Logo
Diepe waters cast
web uni tv guide

Diepe Waters

144Drama13 VL

Diepe Waters: Wie wou van Gys ontslae raak?

Nuus
09 Mei 2023
Hierdie week ontwaak Gys uit sy koma, en die vraag op almal se lippe is: ‘wie het hierdie aan jou gedoen?’
kykNET_Diepe_Waters_960x480_Characters

Gys Swarts is die mees gehate man in sy gemeenskap, vir verskeie redes, maar selfs ’n vyand behoort van beter weet as om die man se einde in ’n swembad te probeer bewerkstellig! Hierdie week ontwaak Gys uit sy koma, en die vraag op almal se lippe is: ‘wie het hierdie aan jou gedoen?’

Twee weke is ’n lang tyd om in ‘n koma te wees – en dit is hoe lank die man al daar in sy hospitaalbed is. Alles het begin toe Gys drywend in die swembad by die klub ontdek is gedurende die loodspartytjie van vroutjie Meghan se skoonheidsreeks ‘Gush’. Terwyl Gys nog probeer onthou wat iemand anders probeer vergeet, het ons solank ‘n lysie van moontlike boosdoeners opgestel om sy geheue ’n hupstoot te gee.

Meghan Swarts

Die vrou het beslis motief na sy ‘n skelm verhouding met Jacques, Gys se seun, begin het, maar het sy die dryfkrag om Gys die verderf in te stuur? Absoluut! Sy jok dan al hoe lank vir hom oor haar gevoelens vir hom, het in ’n huwelik met hom getree om ’n wraakplan uit te voer wat sy saam met sy aardsvyand, Zelda, beplan het – en sy weet presies hoe om hom – en enige ander man! – se kop weg van die waarheid te draai met daardie perdebylyfie van haar.

Rossouw Swarts

Gys en sy seun sit nou al vir ’n hele ruk nie langs dieselfde vuur nie – en Rossouw blameer sy pa vir alles wat in die afgelope tyd verkeerd gegaan het in sy lewe. Hulle het al so erg koppe gestamp oor Rossouw se keuses (wat deur Gys veroorsaak is) dat Rossouw al op ’n kol werkloos was. Dit is geen geheim dat Gys nie ooghare het vir Rossouw se nuwe meisie nie, en dat hy nog minder dink Rossouw weet wat hy doen met die egskeiding van Sanet wat op hande is. Maar is hierdie genoeg rede vir poging tot moord?

Anja Botha

Gys het twinting jaar gelede vir Anja forseer om ’n aborsie te ondergaan – min wetende dat die kind wat Anja verwag het sy eie kleinkind sou wees. Anja het al baie duidelik gemaak hoe sy oor Gys voel, selfs so ver gegaan om by die swembklub te gaan werk as ’n afrigter om haar susterskind, Karla, weg te kry van sy invloed. Sy weet dat Gys net belangstel in een ding, en sy is seker daarvan dat dit nie die welstand van die swemmers onder sy afrigting is nie – sy het immers eerstehandse ondervinding. Maar sou dit dieselfde hand wees wat die man na sy watergraf sou stuur? Dit is nie asof Anja nie haar voetwerk, of handwerk, rondom ’n swembad ken nie!

Jacques Swarts

Jacques se hart maak van hom ’n beter man as sy pa – veral as daardie hart ook ’n pad wil stap met sy pa se nuwe vroutjie! Jacques is ’n afrigter by die klub, is gebou soos ’n Griekse god en kan beslis sy man (of is dit nou pa?) staan rondom ’n swembad. Maar is die skuldgevoel wat hy het oor die verhouding met sy stiefma genoeg rede vir Jacques om permanent van sy pa ontslae te wil raak? Liefde is oor die jare dalk die donker gas in menigte moordmotiewe, maar waneer dit gekoppel word aan ’n verbode liefde raak dit soveel meer aanlok…

Zelda Joubert

Haar jarelange vete met Gys is iets wat baie bekend is – en ook iets wat sy nie eers probeer wegsteek nie. Nee, wat, sy adverteer dit om elke hoek en draai – en kon dit nie met groter smaad aan die gemeenskap bekend maak na sy onthul is as die geheime belegger – en nou grootste aandeelhouer – van die klub nie. Maar is daardie wraak nie soet genoeg gewees nie? Is haar plan om Gys vir ewig te verneder in die wiele gery deur Meghan se verbode liefde met Gys se seun? Het Gys nie gelyk of hy genoeg gely het met die onthulling voor die partytjie dat sy nou vir ewig ’n doring in sy vlees sal wees nie? Is moord dalk die kersie op die wraakkoek gewees?

Johan Swarts

Die huidige swartskaap in die Swarts-familie het dit nou al alles gedoen: nie wat wonders in Matriek presteer nie, tydelik geskors vir dwelmmisbruik, amper-pa geword en swem tans vir sy Oupa Gys se grootste kompetisie! Wat kan Johan nog doen om sy naam nog swarter te smeer as wat die Swarts-familie daarna uitsien? Woede is een ding, maar wraak is ’n ander – en Oupa Gys het meer as sy bydrae gelewer om te verseker dat hierdie heethoof nog vir jare gaan stoom! Dalk was hierdie Johan se enigste manier om homself te verlos van ’n juk wat hy nooit wil dra nie…

Karla Swarts

Trauma is iets wat ’n mens nie sommer net in ’n oogwink verwerk nie – vra maar vir die swart vlinder in die Swarts-familie. Ons weet reeds dat sy ’n eetsteurnis ontwikkel het as gevolg van wat haar Oupa Gys aan haar gedoen het as afrigter, maar wat as Karla dalk ook al die ander sondes van haar Oupa begin oplet het – en besluit het om iets daaromtrent te doen? Hulle sê dat ’n vlinder se vlerkklap ’n orkaan kan versoorsaak – maar wat as hierdie vlerkklappie dalk net nóg toekomstige aardbewings uit die weg wou ruim deur ontslae te raak van die bron van soveel pyn?

Bybie

Waar in die wêreld is Bybie? Ons weet dat sy ‘iewers’ is om ’n sonde van die verlede te gaan oplos nadat Zelda haar daarmee gedreig het – maar ons weet nie wat presies (of waar!) dit is nie. Sou dit moontlik wees om almal onder verdenking te plaas terwyl niemand eers die prettige rabbadoe kan verdink nie? Is dit haar onsigbare hand wat die man na sy einde probeer lei het? Het Gys dalk iets te doen met die dreigement wat Zelda soos ’n swaard bo Bybie se kop hou? Of was Gys dalk die los draad wat verwoes moes word?

Soveel verdagtes, maar tog so min antwoorde. Skakel Maandae tot Donderdae van 18:30 op kykNET (DStv-kanaal 144) in op Diepe Waters! Die skuldige gaan eersdaags aan die pen ry, maar dit is lank nie die einde van die geheime in dié gemeenskap nie…