Logo

Die sesde seisoen van Absa MegaBoere begin op 5 Oktober

Nuus
16 September 2020
Megaboere is terug!
Megaboere Billboard 2560x490

Nadat die gewilde program vir byna 2 jaar gerus het, begin Absa MegaBoere binnekort weer op kykNET. Tydens die afgelope 3 reekse het MegaBoere stadig maar seker ‘n klemverskuiwing gemaak van die groot ekonomie-van-skaal boere, na suksesvolle landbouers wat hul bydrae nie net in terme van wins en omset lewer nie, maar ook in terme van hul benadering tot boerdery.

Die vervaardigers van die reeks, Christelle Parrott en Wynand Dreyer van Khaki Produksies, sê die reeks handel steeds oor leierskap teen die agtergrond van boerdery. “Ons gee erkenning aan boere wat mega-bemagtigers is, of mega-bemarkers, of presteerders is in landboutegnologie, -wetenskap, -bemarking en so aan. Reeks 6 laat die lig meer op ‘n nuwe geslag boere val,“ sê Christelle, “jong, dinamiese ouens wat stadig maar seker die leisels oorneem”.

Vir die opnames het hulle benewens al die provinsies in Suid-Afrika, ook ‘n draai oorkant die Nyl in die noorde van Uganda gaan maak. “In vorige reekse het ons boere in ander SAOG-lande besoek, maar dis die eerste keer dat ons so ver reis.” vertel Wynand.  “Afrika sit oorgehaal om die vasteland en die wêreld van kos te voorsien en hulle is nie skaam om kundigheid elders te gaan soek nie. Finansiële instellings en regerings doen moeite om landbouers in staat te stel om te produseer.”

Die vervaardigers is dit eens dat die lekkerste deel van hierdie program is dat ‘n mens met innoveerders en kreatiewe sakemanne te doen kry. “Landbou is een van die min sektore wat staande gebly het in hierdie ekonomie.” sê Wynand. “As jy my vra wat ons boere in gemeen het, sal ek sê dat hulle hul plase op dieselfde manier sien as wat ‘n nyweraar sy fabrieksvloer sien – dat vervaardiging en verskaffing in alle opsigte doeltreffend en koste-effektief moet wees. Die emosie oor grond word na my mening  oorskadu deur die belangrikheid van produksie.”

Die aanbieder, Kabous Meiring vertel die stories van die boere op haar eie unieke en kenmerkende manier. In een van die episodes kom sy agter die kap van die byl van ‘n ooreenkoms tussen die Makgobastam en die agri-reus ZZ2, wat langer as ‘n dekade geneem het om uit te werk. “Dié transaksie is op vertroue gebou en eintlik niks meer as ‘n ruiltransaksie van kundigheid en vrugbare grond nie. Dis goed soos dié wat mens opgewonde maak.”

Kabous lê in die sesde reeks weer besoek af by Piet Karsten van Karsten Boerdery, een van die boere in die eerste reeks van MegaBoere. Hier vertel Piet Karsten se seun, Pieter, hoe ‘n bemagtigingtransaksie met die plaas se vroue inmekaarsteek. Op Barkly-wes aan die oewers van die Vaalrivier, gaan kyk Kabous watter invloed ‘n suksesvolle besigheid soos Wildeklawer op ‘n breë gemeenskap kan hê.

Absa Megaboere begin op 5 Oktober om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144).