Logo
Binnelanders Slim Homepage 1600x160
web uni tv guide

Binnelanders

144Drama13

Die liefdes van Melinda Brink – Binnelanders

Nuus
11 Augustus 2021
Binnelanders-kykers het die verskillende kante van Tracy se persoonlikheid met loop van tyd leer ken en as jy vir Melinda Brink vra of almal ‘n tweede kans verdien, is haar antwoord ja!
Tracy BB

Vertel ons meer van jouself. Waar kom jy vandaan en hoe het jy voor die kameras beland? 
Ek is 'n gebore Pretorianer, was in Laerskool Tygerpoort en Hoërskool Garsfontein. Ek het op skool al belangstelling in drama gehad en in skoolproduksies opgetree terwyl ek by Shareen Swart met drama-onderrig begin het. Daarna het ek voortgegaan by Shareen se dramaskool, the Performing Arts Lifestyle Institute, of PALI, en onder haar en Kaz McFadden se mentorskap in verskeie studenteproduksies opgetree. Dit het natuurlik gegroei na professionele teaterproduksies en toe uiteindelik 'n oudisie vir Binnelanders as Tracy en die res is geskiedenis.

Tracy het van haar eerste verskyning tot nou ’n verandering ondergaan. Glo jy aan tweede kanse en wat die beste tweede kans wat jy al in jou lewe gekry het? 
Ek glo beslis in tweede kanse en dat almal op een of ander stadium al 'n tweede kans nodig gehad het. As dit nie was vir tweede kanse nie, was ons almal alleen. Die huwelik is vol "tweede kanse" - soos mens foute maak, vergifnis vra, vergewe en aan goed werk om jou maat lief te hê in hulle taal. Dit is ook die mees belonende "tweede kans" wat ek al gekry en gegee het.

Jy het al teater gedoen. Wat is dit van teater wat jou aantrek? 
Teater is my eerste liefde. Dis waar ek leer speel het, geleer het om kanse te vat en hoe meer jy insit, hoe meer kry jy terug van jou gehoor. Dis rou kuns en so 'n eerlike, opregte vorm van toneelspel. Dit is 'n ongeveer uur-lange one-take voor 'n lewendige gehoor waar elke vertoning uniek is en jou hart behoorlik klop. Dis opwindend! 

Wat is jou gunsteling-sêding van Tracy? 
Ek is mal oor haar 'Ou snorre' sê-ding vir At Koster. Ha-ha!

Wat hoop jy gebeur in die toekoms met die karakter? 
Meer as 'n ontvangsdame. Ek hoop sy vind 'n onverwagse passie sodat sy nie net 'n werk het om geld te verdien nie, maar 'n loopbaan waar sy haar waarde leer ken en geniet wat sy doen.

As jy vyf woorde moet kies om vrouwees te beskryf, wat sal dit wees? 
Daar is so baie woorde waaraan ek dink. Maar dié wat vir my uitstaan is getrou, vreugdevol, meegevoel, positief en braaf.

Wie is die vyf vroue wat jou inspireer en hoekom? 
Dis vir my moeilik om net vyf te noem want daar's soveel vroue wat my inspireer.

• My mamma, Ansie Brink, want sy het ten spyte van alles wat bedoel was om haar onder te kry, gekies om sterker te word. Sy's nie bang vir hard werk nie en sy is by verre die vriendelikste "tannie" wat ek ken. Sy inspireer my om hard te werk ten spyte van of ek lus het of nie en om almal te behandel soos ek behandel wil word.

• My nuwe mamma - my skoonma, Mariette Viljoen. Sy inspireer my met haar aansteeklike liefde vir Jesus, haar behoefte vir Sy wil in hulle lewe en haar oortuiging van Sy goedheid en sy Vader-hart wat altyd vir ons veg. Sy kan my altyd met haar getuienis inspireer.

• Joyce Meyer. Haar YouTube-reeks Enjoying Everyday Life leer my elke dag om alles van die lewe te omhels, nie net die goeie tye nie maar om in slegte tye sterk te bly en groeipyne te verwelkom in plaas daarvan om dit te veg. 

• My niggie, Natalie van Zijl. Sy is altyd so positief. Niks kry haar onder nie, sy is 'n vrou vir haar man en ma vir haar kinders wat my inspireer omdat sy soveel gee en nooit terugverwag en kla nie. Sy is altyd vreugdevol en komplimenteer maklik en sonder ophou het sy diep, sacrificially lief. Sy dien mense soos Jesus gedien het.

• Toe ek laas jaar permanent by Binnelanders begin werk het, het een van my kollegas, Kara du Toit, se gesindheid en aanslag tot die lewe - the good, the bad and the ugly - my hart kom ruk, verander en inspireer. Haar vreugde en vrede in die middel van onseker omstandighede omdat sy weet wie in beheer is, is iets wat my altyd sal inspireer.

Watter vrou in die geskiedenis sal jy graag wil vertolk? 
Corrie Ten Boom. Wow, sy was 'n ongelooflike inspirerende vrou. Ek sal haar graag wil vertolk al is dit net om te voel hoe dit moes wees om ander mense aan te moedig om te vergewe nadat hulle sulke verskriklike goed aan haar gedoen het. (Corrie Ten Boom, ‘n Nederlander, en haar familie het tydens die Tweede Wêreldoorlog Joodse vlugtelinge gehelp. Daar word gereken hulle het ongeveer 800 lewens gered.)

Wat is die een ding wat jy die afgelope jaar geleer het? 
Om nie oor die toekoms te worry nie! Ek het geleer om my vrede te behou en as ek dit verloor, die nodige aanpassings te maak om dit terug te kry.

Jou man, Francois Viljoen, is ook ’n akteur. Praat julle baie oor werk wanneer julle by die huis is? 
Ons sal mekaar vertel van ons dag, as iets snaaks of interessant gebeur het. Ek geniet dit om hom te vertel wanneer ek iets nuuts geleer het, en hy my. Dis lekker dat ons albei presies weet wat die ander een bedoel en dan leer ons dit basies vir mekaar ook. Maar dis ook lekker om werk by die werk te los en oor ons baie ander eenderse belangstellings te praat. 

As jy president vir ’n maand kan wees, wat sal jy alles doen? 
Natuurlik is daar baie goed wat verander kan/moet word, maar iets wat baie na aan my hart is, is die oorvol plekke vir hawelose diere. Ten spyte daarvan hou mense aan om babadiertjies te koop. Ek sal dit 'n wet maak dat mense 'n permit moet hê om enigsins met diere te teel, en dit verniet/bekostigbaar maak vir alle mense om hulle diere te laat regmaak. Daar behoort ook 'n tipe aansoekproses te wees vir enigiemand wat 'n dier wil koop en te kyk of hulle in staat is om goed na die dier om te sien. Veels te veel mense wat nie na diere kan kyk nie kry net nog en nog diere wat almal weer in shelters beland. Dis 'n bose kringloop wat gesny moet word.

Gesels saam op Facebook, Twitter en Instagram en onthou om weeksaande om 19:30 in te skakel vir die jongste drama en intrige wat in die gange van Binnelanders uitspeel.