Logo

Die vroue neem (amper) oor – Toks & Tjops

Nuus
10 Augustus 2020
Dis Vrouemaand en op die gewilde rugbyprogram, Toks & Tjops, gaan vroue ‘n groot deel van die program uitmaak.
2

Janina Oberholzer, die aanbieder en een van die vervaardigers van die program, vertel meer.

Al die sangkunstenaars op Augustus se programme is vroue. Wie se besluit was dit en wie is hulle? 
Ons het ’n punt daarvan gemaak om net vroue te nooi in Augustus te nooi. Ons het dit nog nie van tevore gedoen nie. Dis vir ons belangrik om aandag te gee aan die probleme wat vroue tans in ons land beleef. Ons het wonderlike gaste hierdie maand! Bernice West, wat tans groot naam maak, Juanita du Plessis kom kuier saam en Leah kom maak ook ’n draai. Ons fokus ook op vroue in die sportwêreld en die Suid-Afrikaanse netbalspeler Izette Griesel kom kuier eerste saam om die bal aan die rol te sit. 

Julle gaan ’n skenking aan Huis Jabes maak. Vertel meer? 
Breyton, Toks en Leah is al drie groot ondersteuners van Huis Jabes. Daarom het die span besluit om hulle hierdie maand met ‘n skenking te ondersteun. Die oorhandiging van die skenking is op die program van 21 Augustus. Huis Jabes doen wonderlike werk vir vroue en kinders en tydens inperking is hulle deur ‘n moeilike tyd. Ons wil hulle graag help met ’n donasie.  

Wat is die grootste uitdaging vir julle op die oomblik? Hoe stel julle ’n program saam in ’n tyd waar sport nou eers stadig maar seker aan die gang kom? 
Inperking was vir ons ‘n vreemde tyd. Ons het nooit gedink dat sport nie oor die hele wêreld kan plaasvind nie. Ons het wel aangepas en op terugflitse gefokus. Ons is dankbaar dat sport nou weer begin plaasvind, selfs al is dit sonder toeskouers.

Wat mis jy die meeste van die rugbyseisoen? 
Om Suid-Afrikaanse rugby te kyk. Ek is so lus vir ‘n wedstryd op Loftus. Ek hoop regtig dat ander Suid-Afrikaners ook so voel en dat hulle sodra ons weer kan, daardie stadions vol sal pak.

As jy enige rugbywedstryd weer kan beleef, watter een sal dit wees? 
Vat my terug Japan toe! Ek was baie bevoorreg om die twee semi-finale in Tokio te beleef, wat sonder twyfel die beste rugby-oomblik van my hele lewe was. Maar op my bucketlist is steeds daai groot een: Die Bokke teen Engeland op Twickenham.

Skakel elke Vrydag om 20:00, op kykNET DStv-kanaal 144,​ in vir lekker sports met Toks & Tjops.