1970’s afspeel, is Mienke Ehlers te sien as Mart se skoolvriendin Dalena met Augusta Zietsman wat die rol van Suna speel. Jana Kruger en André Weideman is Marlene en Karel, Mart se ouers, en Andahr Cotton (Simon), Méla Swanepoel (Liefie) en Wesley Smit (Neil) is haar sibbe.

Van die ander spelers in 1970’s-tonele sluit in Ben Albertyn as Pierre en Deànré Reiners as Hein. Ook te sien, is bekendes soos Stian Bam, Amalia Uys, Lizz Meiring, Martelize Kolver en Sandra Vaughn.

In die 1990’s saam met Cintaine, is Wilhelm van der Walt te sien as die ouer Simon.

Van die akteurs wat in die hedendaagse tonele te sien is, sluit in Ludwig Binge, Kim Syster, André Roothman, Zenobia Kloppers en Quanita Adams.



Die regisseurs van die reeks is Quentin Krog, Zandré Coetzer en Tinarie van Wyk Loots. Elanie Rupping en Henriëtta Gryffenberg was vir die draaiboek verantwoordelik en die reeks, wat uit tien episodes bestaan, is deur Nagvlug Films (Wonderlus, Nêrens, Noord-Kaap) vervaardig.

Dinge van ’n kind begin op Dinsdag 10 Mei om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).