Logo

Die smaak van saffraan tref diep – Storiefilm

Nuus
12 Maart 2021
Sondagaand se Storiefilm, Die smaak van saffraan, is ‘n emosioneel belaaide drama met ‘n sterk rolverdeling – wat die oulike Golden Retriever, Flirt, insluit.
BB

Nadat hy sy vrou en dogter in ‘n plaasaanval verloor het, dwaal ‘n boer, Rudi van Rooyen, deur sy lewe, verloor sy geloof en skryf hy sy vriende af. ‘n Jong predikant, Riaan Gericke, pleit by Rudi om by ‘n ondersteuningsgroep aan te sluit aangesien ‘n vrou, Kimberley Adams, ‘n soorgelyke trauma ervaar het ná sy haar man en seun in ‘n kaping verloor het.

In die rolverdeling is Viljé Maritz, Monique Rockman, Gustav Gerdener, Magda Beukes en John-Henry Opperman. Die regisseur is Sallas de Jager wat ook die draaiboek geskryf het. Dit is op ‘n verhaal deur die digter Johan van der Walt gegrond.

“Die fliek is geskiet op die plaas Rustig aan die voet van die pragtige Magaliesberge,” sê Francois Nolte, die vervaardiger. “Ons het oudisies gedoen vir die rolle, maar ek het altyd geweet ek wil vir Viljé in die rol van Rudi hê. Hy is ‘n baie goeie akteur en as iemand hierdie rol kon speel, dan is dit hy.

“Monique, wat Kimberley speel, het haar al oor en oor bewys en ek onthou nog op stel hoe Sallas na my toe gekom het en droogweg, soos net hy kan, gesê het: ‘Sy is die real deal’. Ek is trots op die eindproduk en elke akteur het hulle goed van hulle taak gekwyt.”

Flirt, die Golden Retriever wat beslis harte gaan steel, was al in ‘n heel paar TV-advertensies te sien. Is dit waar dat mens nie met diere of kinders moet werk nie?

“Ja, dis seker waar, maar in hierdie geval was dit net ‘n plesier,” sê Francois. “Ons het Flirt, wat die rol van Chester speel, by ‘n agentskap gekry. Natuurlik is daar uitdagings as jy teen tyd werk, maar as die produksiespan weet wat hulle doen, dan maak hulle seker dat alles werk. As ek nou na die film kyk, kan ek nie dink ‘n ander hond sou werk nie.”

“Die fliek is in vier dae geskiet,” sê Viljé. “Ons het doelgerig gewerk, twaalf ure ‘n dag. Maar Sallas het dit makliker gemaak omdat hy weet wat dit is om voor én agter die kameras te werk. En ons was almal, van die spelers tot die tegniese span, baie goed voorbereid. Die onderwerpe wat die fliek aanraak, is wat op ons plase en in ons stede aangaan. Ek het myself in die skoene probeer plaas van iemand wat deur dieselfde is as wat Rudi is. So iets moet skade aan ‘n mens aanrig en ek het dit probeer weergee.”

Die feit dat hy onlangs pa geword het, het beslis ‘n impak op sy vertolking gehad, sê Viljé.

“Klein Albert was ‘n maand oud toe ons die fliek geskiet het. As akteurs is ons opgelei om met allerlei emosies te werk, maar die feit dat ek nou pa is, het ‘n groot verskil gemaak. Ek glo dit het ‘n volwassenheid na my spel gebring en ek hoop kykers sien dit raak.”

Wat hoop Francois kry kykers uit die fliek?

“Die mooi van die film lê vir my in die eenvoud. Almal van ons ervaar êrens in ons lewe verlies. Ons almal het seer ná verlies, maar daar is altyd hoop en daar is altyd ‘n nuwe hoofstuk wat weer liefde en geluk kan bring.”

“Hierdie fliek gaan oor twee mense wat hulle families verloor het en hoe hulle die seer ná die tyd verwerk,” sê Viljé. “Mans maak nie so maklik oop nie. Die hele ding van cowboys don’t cry. Maar almal van ons moet iemand vind waarmee jy jou emosies vertrou. Mens moenie jouself toemaak vir hulp nie en jou afsluit van wat die toekoms inhou nie.”

Die smaak van saffraan word Sondagaand 14 Maart om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.