Logo

Die rebellie van goeie mense

Nuus
17 Maart 2015
Suid-Afrikaners skuld die owerhede gesamentlik sowat R180 miljard skuld aan agterstallige dienstegelde en dies meer. Ons ontduik ons plig want ons glo nie meer ons sal uitgevang word nie, skryf Tim du Plessis.

Lanklaas was daar ’n berig wat so baie oor Suid-Afrika gesê het as Rapport se hoofberig die afgelope Sondag.  Die kruks daarvan is dat gewone Suid-Afrikaners die owerhede gesamentlik sowat R180 miljard skuld aan agterstallige dienstegelde, aan onbetaalde belastings, aan verkeersboetes wat  geïgnoreer word en in Gauteng, aan onbetaalde e-tol.

Om ’n idee te kry van die omvang van dié bedrag: dit is meer as die jaarlikse begroting van die polisie, die weermag, die howe en die gevangenisdiens saam. Rapport het nie die som gemaak nie, maar dis veilig om af te lei die verhoogde belastings en heffings in die afgelope begroting sou onnodig gewees het as die SA Inkomstediens alles of die meeste van die agterstallige belastingskuld kon invorder. Ons sou almal daarby gebaat het.

Die berig is veelseggend op twee vlakke: dit sê iets oor die waardes wat besig is om pos te vat onder gewone Suid-Afrikaners. En dan sê dit sommer ’n hele mondvol oor die aard en wese van die Suid-Afrikaanse staat, die regering, met ander woorde.

Dit staaf met kille syfers dat die vermoë van die staat om te doen wat hy veronderstel is om te doen, voortgaan om aan aan ’n wye front te verswak. Misdaad en persoonlike veiligheid is waar dit ons die hardste slaan. Dis ook waar ons die simptome van die verswakkende staat die vroegste reeds ervaar het.  Sluwe misdadigers was die eerstes wat raakgesien het die effektiwiteit van wetstoepassing gaan agteruit. Hulle het blitsvinnig daarop gekapitaliseer en nou betaal ons ten duurste. Dis nie geld en mannekrag wat die stryd teen misdaad pootjie nie. Ook nie rasse-ideologie nie.  Dis effektiwiteit, of die gebrek daaraan.

Die miljoene “wanbetalers” - die meeste van hulle doodgewone ordentlike mense -  wat oor die jare heen bygedra het tot die R180 miljard se skuld aan die staat stuur ’n belangrike sein aan die land se politieke leiers. Hulle sê ons ag ons nie meer so moreel verplig om, soos die Boek sê, aan die keiser te betaal wat die keiser toekom nie. Want ons sien met ons eie oë hoe verkwis die “keiser” ons swaar verdiende belastinggeld met korrupsie en wanadministrasie.

Ekonomiese swaarkry is een van die verklarings vir die nie-betaling van geld wat die staat toekom. Maar dis nie die belangrikste een nie. Daar was ’n tyd, nie solank gelede nie, toe selfs die armes geweet het hulle moet hul verpligtinge nakom, al duur dit hoe lank. Dit geld ook verpligtinge jeens die staat.

Sommige politieke leiers praat  graag van Suid-Afrika as ’n “ontwikkelende staat”. Dis waar die staat ’n leidende rol in die speel om ontwikkeling en ekonomiese groei te laat gebeur. Japan het dit suksesvol gedoen ná die Tweede Wêreldoorlog en later ook die sogenaamde Asiatiese Tiere. (Hong Kong, Singapoer, Suid-Korea en Taiwan.) Dis glad nie slegte rolmodelle om te hê nie, mits jy aanvaar dat hulle eerstens effektiewe state was voordat hulle ontwikkelende state was.

Die Nasionale Ontwikkelingsplan het in sy eerste weergawes die ietwat meer beskeie term “doeltreffende staat” (capable state) gebruik. Maar hoe kan jy Suid-Afrika ’n  capable state noem  as die staat nie eers die belastings, dienstegeld en tolgeld  kan invorder wat hom toekom nie? Vergeet dus van "ontwikkelende staat”. Kry ons eers om ’n bekwame staat te wees.

Vir ons, die landsburgers, brand die lig helder oranje as so baie mense dink dis maar in die haak om nie die reëls na te kom nie deur nie te betaal wat jy verskuldig is nie.  Om dit bruut te stel: dis ’n wet van die land dat jy nie mag moord pleeg nie. Dis ook ’n wet van die land dat jy belasting moet betaal. As jy redeneer dis in die haak om die wet oor belasting betaal te verbreek, dan is dit mos in beginsel in die haak ook om die wet oor moord te verontagsaam, of hoe?

Ja, dalk kán moord nie met belastingontduiking vergelyk word nie. Maar dan bly die probleem dat ons ’n bepaalde denkklimaat skep wanneer ons begin uitsonderings maak. Dié denkklimaat kan ’n wegholbrand ontketen met geen ander uiteinde as ’n verskroeide land nie.

Mense, ook wetsgehoorsames, móét weet daar is repurkussie as hulle die reëls minag. Die gevolge daarvan moet voelbaar en sigbaar wees. En daarmee word nie bedoel drakoniese, Middeleeuse strawwe nie, eerder die seker wete  dat jy uitgevang sal word as jy oortree. Dis nie die afwesigheid van die doodstraf wat mense laat moor nie, dis die wete, of die geloof, dat hulle nie gevang sal word nie.

Dieselfde geld vir die nie-betaling van jou skuld aan die staat. Ons ontduik ons plig want ons glo nie meer ons sal uitgevang word nie.  Maar alles begin by die herstel van die staat se vermoë om sy werk te doen.