Logo
Die Byl S4 Slim
web uni tv guide

Die Byl

144Misdaad16 V

Die vele kante van Schalk Bezuidenhout – Die Byl

Nuus
13 Februarie 2022
In episode 5 en 6 van die nuwe reeks van Die Byl, was Schalk Bezuidenhout te sien as die reeksmoordenaar Louw Smith, ’n mimiekkunstenaar met ’n hartseer verlede.
Schalk Bezuidenhout – Die Byl

Hoe het jy by die karakter uitgekom?
Dit is moeilik om in die kop van ’n reeksmoordenaar te klim as jy nie een is nie. Ek dink nie regtig mens kan nie, maar jy probeer jou verbeelding gebruik deur te dink hoe so ’n persoon sal dink as hulle sulke dade pleeg. Dit is maar donker, maar ek dink op die ou end moet jy die karakter ’n mens probeer maak. Jy kan nie net op die oppervlak speel nie. Dit is ’n regte mens al doen hulle hierdie verskriklike goed. Jy moet die menslike kant kan uitbring en dit is wanneer dit interessant raak.

Hou jy van rillers? Wat is jou gunsteling-riller van alle tye?
Ja. My gunsteling is Paranormal Activity. So min gebeur, maar tog skyt jy in jou broek die hele movie lank. Dis baie spanningsvol. ’n Interessante feit: Dit was een van die flieks met die kleinste begroting wat nog die meeste geld gemaak het.

Gril jy vir bloed?
Ja, daar is ’n rede hoekom ek nie in die medies ingegaan het nie. Ek haal my hoed af vir paramedics en dokters want ek weet nie hoe hulle dit doen nie. Op stel is dit makliker wanneer jy die plastiekemmer sien waarin die bloed kom en jy sien hoe hulle dit maak. Dis soos ’n resep – bietjie van dit en bietjie van dat – en dit vat van die gril weg.

Sal jy graag meer dramatiese rolle wil speel? Wat is die rol waarvoor jy jou oogtande sal gee?
Ja, ek wil. Dit is lekker om sulke rolle te speel en niemand wil tog hê hulle loopbaan moet eentonig raak nie. Net soos akteurs wat meer komiese rolle speel meer dramatiese rolle wil speel, is daar ook akteurs wat dramatiese rolle speel wat meer komiese rolle wil speel. Almal soek ’n balans. ’n Rol waarvoor ek my oogtande sal gee, is om Freddie Mercury te speel. Ek love hom, maar Rami Malik het hom so goed gespeel in Bohemian Rhapsody. Ek het nog altyd gedink ek kan soos Freddie lyk, maar ek het nog nooit die fake tande gehad nie. Dan ook The Joker in Batman. Dis daardie menslikheid, om ’n karakter te speel wat bietjie crazy en twisted is, maar te wys dat jy amper jammer vir hulle kan voel. Dat daar aar is ’n rede is hoekom hy is wie hy is en dat hy nie net ’n baddy is nie.

Hierdie is die finale seisoen van Hotel. Was dit moeilik om Danny te groet?
Met die maak van hierdie hele seisoen het mense so nou en dan in trane uitgebars. Dit het gekom in sulke fases. Dan is dit die laaste keer in die kombuis, dan is dit die laaste skote by die fontein, laaste tonele in die kroeg. Ek het geweet die damwal gaan breek wanneer ons klaarmaak en toe ons daardie laaste toneel skiet en Bennie (Fourie) roep al die akteurs en crew bymekaar en begin sy speech, toe breek my damwal.

Dit was nie net moeilik om vir Danny te groet nie, maar ook die hele span. Ek onthou nog die oproep van Bennie in 2015. Ek het nog nooit van hom gehoor nie en hier bel hy my om te sê hulle doen ’n show vir kykNET en sal ek ’n oudisie doen. Ek was so half, ag OK, en was nie moerse opgewonde nie, maar toe kry ek die teks en besef hoe snaaks dit is. Sewe jaar later werk ek en Bennie nie net gereeld saam nie, hy is ook een van my beste vriende.

Hoekom is komedie so moeilik? Oftewel: Hoekom is dit so moeilik om vir almal snaaks te wees?
Dit kom daarop neer dat mense baie meer saam stem oor wat hartseer is as wat snaaks is. Met ander woorde: die familiehond sterf en almal dink dit is hartseer, maar iemand gly op ’n piesangskil en een groep dink dit is glad nie snaaks nie en die ander groep dink dis skreeusnaaks. Daar is soveel uiteenlopende genres wanneer dit by komedie kom. Donker komedie, slap stick, skurwe komedie, droë komedie ... Mens kan nooit almal op een slag gelukkig hou nie.

Is daar enige verrassings op pad?
Ja, ek is swanger. Nee, grappie! Ek dink ek word net so verras soos mense wat my op Instagram en Facebook volg. Hierdie is nie Hollywood waar projekte jare vooruit beplan word nie. Ek bedoel dit nie negatief nie, dit is net hoe dit hier werk. So om die vraag te beantwoord: Nee, maar daar is die hele tyd goed wat gebeur.

Wat is jou hoop vir 2022?
Wat ons almal hoop – dat die beperkinge gelig word en ons kan teruggaan na normaal.

Skakel elke Sondagaand om 20:00 in vir Die Byl