Logo
Die Spreeus
web uni tv guide

Die Spreeus

144Riller16VL

Die perfekte ’bogeyman’ – Die Spreeus

Nuus
25 Junie 2019
Skrywer Tertius Kapp vertel meer.
Die Spreeus 12

Foto: ’n Oomblik vanuit episode twaalf

deur Tertius Kapp

Almal weet wie Antjie Somers is, maar ek het al gewonder wát hy is. ’n Spook, ’n bogeyman, ’n reeksmoordenaar? ’n Pedofiel?

Dis eintlik eenvoudig: “A mythical creature used by adults to frighten children into good behaviour. The Bogeyman has no specific appearance, and conceptions vary drastically by household and culture, but is commonly depicted as a masculine or androgynous monster that punishes children for misbehavior.”*

Met ander woorde: Antjie Somers is wat ook al nodig is om kinders bang en op hulle plek te hou. Maar om ’n storie te bou, was dit ook nodig om te weet wat hy wil hê. En nêrens kon ek uitvind wat hy met die kinders maak wat hy in ’n sak stop en ontvoer nie.

Ek het gaan kyk na wie hy was. Daar is ’n paar verskillende weergawes, wat almal terugloop na die eerste helfte van die 1800s. Die een is dat hy ’n visserman was wat per ongeluk ’n ander visserman doodgemaak het. Toe vermom hy homself as ’n vrou om van die kolonie se gesag te ontsnap. ’n Ander storie sê hy was ’n struikrower wat as vrou langs die pad wag vir sy slagoffers.

Die mees interessante een, vir my, is dat Andries ’n laksman was. Toe die Britte die Kaapkolonie oorneem (1795/1806), het hulle die misdade waarvoor die doodstraf opgelê word verminder. Daarom was minder laksmanne nodig. Andries is basies retrench.

Bankrot het hy in die berg gaan woon en uit wraak die stad se kinders begin ontvoer, soos die rottevanger van Hameln. Hierdie weergawe het ook die beste einde: ’n Paar jaar later knoop Andries/Antjie sy laaste galgtou – vir homsélf.

Deesdae kruip die kriminele op nuwe plekke weg. Een van die meer skrikwekkendes is die dark web – ’n wettelose deel van die internet wat agter wagwoorde en kodes versteek is. Daar is websites, soos “Silk Road 3”, waar alles van dwelms tot mense verkoop word, en selfs goed soos snuff reality shows. Sommige van die polisie se mees getraumatiseerde offisiere sit in die kuber-eenhede, omdat hulle die heeltyd met sulke goed moet werk.

Nog ’n stukkie navorsing het gegaan oor Bohemian Grove, waar ’n geheimsinnige ritueel al sedert die 1800s uitgevoer word, met politici en super-rykes wat hulle gewetens probeer verbrand. Maar ek het nie genoeg plek om daarop ook in te gaan nie!

Met ’n reeks soos hierdie is atmosfeer geweldig belangrik. Die meeste spanning word geskep nie deur wat jy kan sien nie, maar deur wat jy nié sien nie. Musiek en klank is alles – dit kan ’n onsigbare monster laat naby voel, al sien ons net ’n karakter se gesig. Hier het Pierre-Henri Wicomb se musiek en Tim Pringle se klankontwerp dit moontlik gemaak om met klein begrotings monsters te skep.

Paaseier vir die week: Die kykers wat Ru Paul’s Drag Race ken, herken sekerlik Wendy House se sêgoed: “Not today, Satan, sashay away!”

Shimabukuro, Karra (2014). The Bogeyman of Your Nightmares: Freddy Krueger's Folkloric Roots

Gebruik die hutsmerk #DieSpreeus op FacebookTwitter en InstagramKliek hier vir meer inligting.