Logo
Slim Billboard Desktop 1600x160
web uni tv guide

Die Uitnodiging

144RealityPG13

Die Uitnodiging help weer verhoudings herstel

Nuus
22 Junie 2021
Die Uitnodiging begin op Donderdag 22 Julie om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. kykNET&kie-kykers kan ook vanaf Woensdag 27 Julie 20:00 inskakel vir episodes.
Die Uitnodiging Homepage Billboard 1600x800

Verhoudings is kompleks en mense maak foute. Só sê Cato Bekker, aanbieder van Die Uitnodiging wat in Julie ’n terugkeer maak vir nog ’n seisoen.

“Dit is wat ek uit die eerste seisoen geleer het,” sê sy. “Niemand is so perfek om nooit te flater nie. Elkeen van ons gaan êrens in sy sy lewe ’n blaps maak wat ’n verskoning verg.

“Komplekse emosies kom in spel wanneer ons iemand se gevoelens seermaak. Almal het verskillende verwysingsraamwerke. Soms dink ons dat ons reg is, of minstens meer reg as die ander ou. Dan kom die moeilikheid. Albei partye ooruig hulself dat hulle reg is en dan wil niemand verskoning vra nie. Daar’s egter iets spesiaal wat gebeur wanneer iemand vir ’n ander jammer sê. Dis dalk moeilik, maar die moeite werd.”

Cato sê die inskrywings wat hulle vir die tweede seisoen gekry het, het ’n dringerder toon gehad. “Ons het die afgelope tyd besef die lewe is kort en niemand weet wat môre gaan gebeur nie. In die eerste reeks was ons ’n onbekende program. Nou, met die verfilming van die tweede reeks, vertrou deelnemers ons meer. Miskien het ons ’n kans om nog dieper in die verhale van ons deelnemers te delf.”

Elkeen van die programme in die nuwe reeks het oomblikke wat haar altyd sal bybly.

“Elke verhouding wat herstel word, is uniek. Van ’n ma en dogter-verhouding tot ’n lankverlore vriendskap wat gepaneelklop word. En dan daardie oomblik waar ons wonder: Gaan iemand opdaag of nie? Hoeveel mense sit vanaand aan tafel - indien enige?”

As sy moet kies tussen mense help en diere help, wat sal sy kies?

“Goeie vraag! Ek het ongelooflike mense in my lewe. Party voel soos sonskyn vir jou siel. Mense wat my uitdaag, my troos en my tyd hier op aarde inkleur met hulle kwinkslae, wysheid en hulle omgee. Vir hulle is ek oneindig lief. Maar diere - honde, katte, wilde diere - is ook na aan my hart. Jammer, ek kan nie kies nie!”

Die Uitnodiging begin op Donderdag 22 Julie om 21:00 op kykNET, DStv-kanaal 144. kykNET&kie-kykers kan ook vanaf Woensdag 27 Julie 20:00 inskakel vir episodes.