Logo

Die lekker van ’n leeskring – Met 'n huppel in die stap

Nuus
16 Januarie 2019
Lees meer.

Foto: Getty Images

Deur Eleine Roets 

By die onlangse gesamentlike leeskringbyeenkoms het lesers oor ’n koppie tee besin oor wat hulle leeskring vir hulle beteken. Daar was waardering vir leeskringgeleenthede wat ruimte gee vir intellektuele en sinvolle sosiale verkeer, vir blootstelling aan splinternuwe denkrigtings, aan die wyer wêreld van internasionaal gevierde skrywers en vir geestesverryking wat op vele vlakke plaasvind. Maar uit en uit was dit vriendskappe wat deur leeskringe gesmee word, daardie nuwe sielsgenote en leesgenote wat jy leer ken, wat loshande gewen het.

Op ’n soel somerdag in Oktober daag groepies mense op by die Moreletakerk-kompleks in die ooste van Pretoria. Dis ’n gesamentlike byeenkoms van die meer as 20 leeskringe van in en om Pretoria. Soos hulle instap, bring leeskringlede boeke wat aan biblioteke geskenk sal word.

Sommige van die leeskringe van Pretoria is net ’n paar jaar gelede gestig en ander bestaan al vir dekades. In 1912 het die Afrikaans-Hollandse Leesunie ontstaan wat onlangs eers, na 100 jaar, ontbind het. Die Mabel Malherbe-leeskring het in 1940 van hulle afgestig toe die ledetal 100 was en die waglys bladsye lank. En in daardie jare al het die twee takke ’n gesamentlike byeenkoms gehou! Tygerpoort, wat vanjaar die gesamentlike geleentheid onder leiding van Johan Talma aangebied het, bestaan al 23 jaar en in die Jakaranda- leeskring is van die stigterslede na 30 jaar steeds betrokke.

Lede van leeskringe besluit self watter boeke hulle sal lees – sommige groepe lees net Afrikaans, sommiges lees ook Engelse skrywers en vertalings van goeie internasionale literatuur. Party leeskringe vra altyd ’n kenner om ’n boek te kom bespreek, terwyl sommige lede self ’n skrywer en boek bestudeer en dan ’n bespreking daaroor lei. Menige leeskringlid kan getuig van ’n nuwe wêreld wat so vir hulle oopgaan. As die aantal lede, die aantal jare en die aantal boeke bereken word, beteken dit ’n groot inspuiting vir die uitgewerswese in Suid-Afrika.

Met die ontstaan van soveel leeskringe in en om Pretoria en die gerief van e-pos, is daar mettertyd iemand gekies om die leeskringe met mekaar in kontak te bring en in te lig oor ‘boekdinge’. ’n Kontakpersoon uit elke groep is aangewys, leeslyste en datums word uitgeruil en ’n gereelde jaarlikse byeenkoms, beurtelings deur die leeskringe aangebied, het ’n tradisie geword. Bekende sprekers by die geleenthede was skrywers soos Audrey Blignault (in haar kenmerkende rooi rok) en meer onlangs, ’n vrolike Riana Scheepers, Antjie Krog, Chanette Paul, Dominque Botha, Etienne van Heerden en, vanjaar, die gewilde skrywer van boeiende spanningsverhale, Deon Meyer.

In sy gesprek met Etienne Bloemhof, uitgewer van sy nuwe boek, Prooi, het Deon ’n lusmakertjie voorgelees uit die boek en onderhoudend vertel van die ontstaan van sy bekende karakter, Bennie Griessel, die opgevoeterde speurder. Hy het gebieg dat hy verknog is aan die stad Bordeaux in Frankryk en dat hy treine fassinerend vind. Hy het onderhoudend oor die skryfproses vertel, dat hy films en TV-reekse skep en dikwels oorsee reis om sy menige vertaalde speurromans bekend te stel.

Deon het ook vertel van sy liefde vir die Karoo en sy medewerking met Coenie de Villiers wat hierdie passie deel. Hulle het saam ’n meesleurende musiek- en liriekprogram, KarooSuite, geskep en dit ook tot ’n aanskoulike glansboek met dieselfde titel verwerk.

Die program by vanjaar se gesamentlike leeskringbyeenkoms het die sang van Linette van der Merwe en Chris Mostert ingesluit, Monica Hammes het oor die geskiedenis van leeskringe gesels en Erika Theron het die volgende gesamentlike byeenkoms aangekondig.

Toe was daar ’n heerlike onthaal waar Deon Prooi vir lesers geteken het en leesvriende hegter bande gesmee het. 

In die nuwe seisoen van Met ’n huppel in die stap ondersoek ons dié onderwerp verder. Kliek hier en vind uit hoe om ’n leeskultuur te behou. 

Skakel Woensdae om 18:00 in op DStv-kanaal 144 vir Met ’n huppel in die stap. Gesels saam op FacebookTwitter en Instagram met die hutsmerk #HuppelStap​.