Logo
MMF

Die spiertiere verlaat die Maak My Famous-kompetisie

Nuus
21 September 2020
Die Maak My Famous TOP 4 is Saterdagaand aangekondig waar Nicoleen Saal, DfeatSA, Daylin Sass en Reggie B almal deurgedring het na die finaal.
Article Image Die Wessos

Die deelnemers het elk vyf minute gekry om ’n mini-konsert te hou. Daylin Sass was eerste aan die beurt met Jimmy Nevis se 7764, Anna Davel se Die Song Wil My Nie Los Nie, en Barbara Streisand se Somewhere.

DfeatSA het sy emosionele optrede begin met danspassies op die maat van Bishop Briggs se River en daarna op Major. se Why I Love You. Hy het afgesluit met ’n gedig wat hy self geskryf het en daar was nie ’n enkele droë oog in die gehoor nie.

Reggie B het weer die gehoor op hulle voete gehad met oorspronklike liedjies. Eers het hy vir die eerste keer gewys hy kan ook sing! Hy het begin met Die Wêreld Is Groot en toe Minute vir jou en Sien Die Man.

Nicoleen Saal het Nádine se Jy Soen My Nie Meer Nie aangedurf en toe Jennifer Hudson se One Night Only. Daarna het sy uitgehaal en gewys met een van Beyoncé se liedjies, End Of Time.

Dit was ongelukkig Die Wesso’s se beurt om die kompetisie te verlaat, maar hulle is reg vir wat voorlê!

“Ons wil so gou as moontlik ons musiek daarbuite kry en ons gospelmusiek op ’n nuwe vlak kry. Ons is nou tans besig om al die songs reg te kry vir om te record,” sê Manny Wesso.

Hy sê een van die grootste lesse wat hulle geleer het, is dat jou musiekreis nooit eindig nie, tensy jy opgee. “Jy moet altyd reg wees om te deliver en jou alles te gee,” voeg hy by.

Dit is ’n week voor die finaal en die talente maak almal reg om kykers vir die laaste keer te vermaak.

Jy kan nou al vir jou TOP 2 stem deur op die skakel te kliek. Stemme sluit Donderdag, 24 September 2020 om 22:00.

Die regstreekse finalé word Saterdag om 20:00 op kykNET, DStv-kanaal 144, en kykNET & kie, DStv-kanaal 145, uitgesaai.