Die dokumentêr, Onthou my, wat Sondag 19 Desember 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai word, fokus op Gerrie Kachelhoffer van Pretoria, wat vir die laaste vyf jaar elke oggend wakker met geen herinneringe aan wie hy is of waar hy is nie. Sy vrou, Yvonne, maak seker dat sy elke oggend voor hom wakker is om hom te help onthou.
Sy vertel hom dan die storie van sy lewe en stel hom weereens aan sy kinders (en sy laatlammetjie) voor. Gerrie kan niks onthou vandat hy op 'n werksdag, 20 Junie 2016, net verdwyn het nie. Die vermoede was dat sy motor gekaap is en hy aangerand is waarna hy langs die pad afgelaai is. Die dokters vermoed dat sy brein hom dalk teen trauma beskerm, maar watter trauma sou so iets veroorsaak?
In die dokumentêr, Onthou my, ontmoet ons die mense rondom Gerrie en spandeer 24 ure van sy lewe saam met hom. Daar is soveel vrae… Hoeveel kennis kan gedeel word tydens die verloop van ‘n dag? Wat moet gedeel word en hoe oorleef Gerrie en Yvonne se verhouding dit? Is daar hoop vorentoe?
Onthou my word Sondag 19 Desember 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.