Logo

Die lied van liefde – Boer soek ’n vrou 12

Nuus
13 November 2019
Die boere het laasweek te lekker saam met Pedro Kruger musiek gemaak!
Pedro Kruger Artikel

As jy ’n ware Suid-Afrikaner is dan laat die woorde “Piano Man” jou nie dink aan Billy Joel nie – jy dink aan die formidabele Pedro Kruger. Na jare van spanleier wees op die gewilde Liriekeraai, het Pedro sy plek verdien as een van die Afrikaanse vermaak-legendes. Jy kan jou net indink hoe opgewonde die boere en pasmaats van die twaalfde seisoen van Boer soek ’n vrou was toe hulle besef dat Pedro by hulle sou kuier vir hulle groepaktiwiteite. Ons het presies soos hierdie deelnemers gevoel – ons kon nie help as om vir Pedro te vra om met ons agter die skerms te gesels nie.

Het jy jou tyd saam met die boere en hulle pasmaats geniet?

“Ek het dit vreeslik geniet. En omdat dit ’n verrassing vir hulle was, was dit nog groter uitdagend. Oorspronklik was hulle vreeslik senuweeagtig, maar later het ons vet pret gehad. Ons kon nog vir úre sing. Die uitdaging was so vars en anders. Veral vir ’n groep wat mekaar skaars ken. Nou moes hulle ook ’n liedjie skryf, met spesifieke woorde – iets wat bitter min mense doen – en snaaks wees en jou lawwe kant bring. En ook wys dat jy nie bang is om laf te wees nie, veral as daar klomp kameras rondom jou is.

Watter liedjie was jóú gunsteling van dié wat die boere en pasmaats geskryf het?

“Ek moet sê die Boer soek ’n rooibosteetjie liedjie wil nie uit my kop uit nie. Lekker lirieke en ’n baie “catchy” wysie. Ek dink iemand kan dit opneem en dit sal ’n groot treffer wees.”

Het jy ’n vonk tussen een van die boere en hulle pasmaats gesien?

“Dit was so interessant om hulle op die kantlyn dop te hou. Ek kan nie sê daar was ’n “spark” nie, maar ek kon dadelik agterkom by wie die boere meer aanklank vind – vir wie hulle lag en vir wie hulle glimlag. Ek kon ook sien wie se malligheid hulle geniet. Dit was ’n los en lawwe uitdaging, so die pasmaats moes maar bietjie buite die boks wees. Sommige het daarmee gesukkel, want van hulle kan nogal oorneem in die groep (haha).”

Het jy ’n gunsteling boer?

“’n Gunsteling boer is ’n onregverdige vraag, maar ek moet sê my sessie met Boer Graham en sy 5 meisies het ek baie geniet. Hy wat so maklik bloos en hulle wat “oooh en aaah” oor alles wat hy kwytraak. Dit was soos ’n hoërskool date. Hulle het juis so groot gegaan met Hey, jou lekker boer, kan ek vir jou loer. Maar élke boer was ’n groot bok vir sports. Kyk dan nou hoe lekker het Boer Willem gedans, alhoewel hy vrek-ongemaklik was.

Is musiek belangrik as dit by die liefde kom?

Enige liedjie kan jou hartsnare raak en die romanse in die rooi druk. Dis hoekom baie mense sal sê: “Dis die eerste liedjie waarop ons gedans het, die eerste liedjie waarop ons gevry het, die liedjie wat hy my gevra het om te trou.” Musiek kan ’n groot rol speel.

Wat is jou gunsteling liefdesliedjie?

Sjoe! Net een? Book of Love deur Peter Gabriel.

Gaan jy die hele seisoen van Boer soek ’n vrou kyk?

“Beslis! Ek kan nie wag om te sien wat uiteindelik gaan gebeur nie. Ek het hulle net vir daai 45-minute per sessie gesien en toe nie weer nie. Dit was alles in die geheim. Dit is maar werklikheid-TV. So ek het nou met my episode gesien wie nie plaas toe gaan, maar ek het tog maar my eie gunsteling pasmaat vir elke boer. So kom ons kyk en hoop liefde wen.”

Onthou om Donderdae om 20:00 in te skakel om verder deel te wees van die boere se onderkeie liefdes-reise. Gesels saam deur die hutsmerk #BoerSoeknVrou te gebruik op Facebook, Twitter en Instagram.